Khomasstreek oor grondeienaarskap
Geformuleerde resolusies sluit in dat voorvaderlike grondeise gemagtig moet word en dat buitelanders nie meer grond kan besit nie.
Elvira Hattingh - “Buitelanders se plase moet outomaties onteien word en boere moet tot 50% eienaarskap van hul plase aan plaaswerkers afstaan ten einde grondhervorming te bevorder.”
Dit was enkele van die voorstelle gister deur die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) se leier, mnr. Job Amupanda, tydens ‘n konsultasie-geleentheid vir die Khomasstreek in Windhoek.
Grondkonsultasies word sedert gister landswyd as deel van die aanloop tot Oktobermaand se Nasionale Grondkonferensie gevoer.
Tydens die opening van die konsultasie vir die Khomasstreek het die goewerneur van die Khomasstreek, me. Laura McLeod-Katjirua, gesê landswye streekkonsultasies sal tot 27 Julie voortduur, waarna insette van alle streke in ‘n finale dokument vervat sal word, wat na die nasionale konferensie moet gaan.
KHOMAS SE BESLUITE
Tydens vorige konsultasies in die Khomasstreek, is daar reeds op 24 resolusies besluit wat aan die nasionale konferensie voorgelê moet word.
Dit sluit in dat die toelating van grondeise op grond van voorvaderlike regte heroorweeg moet word, dat buitelanders nie meer grond moet kan besit nie, maar dit slegs moet kan huur en dat die grond van afwesige eienaars onteien moet word.
Ander resolusies vra dat die veterinêre kordonheining so gou as moontlik verwyder moet word, sonder dat Namibië se toegang tot internasionale markte in die gedrang kom, dat onwettige draadheinings verwyder moet word en dat kommersiële boere nie toegang tot weiding in kommunale gebiede toegelaat moet word nie.
Gemeenskapslede het gister in Windhoek gesê die regering moet ernstige oorweging aan grondonteiening sonder vergoeding skenk omdat die beginsel van ‘n gewillige koper en verkoper nie werk nie.
Amupanda het gewys op ‘n ernstige tekortkoming in die Khomasstreek se resolusies deurdat stedelike grond min, indien enige, aandag geniet.
STEDELIKE GROND
“Volgens die regering se vooruitskatting, sal Windhoek se bevolking teen 2041 met 500 000 mense toegeneem het. Tans woon 300 000 mense in Windhoek. Ons het nie daarin geslaag om die probleme van stedelike grondbesit in Khomas se resolusies te konseptualiseer nie.”
Die AR het dokumentasie ingedien wat voorstelle bevat van hoe die Khomasstreek se resolusies verbeter kan word voordat dit na die Nasionale Grondkonferensie gaan.
Amupanda het gesê jongmense word reeds vir vier tot vyf jaar lank van grondgrype in stedelike gebiede weerhou en moet aanhou om buitensporige huurgeld te betaal – wat ‘n gevaarlike situasie is. Hy sê as tariewe vir onder meer taxi’s vasgestel kan word, kan dit vir huise en landbougrond ook gedoen word.
Amupanda het verder gesê die 1991 Nasionale Grondkonferensie was ontwerp om te faal en beweer dat die regering onbevoeg is om grondhervorming te takel.
“Die regering beweer die hof het hul pogings vir onteiening tot dusver gekeer. Die hof het dit slegs teengestaan omdat die regte onteieningsprosedures nie gevolg is nie,” het hy gesê.
Konsultasies in Windhoek duur vandag voort.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie