Kia se personeel presteer
Kia se personeel presteer

Kia se personeel presteer

Gerine Hoff
Deon Eysele – Die motorhandel in Namibië gaan deur 'n moeilike periode wat uitsonderlike uitdagings aan verkoopspersoneel en handelaarskappe stel.
Ten spyte daarvan is die verkoopsbestuurder van Kia Windhoek, mnr. J.F. van Eeden, tydens 'n gala-geleentheid van Kia by Montecasino in Johannesburg, as een van die top drie verkoopsbestuurders in suidelike Afrika vir 2015 aangewys. Een van die verkoopsmanne van Kia se handelaarskap in Windhoek, mnr. Marko Alves, is by dieselfde geleentheid as een van die top drie beste verkopers aangewys vir die aantal voertuie wat hy van die hand gesit het.
“Hoewel ons ingesteldheid altyd gefokus is om net die beste te doen, was die toekennings wat ons gekry het vir ons 'n groot verrassing,” het Van Eeden gesê toe ons hom oor die toekennings pols.
“Die produkte wat ons aanbied, is van hoogstaande gehalte en die kortings wat ons op voertuigpryse kan beding, is maar by alle ander handelaars van Kia dieselfde. Die verskil wat gemaak word, glo ek, is die wyse waarop kliënte diens by verkoopspersoneel kry. Ek is seker ons strewe om kopers altyd by ons tuis te laat voel en die kooptransaksie vir hulle spesiaal te maak, is 'n groot deel van ons suksesresep,” het hy verduidelik.
Van Eeden reken die feit dat in die geledere van sy verkoopspan hulle 'n heel paar inheemse tale magtig is en 'n groot deel van kliënte in hul moedertaal kan help, speel ook 'n groot rol dat verkooptransaksies deurgevoer word. Alves, wat die derde meeste voertuie in 2015 verkoop het, is onder meer Portugees magtig wat hom gesog maak om Angolese kliënte te help – selfs ook by die onderdele-afdeling.


Voortreflikheid
Republikein het in Februarie berig oor die internasionale toekenning wat Kia Motors in Windhoek gekry het vir voortreflikheid.
Van Eeden en sy span verkoopspersoneel het dié toekenning gekry, wat deur die uitvoerende vise-president en hoof van die internasionale sake-afdeling van die Kia Motorkorporasie in Korea, mnr. Tae Hyun Oh, toegeken is, vir uitstaande kliëntetevredenheid wat deel vorm van Kia se wêreldwye standaard vir handelaars.
Die besturende direkteur van Associated Motor Holdings (AMH) in Windhoek waarvan Kia 'n onderafdeling is, mnr. Willie Verdoes, sê hy is baie trots op Van Eeden en sy span wat letterlik uit hul pad gaan om die spreekwoordelike ekstra myl vir kliënte te loop.
Volgens hom is die Koreaanse vervaardiger uiters krities en daarom is die toekenning wat Kia gekry het 'n groot verrassing. Saam met die verkoopstoekennings wat hulle nou gekry het, bevestig dit net die gehalte van diens en absolute spanwerk onder Van Eeden se leiding.
“Ek is so bly dat die Kia-span nou uiteindelik die erkenning kry wat hulle verdien. Hulle was in die verlede al so na aan 'n deurbraak en nou het hulle dit gekry,” het Verdoes gesê.


Toekoms
Verdoes en Van Eeden stem saam dat met politieke verwikkelinge in Suid-Afrika en die invloed wat dit op die ekonomie gaan hê, lê daar nog 'n moeilike tyd vir die motorhandel voor. Wat hulle egter opgewonde maak, is dat die gewilde Kia Sportage binnekort met 'n nuwe model vervang gaan word, 'n nuwe kleiner SUV by die Sportage-reeks ingesluit gaan word en dat Kia heel moontlik ook in die afsienbare tyd 'n bakkie te koop sal hê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!