Kiddie Sport se jaar afgesluit
Kiddie Sport se jaar afgesluit

Kiddie Sport se jaar afgesluit

Balsporte
Andrew Poolman
Die jaarlikse Kiddie Sport vertonings word Vrydag en Saterdag by Wanderers sportklub in Pionierspark se binnenshuise hokkiesaal aangebied.

Die geleentheid word reeds vir 26 jaar gehou en word vanjaar voortgesit danksy die steun van Coca-Cola wat N$45 000 hiertoe bygedra het.

Meer as 1 400 kinders het vanjaar in die Kiddie Sport-program deelgeneem waarin 15 afrigters in Windhoek, Outjo en by Elnatan op Stampriet gebruik is.

Die vertonings gee aan ouers die geleentheid om die vordering te evalueer wat hul kinders gedurende die afgelope jaar gemaak het. Belangstellendes kan ook eerstehands die sukses van die program kom beoordeel.

Die Kiddie Sport program bestaan uit oefeninge vir jong kinders om hul hand-oog koördinasie, voet-oog koördinasie en algehele liggaamskoördinasie te verbeter.

Afrigting word in basiese vaardighede vir balsporte oorgedra – byvoorbeeld hokkie, tennis, krieket, sokker en gholf. 'n Voordeel van die program is dat 'n afrigter vroeg talent kan raaksien en dan 'n meer gevorderde oefenregime vir 'n spesifieke sportkode kan aanbeveel.

Die Kiddie Sport program se gewildheid het oor die jare konstant gebly omdat dit kinders aanmoedig om in verskeie sportkodes deel te neem, sodat hulle uit verskeie opsies kan kies wanneer hulle ouer is.

“Vele kinders laat vaar individuele sporte wanneer hulle vanaf 'n vroeë ouderdom daarin moet oefen en dan belangstelling verloor. Ek glo dat oefening vir jong kinders veelsydig moet wees en verskillende sportkodes behoort in te sluit. 'n Mens behoort versigtig te wees om kinders te vroeg te laat spesialiseer. Sport is pret en kinders is lief daarvoor om pret te hê – en dit is ons mikpunt by Kiddie Sport. Een rede hoekom hulle dit geniet, is omdat al die vaardighede oorgedra word deur speletjies te speel,” sê die stigter van die program, die tennisspeler Amanda van Dyk.

Die naweek se program begin Vrydag met die volgende skole: 18:00-19:00 Suiderhof Primêre Skool; Eden SDA Academy; Kleine Professor; Step By Step; Bambino Kids.

Saterdag 07:30-08:30 Olympia Speel & Leer; St. Georges; Pikkieparadys; WAP; WAP Treintjieskool; Joshua Creché; Gymnasium Pre Primary; Highlands; Pooh's Corner; Pionierspark Primêre Skool.

09:00-10:00 Delta Schule & Delta Kindergarten; Orban Primêre Skool; Dorado Primêre Skool en Pre-primêr; ABC; Islamic Centre; Nam Kids; Blink Ogies; Bärchenhöhle; Pikkiepark; Wela Kapela.

10:30-11:30 Amptelike opening; Convent; Liewe Heksie; Kiddi Care; Ruth Albrecht's Rainbow.

12:00-13:00 Windhoek Pre Primary; All Nations; DHPS; Eros Primêre Skool en Pre-primêr; Gammams; Sister Hildegard; Pandora; Amazing Kids.

14:00-15:00 Windhoek Central Primary & Pre Primary; Growing Seedlings; Montesorri Kindergarten.

15:30-16:30 St. Andrews Primary & Pre Primary; Emma Hoogenhout Primêre Skool en Pre-primêr; St. Pauls.

Vir navrae kan Amanda van Dyk, die Kiddie Sport koördineerder, by sel. 081 124 4385 bereik word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer