Kinderregte
GODFREY KLEINHANS VAN KEETMANSHOOP SKRYF:
Die Menseregtekommissie (MRK) in Suid-Afrika is tans besig om te kyk na probleme met water in die Vaalrivierskema.
Die eerste vraag wat by my opgekom het, is wat die MRK met water te make het. Vinnig het ek besef die swak en wanbestuur van hierdie bron druis in teen die mens se reg op water en die gebruik daarvan. Water is 'n lewensbron waarsonder die mens nie kan klaarkom nie; vandaar die noodsaaklikheid en dringendheid om dit met groot effektiewiteit te bestuur.
Dit het my aan die dink gesit oor die beskerming van menseregte in Namibië.
Die Namibiese Grondwet beklemtoon en erken 'n reeks universele menseregte. Alle inwoners het toegang tot hierdie regte; armes en rykes, kinders en volwassenes, gelowiges en ateïste, geleerdes en ongeletterdes. Geen orgaan van die staat kan inbreek op hierdie regte maak sonder goeie motivering nie.
Ons het nie 'n MRK nie en mens wonder hoe effektief hierdie regte werklik beskerm word. Resente gebeure en verslae in daaglikse koerante dui daarop dat menseregte nie effektief beskerm word nie. Ek noem graag 'n paar voorbeelde.
Ons onderwysstelsel vaar in sekere streke nie goed nie terwyl die Onderwyswet en die Grondwet gewag maak van die voorsiening van effektiewe onderwys. Van die streke doen uiters swak in eksamens, kinders sukkel om te lees, wiskunde as vak is maar 'n gogga, kinders verlaat die skool voortydig, jong dogters word swanger en baie van die vaders sit nog op die skoolbanke. Herhalingsyfers is hoog en 'n klein groep kinders bereik graad twaalf. Koshuise word swak toegerus en kinders slaap glo op beddens sonder matrasse. (Sien foto's wat onlangs op Facebook geplaas is). Ablusiegeriewe, wat met skoolveiligheid te make het, is nie juis van die beste nie. Skoolfonds, wat heelwat gate gestop het, is afgeskaf terwyl skole kla dat hulle nie hul subsidies op tyd kry nie. Lyfstraf vind nog by sekere skole plaas. Kry die Namibiese nasie waarde vir die enorme bedrae belastinggeld wat op onderwys bestee word?
Een van die hoekstene van ons onderwysstelsel is gelyke behandeling. Gelykberegtiging is 'n belangrike hoeksteen van ons demokrasie.
Ek weet van plattelandse skole, veral in die Suide, wat nie meer skoolfonds vra nie, maar sekere skole, veral in die sentrale gedeeltes, steur hulle nie aan die reël nie. Bydraes (na bewering verplig) ten bedrae van N$6 000 en N$8 000 per jaar word genoem. Een skool verwag N$200 per maand vir 'n graad R-leerling. Hierdie staatskole is presterende instansies, maar gee dit hulle die reg om die voorskrif te ignoreer?
Kan hierdie ongelykheid geduld word? Of is dit tyd om te erken die verbod op verpligte skoolfonds was 'n oorhaastige besluit?
Verder het skole vorendag gekom met verpligte registrasiefooie wat nie terugbetaalbaar is nie. Allerhande burokratiese voorskrifte is ingevoer wat dit vir ouers moeilik maak om hul kinders te registreer. Voornemende ouers vertel mediese vorms moet voltooi word terwyl van die aansoekvorms die naam van die ministerie dra.
Onderwys is verpligtend en gratis en skole moet die registrasieproses so pynloos as moontlik maak.
Elke kind het reg op verpligte en volgehoue onderrig van 'n redelike kwaliteit. Die Grondwet waarborg ook die waardigheid van elke inwoner.
Onlangs het ek kritiek gelewer oor die versuim om 'n onderwyseres te skors wat na bewering 'n verhouding met 'n skooldogter gehad het, ten spyte van 'n kriminele klag en 'n moontlike dissiplinêre verhoor. Die onderwyseres word myns insiens beskerm terwyl die leerling se regte agterweë gelaat is. Elke leerling het die reg op effektiewe en onbelemmerde onderrig. Dit kan en sal nie gebeur as leerlinge bewus is van 'n leerkrag se beweerde wangedrag nie.
Moord, molestering en ontvoering van kinders is deesdae prominent in die nuus. Kinders is vir 'n groot deel van die dag in die sorg van die skool. Die skool het 'n regsplig om effektiewe reelings te tref om kinders se veiligheid te waarborg.
Kinders wag in die middae vir hul ouers en/of huurmotors buite die hekke van skole. Ek het nog nie by 'n enkele skool gesien dat daar 'n onderwyser of iemand is wat 'n ogie oor die kinders hou nie. Dalk is ons kinders nie so veilig as wat ons dink nie. Het ons nie effektiewe reelings nodig om seker te maak dat elke kind ongedeerd by die huis kom nie?
Pas is iemand weer deur 'n Amerikaanse Veghond doodgebyt. Dit is nie die eerste keer dat hierdie ras kinders en volwassenes aanval nie. Die wetgewer het nog niks gedoen om mense teen hierdie dierasies te beskerm nie.
Hierdie is maar 'n paar voorbeelde van kinders se regte wat bedreig word. Die wetgewende gesag is die bevoegde liggaam om die nodige wetgewing te skep om seker te maak kinderregte word beskerm.
Is dit nie tyd dat die kantoor van die ombudsman 'n oudit doen oor moontlike menseregtevergrype teen kinders en sy verslag aan die wetgewer voorlê nie?
Ten slotte: is die staat nie die beskermheer van alle kinders nie?

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie