Kiesbedrog in ANC moontlik
Tot in die hoogste ANC-kringe is daar kommer oor of ‘n regverdige verkiesing in Desember moontlik is.
Jacob Rooi - Vrese bestaan in die hoogste ANC-kringe dat die Zuma-faksie in KwaZulu-Natal (KZN) lidmaatskapgetalle in dié provinsie gaan laai sodat hulle die party se leiersverkiesing in Desember kan manipuleer om ’n oorwinning vir dr. Nkosazana Dlamini-Zuma te probeer “steel”.
Die Mail & Guardian het Vrydag berig dat die party besig is om tot 200 000 lidmaatskapsvorms in KZN te ondersoek om die egtheid daarvan te bepaal. Nog ondersoeke is in die Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga aan die gang.
Melanie Verwoerd, politieke ontleder, voormalige ANC-LP en oudambassadeur, sê daar is tot in die hoogste ANC-kringe, veral onder dié wat adj.pres. Cyril Ramaphosa steun, kommer hieroor – en oor of ’n regverdige verkiesing moontlik is.
Daarmee saam is daar aansprake dat die ANC-ledetal in KZN tussen 500 000 en 600 000 beloop.
“Dis byna dubbel soveel as by die Mangaung-konferensie in 2012, wat ook drie keer meer was as die getal by die Polokwane-konferensie. Dis nie in ooreenstemming met die algehele groei en afname in ANC-lidmaatskap nie en mense begin hond se gedagtes kry.”
‘Baie meer’
Super Zuma, ANC-sekretaris in dié provinsie, het Saterdag aan Rapport bevestig dat die party in Desember “baie meer” afgevaardigdes gaan hê as die 508 wat pas die afgelope beleidskonferensie bygewoon het.
“Ons kan nog nie sê hoeveel gaan in Desember nie, want die takke word nog geoudit.”
Dit is een van die redes vir kommer, sê Verwoerd aan Rapport.
Die ledetal sluit gewoonlik einde April en daarna word die getalle vir ’n maand geoudit. Dié syfers word gebruik om te bepaal hoeveel afgevaardigdes na die beleidskonferensie gaan.
Die ratio’s bly dan gewoonlik dieselfde vir die verkiesingskonferensie ses maande later.
Rapport verneem egter die ANC het vir die afgelope beleidskonferensie nie die nuwe ouditgetalle gebruik nie, maar dié van 2015.
Fenomenale groei
Pres. Jacob Zuma se tuisprovinsie het by die verkiesing in Mangaung in 2012 ’n deurslaggewende rol in sy herverkiesing gespeel. Dít nadat die KZN-getalle ’n fenomenale groei getoon het sedert die verkiesingskonferensie in Polokwane in 2007, waar Zuma ANC-leier geword het.
In 2007 was KZN nog die tweede grootste provinsie, met 16% van die afgevaardigdes teenoor die Oos-Kaap se 24%, wys syfers van die politieke ontleder Theo Venter.
Binne drie jaar het sake skielik verander. By die party se hoofraadsvergadering in 2010 was 26% van die afgevaardigdes uit KZN en 21% uit die Oos-Kaap.
In 2012 in Mangaung het KZN byna ’n derde van die afgevaardigdes gehad, naamlik 27% teenoor die Oos-Kaap se 16%.
Diep verdelings
Verwoerd sê daar is diep verdelings in KZN, maar sy is bereid om geld te verwed dat die beduidende groei in ledetal nie in takke is wat adj.pres. Cyril Ramaphosa steun nie.
Dlamini-Zuma, gewese voorsitter van die Afrika-Unie, gaan KZN se kandidaat wees wanneer die benoemings amptelik in September open.
’n Ander opsie van die Zuma-kamp kan wees om toestande te skep wat die uitstel van die konferensie noodsaak indien hulle agterkom Ramaphosa kry die oorhand, sê Verwoerd.
Daar is vir Zuma en sy ondersteuners baie op die spel in Desember.
Nuwe dinamika
Prof. Mcebisi Ndletyana, dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van Johannesburg, sê met Ramaphosa aan die wenkant kan ’n nuwe dinamika geskep word.
Zuma kan soos oudpres. Thabo Mbeki herroep word, die kabinet sal dalk vroeg volgende jaar geskommel word, met die gekaapte ministers wat hul poste kan verloor.
’n Kommissie van ondersoek na staatskaping is moontlik.
“Die skuldiges kan tronk toe gaan.”
Mavuso Msimang, ANC-veteraan, sê die werklike probleme in die ANC is nie by die beleidskonferensie bespreek nie. Daarom is dit moeilik om te voorspel wat in Desember kan gebeur.
Politieke klimaat
Sekhopi Malebo, ’n gewese LUR in die Vrystaat, sê die politieke klimaat is nie ten gunste van Dlamini-Zuma nie.
“Haar veldtog word swakker by die dag. Buitendien is daar verdeeldheid in die provinsie. Richardsbaai steun vir Jeff Radebe terwyl ander ten gunste is van die tradisie dat die adjunk die leier opvolg.”
Zweli Mkhize, ANC-tesourier, het aan Mail & Guardian bevestig dat ondersoeke na onreëlmatighede oor lidmaatskap in die party aan die gang is.
Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, sê geen ouditverslag oor ledetal in die provinsies is nog beskikbaar nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie