Khaudum kry nu00f3g wild
Khaudum kry nu00f3g wild

Khaudum kry nóg wild

Duitsland het sowat N$400 miljoen (€30 milljoen) vir die ontwikkeling en bestuur van Namibië se nasionale parke bewillig.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Altesaam 200 impalas, 50 blouwildebeeste en 50 elande is na die Khaudum Nasionale Park en drie omliggende bewaringsgebiede verskuif.

Die impalas is pas in die Khaudum vrygelaat en die blouwildebeeste en elande volg binnekort in hul voetspore. Sommige van die impalas kom van die Von Bachdam wat oorbevolk was en die res van kom private wildplase. Die elande en blouwildebeeste is afkomstig van die Waterberg Platopark wat oor surplus bevolkings beskik.

Die inisiatief is deur die regerings van Duitsland en Namibië gefinansier vir doeleindes van natuurbewaring en ontwikkeling in noordoostelike Namibië, volgens ''n mediaverklaring van die Duitse ambassade.



VOORDELE

Aangrensend tot Khau­dum is die kommunale bewaringsgebiede van Nyae Nyae, George Mukoya en Muduva Nyangana. Die diere sal vry tussen die park en die bewaringsgebiede kan beweeg en voordele vir natuurbewaring en biodiversiteit, en plaas­like gemeenskappe en toerisme inhou.

“Wildbevolkings in die Khaudum, asook in kommunale bewaringsgebiede in die streke van Kavango-Oos en die oostelike Otjozondjupa, sal verbeter. Ekostelsels sal herstel word met die herinstelling van plaaslik uitgestorwe spesies.”

Volgens die verklaring sal die lewensbestaan van die gemeenskappe in die bewaringsgebiede verbeter deur middel van die volhoubare gebruik van wild. Hulle sal dus ''n groter verskeidenheid spesies vir toerisme en trofeejag kan aanbied. Die ervaring van toeriste in die Khaudum sal ook verbeter, want daar is meer spesies om te sien en te fotografeer.

“Mens-dier-konflik sal ook verminder, want daar is nou meer spesies vir roofdiere soos leeus, luiperds, jagluiperds en hiënas as prooi. Die hoop is dat roofdiere se jag op vee op naburige plase sal afneem.”

Volgens die verklaring is die pogings van Namibies-Duitse samewerking om Namibië se vier noordoostelike parke – Khaudum, Bwabwata, Mudumu en Nkasa Rupara – te ontwikkel, besig om vrugte vir beter parkbestuur af te werp.

“Dit het positiewe gevolge op wildgetalle en die ervaring van besoekers, wat weer aansienlike voordele vir die streek in die algemeen en veral vir plaaslike gemeenskappe inhou.”

Toerismekonsessies en jagprojekte in die noordooste bring ''n inkomste van meer as N$17,5 miljoen vir plaaslike gemeenskappe in.

“Hierdie parke is ''n uitstekende voorbeeld van die benadering van geïntegreerde parkbestuur tot natuurbewaring. Die ministerie van die omgewing en toerisme bestuur die parke as oop stelsels met die deelname van naburige en inwonende gemeenskappe en ander rolspelers,” lui die verklaring.



KAZA

Die vier nasionale parke in noordoostelike Namibië is die hart van die Kavango-Zambezi-oorgrensgebied (Kaza) wat ''n totale oppervlak van 52 miljoen hektaar beslaan met uitstekende aanloklikhede en onontginde toerismepotensiaal.

“Namibië met sy suksesvolle ervaring in volhoubare en gemeen­skapsgegronde natuurlike hulpbronbestuur, speel ''n groot rol in Kaza wat buurlande Angola, Botswa­na, Zambië en Zimbabwe insluit,” volgens die verklaring.

Die Duitse ontwikkelingsbank KfW voorsien namens die Duitse regering steun aan die ontwikkeling van Namibië se nasionale parke. Die ministerie se nasionale parkeprogram, NamParks, bevorder sedert 1995 natuurbewaring en sosioëkonomiese ontwikkeling in die Kavango- en Zambezistreek.

Duitsland het sowat N$400 miljoen (€30 ­milljoen) vir die ontwikkeling en bestuur van Namibië se nasionale parke ­bewillig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!