Khashoggi: Swakste toesmeerdery nu00f3g, su00ea Trump
Khashoggi: Swakste toesmeerdery nu00f3g, su00ea Trump

Khashoggi: Swakste toesmeerdery nóg, sê Trump

Sommige Amerikaanse wetgewers vermoed die kroonprins het die opdrag vir die moord gegee.
Die rits gebeure rakende die moord op die joernalis Jamal Khashoggi is die “treurigste toesmeerdery” tot nog toe, sê pres. Donald Trump.

“Die toesmeerdery is een van die swakstes in die geskiedenis van toesmeerdery,” sê Trump. “Dis baie eenvoudig.”

Hy sê die sage is ’n algehele fiasko, berig CNN.

Diegene wat verantwoordelik is vir die moord in die Saoedi-konsulaat in Istanboel, Turkye, “behoort in baie groot moeilikheid te wees,” het Trump volgens die BBC gesê.

Dit volg op Saoedi-Arabië se reaksie op die dood van Khashoggi en dui op toenemende frustrasie oor die diplomatieke krisis wat Trump se oogmerke oor buitelandse beleid in die soeklig plaas.

. . . dit was ’n swak oorspronklike konsep, dit is sleg uitgevoer en die toesmeerdery daarna was die swakste in die geskiedenis van toesmeerdery

Kort ná Trump se uitlatings het Mike Pompeo, Amerikaanse minister van buitelandse sake, gesê hulle sal die verantwoordelikes “straf” en die visums van 21 Saoedi’s teruggetrek wat as verdagtes geïdentifiseer is, berig Reuters.

‘POLITIEKE MOORD’

Die Saoedi-regering sê afvallige agente het Khashoggi vermoor, maar volgens pres. Tayyip Erdogan van Turkye was die joernalis die slagoffer van ’n goed beplande “politieke moord” gepleeg deur intelligensiebeamptes en ander amptenare.

Die Saoedi’s het met teenstrydige weergawes van die gebeure vorendag gekom. Ná weke waarin hulle hoog en laag gesweer het dat hy nog lewe, het senior amptenare later gesê die 59-jarige joernalis van The Washington Post is in ’n onwettige optrede vermoor nadat hy by die Saoedi-konsulaat in Istanboel was.

Trump het by die Withuis gesê “dit was ’n swak oorspronklike konsep, dit is sleg uitgevoer en die toesmeerdery daarna was die swakste in die geskiedenis van toesmeerdery”.

Volgens die president is intelligensiebeamptes vanaf Saoedi-Arabië en Turkye onderweg na Amerika om die jongste inligting oor die gebeure te bespreek.

BOIKOT

Ondanks ’n boikot oor die dood van die joernalis Jamal Khashoggi, het Saoedi-Arabië se kroonprins ’n konferensie gehou waar miljarde dollars se beleggingsake beklink is.

Vanjaar se Future Investment Initiative is oorskadu deur die dood van Khashoggi, wat ’n kritikus van Mohammad bin Salman, die Saoedi-Arabiese kroonprins, was.

Die Saoediese kabinet het Dinsdag, ná ’n vergadering wat deur koning Salman gelei is, belowe om die mense wat verantwoordelik is vir Khashoggi se dood en dié wat “in hul pligte gefaal het”, verantwoordbaar te hou.

Die joernalis se dood het baie spanning tussen die land en die Weste veroorsaak.

Sommige Amerikaanse wetgewers vermoed die kroonprins het die opdrag vir die moord gegee. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer