Kies Clarens of die Brandwag: Hier begin die Drakensberge

’n Reiservaring deur Pedro Vorster
Elvira Hattingh
Die volmaan ver­skyn mollig oor Clarens se Rooiberge.
’n Kragdraad sny die magiese skoonheid van die aand in twee. Verder terug, agter haar rug, lê die ontsagwekkende Drakensberge van Suid-Afrika.
Koue word voorspel in die Suid-Vrystaat en ons kamertjie het ’n kaggel met ’n piepklein badkamer. Dit beteken die afstand tussen kraan en kooi is gelukkig kort.
Eens ’n kunstenaars-toevlugsoord, het Clarens in die Vrystaat lustig gegroei tot ’n yuppie-paradys. Die dorpie het 16 kunsgalerye. Wees verseker, hier is kuns vir elke smaak, gril, vaardig en prul.
Bejaarde motorfietsryers brom die paaie vol oor vakansiedae. Die losiesverskaffers juig en dit is haas onmoontlik om verblyf oor naweke hier te kry. Hoekom dan so? As die dorpie die middelpunt van ’n wiel is, lê die stede Durban, Johannesburg en Bloemfontein omtrent soos vir Windhoekers Swakopmund naby.
Gedurende die week, wanneer al die haastiges teruggekeer het na huis en haard, kan ons gemakliker die stiller dorpie leer ken. Maar die Meidag-langnaweek se stres het sy tol geëis en ’n klomp besighede maak nie eens oop nie. Die inwoners, net minder as 7 000, kort ’n blaaskansie. Geldkoffers vol, dankie.
Is dorpe manlik of vroulik? Clarens is ’n duur dame, of dalk ’n madam.
Haar naam kom uit Switserland. Die dorpie daar oorkant was tydens die laaste jare van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) die finale blyplek van die selfverbande Boerepresident Paul Kruger.
Nuuskierigheid is soos ’n splinter onder ’n vingernael wat verdraagsaam word met geduld. Ek word na die dorp se grasplein gelok na ’n gedenkmonument. Waar op dees aarde sou mense dan nie baklei en op mekaar geskiet het nie?
Die Naauwpoortmonument gedenk die moord op vyf burgers van die Transvaal in 1865. Die moorde verskaf die verskoning vir ’n twee jaar lange oorlog teen die Basoeto's waaraan pres. Kruger deelneem.
Ons kry eens nie blyplek op Clarens nie. In die donker gaan soek ons Bybels herberg in Bethlehem, die naaste dorp. Orals waar ons ry, is die paaie in aanbou. Tolpaaie, hoofpaaie, sekondêres en grondpaaie, die Vrystaters woeker. In die nag is sulke vreemde verbouings vir die reisiger ’n riller. Ons oorlewe.
Met ons tande losgeskud op die dienspaaie, ontdek ons te laat dat Bethlehem, die gebied se hoof­dorp, heelwat te bied het. Google gerus. Maar soos hardkoppige kinders wil ons net Clarens toe, want dié dorpie word soveel aanlokliker bemark. Ons wil langer daar bly, maar moet ’n keuse maak. Vertoef ons hier, beteken dit minder tyd in die berge.
Tot siens Clarens.
Die Brandwag is ’n bekende baken en die poort na die Golden Gate Nasionale Park. Die kop se bestyging maak reeds op vir die ongemaklike afskeid aan die kunsdorpie. Die uur of so se klim is nie te vermoeiend nie. Na ’n kort entjie oor rots met behulp van ’n kettingleer - dit klink erger as wat dit was - staan ons bo. Al is die natuur hier mak gemaak, bly die romerige strata van die ontsettende sandsteenkoppe indrukwekkend.
Op die Brandwag, gevul met euforie, voel mens of jy iets belangriks vermag het. Ons selfies wil nie mooi vlot nie en ons kry ’n jong fotograaf om ons te kiek. Mense om ons praat Frans, Engels en Transvaals.
Dieper die park in, is daar ’n blyplek met ’n verskil: ’n Basoeto-dorpie. Ons ry opgewonde soontoe om teleurgestel te word. Daar is geen kans om die kleurvolle hutte te sien, die toordokter sy beentjies te sien gooi, tradisionele bier te drink, of na hul musiek te luister nie. Daar is nie hangplek vir ’n Basoeto-hoed nie.
Luukse motors, opgedolliede vroue en mans in pakke het die plekkie ingeval, opgekoop en bespreek vir ’n uithang langnaweek huwelik. Nie eens die bedreigde kransaasvoël kom maak daar ’n draai nie.
Die waterskeiding van die berge in die Suid-Vrystaat bepaal watter reënwater in watter oseaan, weerskante van Suid-Afrika, sal vloei. Reën dit op die noordelike hange vloei dit na die Atlantiese Oseaan en waters op die suidelike kant beland in die Indiese Oseaan.
Ons is op pad om albei kante sien.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!