Kili laat jou nie altyd lag nie
Ek sluit 'n noodkontrak met die gym en omgord my lendene met leesstof uit alle oorde.
Mense gee raad. Gevraagd, ongevraagd. Veral dié wat nie eens weet waar Kilimanjaro presies is nie, het baie te sê.
“Jy gaan bergsiekte kry. Malaria. Geelkoors, klem-in-die-kaak, cholera. Dis vrieskoud, sopnat, helwarm, winderig, maagwerk-nagmerries, die long drops gaan jou doodmaak.”
Ek lees nagte om, plak foto's van Uhuru – “vryheid” in Swahili – teen my kamermuur. Ses weke om my hangboude en swingelarms bergwaardig te kry.
Ek is van nature 'n ligte reisiger. Genoeg bloomers en 'n tandeborsel en daar gaan ek. Maar dié Kili is 'n anderste een. Vir lank staar ek vir my bed wat kreun onder als wat moét in: Koddige koplamp, watersuiweringspille, plastiek waterblaas, onder-vriespunt-slaapsak, ingeloopte stapstewels . . .
DIE BEGIN
Saam met 'n tienstuks volbloed Engelse is dié Boerenooi op die vliegtuig.
Ounag kom ons vlugvoos by die Keys-hotel in Moshi aan. Ek probeer tevergeefs slaap en pak toe maar my sakke oor en wéér oor.
Tydens ontbyt ontmoet ons die gidse: Thomas Meela, Robinson Massawe en James Mong'ateko.
Tussen die wolkflertse deur loer die magtige berg. Ek en hy bekyk mekaar in stilte. Ek sluk. Hy verdwyn.
Die bussie slinger-knor na die Machame-hek. Op pad jaag twee taxi's resies teen die verkeer. “Success in Jesus,” verkondig een se bufferplakker. “There's only one Allah,” die ander s'n. Ek kon nie sien wie wen nie.
By die Machame-hek is dit 'n chaos. Honderde klimmers staan rusteloos-verveeld rond en wag om die papierwerk van die parkregistrasie klaar te kry, terwyl draers en gidse rondmaal en bagasie op tengerige skouers laai. En toe is dit sulke tyd.
Ons luier-kuier deur die reënwoud. Dis warm en bedompig en mooi. Ek is in varing-vervoering. Ons maak grappies en gesels, teug aan ons blase en wonder waaroor die groot stres nou eintlik was. Dis tog te lekker hier aan die voetenent van die berg.
Toe trek die hemelsluise oop en binne sekondes is ons deurnat. Die lieflike kronkelpaadjie verander in 'n spierskeur-steilte waarteen ons in steunende ellende uitbeur.
Reën en modder, tree vir tree, reën en modder, tree vir tree. Pole, pole, stadig, stadig, kom die draers een vir een verby. Jambo, met breë, wit glimlagte. Ek is verstom. Hulle blaas nie, sweet nie en het waaragtig nog die krag om met hul koppe, rûe en skouers gelaai met stoele, sakke, kombuisraad, tente, kos en waterkanne ander op te beur.
Minute, ure, dae, maande sleepvoet verby. Die reën hou vol. My kop en lyf is in zombie-rat. Ek voel niks, weet niks, dink niks. En dis dag een.
Soos in 'n droom verskyn die vae buitelyne van 'n groen hut en 'n klipstapel in die grys mis. Ek swaai my rugsak van my lam rug af.
“Maji moto, maji moto,” roep Joseph Meela, ons liewe sjef, van iewers agter die grys watergordyn.
“Baie dankie,” hyg ek en vat die skotteltjie met twee druppels warm water wat hy na my toe uithou. Kry vir jou 'n bergbadjie.
Ons eerste aand in die tentekamp. En ons eerste long drop (inderdaad 'n grusame ondervinding) en eerste saam eet in die mess-tent. Ons val Joseph se bergcuisine soos bergape aan. Sop en brood, pasta en aartappels, vrugte en Milo sal nooit weer proe soos tóé nie. Koningskos in die Kilimanjaro Hilton, soos dit Kili-konings betaam. Buite reën dit eenstryk. En dis koud. Baie.
Bedtyd. Daar is geen manier om met waardigheid jou stukkie tentjie te in en uit nie.
Metode: Buk rugbreeklaag en rits oop. Draai om en sak in goeder trou agterent eerste deur opening. Hou modderstewels buite tent. Haal asem. Maak veters los en wikkel stewels uit. Maak staan onder tentflappie buite reënbereik. Moenie sokkie-voete in modder voor tent druk nie. Swaai bene binnetoe en kry asem terug. Maak kleresak oop en haal slaapsak uit. Skel omdat matrassie deurnat is.
Haal asem. Haal vuilgoedsakke uit en trek twee vir matrassie aan. Lag selfvoldaan oor boer maak 'n plan. Skel soos 'n boer: Koplamp is nog in kostent. Herhaal stappe in trurat. Hyg na asem. Kom terug en probeer weer. Val halfbewusteloos in slaapsak en bibber tot slaap. Ignoreer yskoue klipgrond onder teer rug. Ignoreer reën wat deur tent drup. Zzz.
DAGBOEK
As ek dagboek gehou het, sou dag twee se inskrywing net wees: Dit reën steeds. Ek kry #$% koud. Gaan hierdie belaglike stapstokke wegslinger.
Maar uit dankbaarheid dat ek die dag lewend aanskou het, sou ek ook skryf: Ja, dit was koud en nat en grys en ure aaneen oor klip en rots en enkelbreek-kronkels, draaistap en hurk kaalboud in die yswind, maar ai, dit was mooi (die natuur, nie die agterent nie). Ek het die piepkleinste pienk paddastoele gesien groei teen geharde rots, vreemde plantjies en struike en bossies . . .Laat ons net hier halt roep en noem dat ek nie 'n voël, gedierte of groeiselkenner is nie; daar's hordes publikasies oor elke teken van lewe op Kilimanjaro (klimmers uitgesluit). Raadpleeg gerus die kenners.
Die pikswart kraaie met hul vreemde dikbek-krombek snawels en onaardse kwaaa-kwaaa sny deur been. Terwyl hulle skelm onderlangs vir jou loer.
Al wat saak maak, is die aanhou beweeg, voetjie vir voetjie, pole, pole, jambo, jambo. Water uit die blaas. Energiestafies knaag. Grys, gryskoud, nat. Skielik glip jy oor na die Ander Kant, die onbekende deel van jou menswees wat jou gedagtes glashelder laat en jou lyf laat wegval. Net jy.
“Go placidly amongst the noise and haste, and remember what peace there may be in silence,” fluister Max Ehrmann sy Desiderata.
Jy voel lig. Sweef Shira-kamp binne. Dis koud. En loom in jou gemoed. Die belaglike stapstokke het iewers langs die pad ledemate geraak.
Kilimanjaro staan verys, afwagtend in die maanlig. Tussen miljoene silwerwit sterre. Ek vergeet om asem te haal.
Die son skyn. Ons klere lê wyd gesaai oor al wat rots is en word droog. Berg Meru pronk in die verte toegedraai in sy wolkduvet en raai, dis sowaar al dag drie.
En daar gaat ons. En hier kom die mis van alle kante ingerol. Maar ek is nou bergsterk en niks gaan my onderkry nie – behalwe die skielike suurstoftekort wat dreig om my hart dubbelslae te laat mis.
Kalm, kalm, skel ek saggies. Haal asem, ontspan, daar's genoeg suurstof om jou, kry dit net in jou longe in, moenie panic nie . . . en ek is weer oukei.
Maar die natuur is nié aan my kant nie. Behalwe vir die bomenslike steiltes en rotse en kronkels word ons gelooi met mis, toe ligte reën, toe moeson-reën, toe hael en vir die grande finale, sneeu. Soos versiersuiker oor chocolate brownies lyk die ruwe vlakte.
BRAAKSTOP
Dis skielik nie meer snaaks nie.
Ek voel nie so lekker nie, brom ek vir die figuur wat uit die niet langs my begin stap.
Teen laatmiddag weet ek nou gaan ek dood. Ek is naar en duiselig en verward. Braakstop, braakstop, blaf ek.
“Laat die gif uitkom,” sê Robinson en gaan sit. Ek hang dubbel gevou van bergsiek wat uit. Die berg se toorgoete is op my, in my, om my.
Robinson het net geglimlag. En die pas weer aangegee. 'n Stuk klip opgetel. “Obsidian, for you.”
Ek het trots geswel van dankie. In ruil een van my gelukbringerklippe uit my sak gehaal en vir hom gegee. Gabbas vir altyd.
Hy't gewys waar die rots Babu Tolo bo-op die berg staan en bid vir die mense van Moshi. Ek't vertel van die Namibwoestyn, waar ek grootgeword het.
Toe ek skuins voor donker by die Barranco-kamp instrompel, wag John die toerleier my met oop arms en duidelike verligting in. Ons sê niks. Weet lyk anders hier.
NEDERIG
Gister was 'n vernederende ervaring, bieg ek met ontbyt.
“Ek stem,” sê Maria, wat intussen die bynaam Mama Pole van die draers gekry het oor sy met oorgawe haar tyd vat.
Ons brom toe die Barranco-muur wat ons moet op en oor uitgewys word. “Dit lyk verskriklik steil, maar dit is nie,” belowe Thomas.
“Mmm,” sê ek. “Ek glo niks meer nie. Julle sê dit net om ons te paai.”
Die wyse gryse het net alwetend geglimlag en begin stap. En sowaar, watter heerlikheid om die muur uit te klim. Dis erg pret, skree ek vir Pole doer onder. Bo gekom, slaan die uitsig asems weg.
“Ek eet nie nog 'n energiestafie nie,” knor Pole en skenk net daar haar voorraad vir verbygaande draers. Ek stem saam. As ek mag raad gee, vat genoeg Wetwipes, Ziplock-sakkies, biltong en tjoklits saam. 'n Mens raak naar van daai kragstawe.
Huppelend is ons oor berge en dale. Tot by die Karanga-kamp.
Op pad stap ek verby 'n reuseman. Hy's stil. Oorfone op. Die gidse klets met mekaar in die verbygaan. “Hy was laas jaar tot op Stella Point, maar moes toe omdraai weens bergsiekte,” vertaal Robinson. Ek sê niks.
“Van hier af gaan julle die berg begin voel,” waarsku John die aand.
Hallo, dink ek. En wat noem jy dit wat tot nou toe aan my knaag? Maar ek is stil. Want die nag kom nader. Vol monster-gebergtes waar jy nooit die piek bereik nie.
Ons slaap afdraande in die skewe kamp. Die nag ontaard in 'n glibberige gewriemel teen die matrassie op en af. As jy weer sien, lê jy aan die onderkant van die tent. Gly maar weer op, soos 'n paling in jou gladde slaapsak, en wag vir daglig.
Ek gaan knyp tot dan, want my onderstel gaan afvries as ek nou 'n draai moet loop. Maar Diamox-tablette en vier liter water per dag is niemand se speelmaat nie. Paling op en uit dus.
Die kraaie koggelskrou om my tent. Asof hulle sê, gaan terug, gaan terug. Ek dink aan niks. My kop is leeg. Ons beweeg in 'n waas van niks. Eet en drink en gesels, maar dis asof ons nie daar is nie. 'n Mens dink nie vooruit nie, dink nie aan die piek nie. Dink net aan die een voet voor die ander.
Dis warm, erg warm. Lawaklip en sand. Links lê die piek met sy sneeukappie.
Nou en dan gee jy 'n sywaartse blik, maar nie vir te lank nie. Jou verstand weier om af te dwaal. Dalk om jou te beskerm teen die finale aanslag wat binne ure gaan begin. Dis 'n ander wêreld op pad na die laaste kamp, Barafu. Enkele slap, bergsiek lywe wat tussen draers bergaf gesleepdra word. Maar jy sien ook nie.
Laatmiddag, vanuit jou tent tussen reuserotse, staan Berg Mawenzi geraam in sy manjifieke glorie aan die anderkant van die vallei. “And whether or not it is clear to you, no doubt the universe is unfolding as it should,” fluister Max.
“Ek kan nie meer so hurk nie,” skree iemand uit die hoogste long drop in Afrika.
“Dames en here, welkom by summit night,” sê John gedemp aan die etenstafel.
Dis ver onder vriespunt buite. Die grappies het opgedroog, onder lae en lae klere staan hare regop op yskoue velle. 'n Gewydheid vat pos in ons nederige kostent. Ons eie seilkatedraaltjie, nietig klein teen die bors van die magtige Kilimanjaro.
“Dit maak nie saak of jy dit tot bo maak of nie, die feit dat julle tot hier gekom het, is lofwaardig. En dankie vir jul fantastiese gees en moed tot nou toe,” sê John.
Die huil kom sit in my keel. Dis skielik te veel, te gou, te hier. Oral blink oë. Buite huil die wind saam. Ons wurg vir die eerste keer aan Joseph se koningskos wat elke dag, elke aand in die stikdonkerte met soveel liefde voorberei en voorgesit is.
Ek vlug na my tent toe. Laat die afgelope dae se opgekropte emosies en seerkry my oorstroom. Huil asof daar geen einde ooit gaan kom nie. Oor ons 36 draers en gidse wat week ná week, jaar ná jaar deur hierdie hel gaan. Omdat ek bang is.
En toe moet ons gaan slaap, want halftwaalf gaan Joseph ons wakker maak vir tee en biskoeits (sy woord vir beskuitjies) en dis al nege-uur.
Ek en Pole lê in die donker en gaan deur ons lys: Koplamp, tjek. Waterbottels, tjek. Drie pare handskoene, tjek. Eetgoed, tjek. Kamera, tjek. Balaklawa en buff, tjek. Sonbril, tjek.
Nag, Maria. Nag, Minette.
Hallo, sê Joseph. Tea and biskoeits-tyd. Middernag.
Dis koud hier. Die wind sny erger as die kraaie se skrou. Net my neus steek uit en dié kan maar afvries, ek voel niks, niks meer nie. Moenie opkyk nie, moenie opkyk nie. Volg net die voete voor jou. Moja, mbili, moja, mbili, een, twee, een, twee.
Die donker op die some van die koplampe se flou kolle is vreesaanjaend. Tree vir tree, shh-shh, shh-shh, sus Robinson. Onder my verkluimde voete bewe die berg, word hy stadigaan wakker van die honderde stapstoksteke in sy lyf.
Ek. Kry. So. Verskriklik. Koud.
Shh-shh, shh-shh, dwing die donker man die Kili-skuifelritme. Daar is geen bo of onder nie. Daar is nie sykante of voorkante of agterkant nie. Daar is net die koue en die wind en die donker en die niks in my kop.
Ek klim hande-viervoet onderstebo teen die loodregte krans op. Maar hoe? Ek loop in my slaap. Waar is die res van die groep? Waar is Robinson? Waar is ek? As die son net wil uit. Ek is 'n kind van Afrika, ek is 'n kind van die son. Dis so verskriklik stil, so verskriklik alleen.
Dit raak warm teen my regterskouer. Die pienk-oranje streep dun op die horison. Ek voel dit. Ek sien dit nie. En wanneer die son uiteindelik oor die rand glip, tuimel ek in 'n nuwe dimensie in. Lig, so lig.
“Jy dink te veel,” sê Thomas. “En jy sien jouself deur jou eie oog, dis wat gebeur.”
Ek het nie gevoel toe hy my arm vat nie. My kop draai, my oë val toe. Ek wil net 'n bietjie slaap, sleeptong ek. “Shh-shh, shh-shh, beweeg, beweeg.”
Iewers het die dag gebreek. Iewers het Robinson en Thomas en James op en af teen die verskriklike steilte gehardloop om ons te help.
Kilimanjaro is 'n dodelike, beeldskone monster. Hy besluit of hy jou sal laat klim. Hy hou jou dop, speel met jou kop en steel jou krag. Maar hy steun sy bewakers en ridders met liefde.
En dan, sonder waarskuwing, gee hy met oormag terug. Gesig ondertoe val ek op Stella Point neer en bly lê.
DIE EINDE
Nick, wat die hele reis skaars twee woorde met my gepraat het, trek my regop en tol my in die rondte. “Amazing, amazing, look M, look! You made it,” skree hy en beduie na links. En daar staan die bordjie wat ek laas teen my kamermuur gesien het. So naby. En so ver.
Ek het die laaste treë een vir een afgetel. Vir 'n ewigheid deur die seepgladde sneeupaadjies geskuifel-skuifel.
Congratulations, het verweerde geel letters meteens voor my oë geswem.
Ek het my handskoene uitgetrek en aan die versplinterde hout geraak.
My gunstelingklip uit my binnesak gehaal en dit van die dak van Afrika die wolke ingeslinger. Saam met al die bagasie van my ou lewe.
Uhuru.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie