Kinders en hul harte is haar siel

Die baanbreker mediese beampte in Namibië se eerste harteenheid gesels met ons.
Tanja Bause
Tanja Bause – Op 16-jarige ouderdom het sy Ondangwa verlaat om in Kaapstad vir ’n baccalaureusgraad in geneeskunde en chirurgie te gaan studeer. Op 22 het sy die universiteit met haar graad in hand verlaat.
Dr. Fenny Shidhika (39) was een van die mediese baanbrekers toe Namibië sy harteenheid in 2008 geopen het en vandag is sy ’n pediatriese kardioloog by die Sentrale Hospitaal in Windhoek.

Sy is in Ondangwa gebore en het by die Hoërskool Oshigambo gematrikuleer.

“Ek het gedog ek het ’n normale kindertyd gehad, maar as ek terugdink, is ek nie oortuig dat ek ’n tipiese kind was nie. Ek was te nuuskierig en eksperimenteel vir my ouderdom.

“Ek onthou toe ek 10 jaar oud was, het ek vir my ma gesê ek wil graag wetenskap op die maan studeer. My ouers was redelik oorweldig. Ek glo nietemin my vroeë grondslag het my eienskappe vandag grootliks beïnvloed.”

OPLEIDING

Sy was vasbeslote om by die Universiteit van Kaapstad te studeer. ’n Kwotastelsel vir buitelandse studente het egter gegeld en dit was amper onmoontlik om plek te kry direk van hoërskool af sonder vakke op hoërgraad (HIGCSE).

“Soos die noodlot dit wou hê, is HIGCSE by Oshigambo bekendgestel toe ek in graad 10 was en ek het in graad 11 oorgeskakel. Hoewel ek deurgaans grootliks die toppresteerder in my klas was, het ek besluit om net ’n bietjie harder te leer om seker te maak dat my graad 12-punte toegang tot UCT se mediese skool sal verseker.”

Op 16 het sy deur UCT se hekke gestap.

“Ek het nie eens aan die ouderdomskriteria voldoen nie. Destyds het dit gestipuleer dat ’n mens 23 tydens die gradeplegtigheid moet wees; ek was 22 toe ek by die hekke uitstap. Ek het later ook by hulle gespesialiseer in algemene pediatrie en gesubspesialiseer in pediatriese kardiologie.”

Volgens Fenny het sy van kleins af ’n ongewone obsessie met biologie en wetenskap gehad. Haar kennis van wiskunde was ook ver bo die gemiddeld, maar dit was die hoërskool en die onderwysers wat haar toekoms gevorm en beïnvloed het.

“My onderwysers het gereken omdat ek teruggetrokke en stil was, sou ek ’n beter dokter as ingenieur maak. Hulle was reg en hulle het my gehelp met my aansoek by UCT.”

Terwyl sy in haar MBChB-jaar was, het sy die biografie gelees van prof. Christiaan Barnard, die chirurg wat die eerste menslike hartoorplanting gedoen het.

“Hy was baie innoverend en dapper en om eerlik te wees, my fassinering met hartgesondheid het daar begin.”

Namibië se eerste harteenheid is in 2008 geopen, in samewerking met die Universiteit van Kaapstad se geaffilieerde Groote Schuur en Rooikruis-kinderhospitaal.

“Ek was ’n junior dokter, een jaar ná my internskap, toe dr. Ismael Katjitae my aangespoor het om een van die baanbreker mediese beamptes in die eenheid te wees. ’n Span hartspesialiste van die genoemde instansies het hartoperasies kom uitvoer, en een van die spanleiers, wyle prof. Bongani Mayosi, het tydens ’n geselsie gesê ek behoort in die rigting van pediatriese kardiologie te beweeg.

“Ek was onseker hieroor, maar hy het vir my gesê: ‘Ek weet wat ek doen’. Hy was reg; ek het my passie gevind.”

Sy het die Rooikruis-kinderhospitaal besoek en haar reis met pediatriese kardiologie het begin.

“Nadat ek tyd daar deurgebring het, was ek oortuig dis die rigting vir my. Ek kon aan niks beter dink waarin ek wou spesialiseer nie.”

Ná ’n kort oponthoud in Namibië het sy teruggekeer UCT toe om eers vir vier jaar in algemene pediatrie te spesialiseer, wat ’n voorvereiste is om in pediatriese kardiologie te subspesialiseer.

Gedurende haar laaste jaar het die hoof van pediatriese kardiologie, prof, John Lawrenson, haar gevra om by hul opleidingsprogram aan te sluit.

“Hulle was vasbeslote om Namibië se eerste pediatriese kardioloog op te lewer. Met ’n vaste hand het hulle my blootgestel aan alles wat kliniese vakleerlingskap behels; hulle het my wenke gegee om ’n baie moeilike loopbaanrigting te volg en geleenthede vir my geskep.

“In my finale jaar het die departement my kursus by die Great Ormond Kinderhospitaal in Londen gefinansier. Dit het bygedra dat ek die British Congenital Cardiac Association-lidmaatskap vir oorsese kardioloë en chirurge ontvang het.”

DIE WERK

“Ek praktiseer as ’n pediatriese kardioloog. Dis die mediese veld wat handel oor aangebore hartsiektes – ’n komplekse, dinamiese en stimulerende onderwerp wat my nuuskierigheid aanhoudend voed.

“Die absolute kompleksiteit daarvan wek beide opwinding en vrees. Kardioloë doen die diagnose, werk nou saam met die hartchirurge en is deel van die versorging ná ’n hartoperasie. Hierdie werk vereis passie, empatie, deernis, op gelyke meriete as wat dit jou brein, welstand en alles anders beproef, insluitend jou sosiale lewe. Dit verg baie, maar die belonings maak alles die moeite werd.”

Fenny werk tans vir die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste by die Sentrale Hospitaal.

“Ek word gereeld gevra hoekom ek nie my eie praktyk bedryf nie; een rede is dat 83% van ons gemeenskap afhanklik van openbare gesondheidsorg is. Ek is opgelei om die samelewing te dien. Ek wil dien en die voorstander wees vir die groter samelewing, die meerderheid en almal.

“Ek beskou die mediese veld nie as ’n wetenskap van kommersiële potensiaal nie. Dis nie mooi om te sien dat mense van hul mees basiese mensereg ontneem word omdat hulle dit nie kan bekostig nie.”

LAAGTEPUNTE

“Hiervan is daar baie. Ek wil oorwinnings en positiewe uitkomste hê, maar jy leer gou op die harde manier.

“Daar is baie teleurstellings. Ons werk met lewe en dood. Daar is baie pyn. Aangebore hartsiektes kom met ’n spektrum van siektes, sommige te kompleks met die uiteindelike bestemming noodwendig die dood, met of sonder ingryping.

“Ek het baie moeilike gesprekke met ouers gehad om vir hulle te sê jou kind gaan sterf, jou kind kan nie ’n nuwe hart kry wat hulle nodig het nie. Ek laat myself toe om mens te wees, om dit alles saam met hulle te voel en soms huil ek saam met hulle. Ek onthou een gesin wat vir my gebid het omdat ek nie die emosies kon wegsteek nie.

“As klinikus leer ek dus ook baie by die ouers, hul ervarings, hul veerkragtigheid en hul geloof.”

HAAR DROOM

Fenny is baie dankbaar en beskou haarself as gelukkig dat sy deur groot presteerders in haar veld gekies is en aangespoor is om te presteer.

“Ten slotte sou ek sê, Namibië het fantastiese potensiaal – rou, onontginde, onuitgeoefende, onderwaardeerde potensiaal. Kom ons doen dit; laat ons dit ontketen; kom ons swaai die slinger terug na waar ons begin het ná 1990. Die verval van die hede is redelik kommerwekkend.

“My raad aan elke jong meisie daar buite is gaan vir jou droom, want prestasie is nie gekodeer volgens jou geslag nie. Intelligensie, vermoë, kreatiwiteit en sulke gawes is regtig van nature lukraak versprei.”

[email protected]

FOTO’s
Dr. Fenny Shidhika met een van haar pasiënte. Foto verskaf
Dr. Fenny Shidhika saam met van haar pasiënte en hul ouers toe sy die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad verlaat het. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!