‘Khorixas vrot’

Tanja Bause
Tanja Bause – Volgens ontstoke inwoners van Khorixas vloei rioolwater nou al jare lank deur een van die dorp se woonbuurte.

“Ek het al so baie oproepe na die dorpsraad gemaak dat ek ophou tel het. Hulle sê dit is die ministerie van werke en vervoer se probleem. Die ministerie sê dit is die dorpsraad se verantwoordelikheid – en só doen niemand iets nie,” sê ’n inwoner.

Volgens die dorp se uitvoerende hoof, mnr. Andreas Howoseb, is die ministerie van werke en vervoer vir rioolkwessies binne die staatshospitaal se grense verantwoordelik, en die dorpsraad vir kwessies buite die hospitaal se grense.

“Die riool loop nou al die afgelope sewe jaar ’n paar meter van my huis in die straat af. Dit vrot hier op Khorixas. Weens die stank kan ons nie eens ons vensters oopmaak nie. Al hou ons die vensters toe, dring die stank die huis deur elke kraak binne. Ons kan nie ons etes geniet nie. Die riool is onhigiënies, die diere en kinders loop daardeur en niks kom van ons klagtes nie,” sê die inwoner.

“Die rioolkwessie het twee oorsake. Die rioolpype in die gebied is baie oud en moet vervang word. Die tweede probleem lê by die gemeenskap. Hulle steel die deksels van die mangate af en gooi allerhande goed daarin, wat verstoppings veroorsaak. Hulle verkoop die deksels vir skroot. Ons het al klippe, klere en allerhande rommel uit die gate gehaal,” sê Howoseb.

Volgens die inwoner het die werkers wat soms opdaag om die verstopte pype skoon te maak, nie die nodige toerusting nie.

“Hulle leen ’n hark of ’n skoffel by my en hark die boonste goed van die mangate af. Hulle los dit dan net daar langs die mangat en waai weer. Dít is hoe hulle die verstoppings kamma skoonmaak.”

Volgens hom word die dreine en mangate in die “elite”-woonbuurte wel skoongemaak en skoongehou.

“Dit is net hier in ons gewone mense se woonbuurte wat dit so gaan. Ek kan nie verstaan hoe hulle dit nie by ons kan skoonmaak nie, maar in ander woonbuurte op dieselfde dorp kan hulle goeie diens lewer en hul werk reg doen?”

Volgens ’n ander inwoner loop die ooste van Khorixas veral deur.

“Die riool loop by die hospitaal uit, in die straat af deur die woongebied en verder die dorp in. Die mangate in die omliggende veld en in die rivier loop ook oor. As ’n besoeker dit sien, sal hy nie glo dit is riool nie, maar dink dit is ’n fontein,” sê ’n ander inwoner.

Dieselfde inwoner sê ná hy met Howoseb gepraat het, is die mangat by sy huis skoongemaak.

“Ek weet nie wat hulle gedoen het nie, maar hulle het dit sowat ’n maand gelede skoongemaak en dit het sedertdien nog nie weer verstop geraak of oorgeloop nie. Maar aan die ander mangate en verstoppings is nog niks gedoen nie en die riool loop steeds uit,” sê hy.

“Ons tegniese span is juis tans besig om ’n stuk van die rioolpyp agter die Welwitschia-skool te vervang. Hulle het ’n gat van omtrent ses meter diep gegrou en moet nou ’n stuk pyp uitsny en vervang omdat dit die heeltyd verstop raak,” sê Howoseb.

Volgens hom is daar ook talle mense op die dorp wat diere onwettig aanhou.

“Hulle verstop die mangate met klippe sodat die water kan uitloop en hul diere water het om te drink. Ons het baie uitdagings, maar ons doen wat ons kan,” sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!