'Kinders hoort nie op asgate'

In plaas daarvan om op 'n stortingsterrein vir kos rond te krap, kry die kwesbaarstes in die samelewing kos by 'n gemeenskapsentrum.
Tanja Bause
Tanja Bause



Op 'n groot stuk grond in Okahandja se Nau-Aib-­ ­informele nedersetting pryk 'n klein tweevertrek­geboutjie.

Buite, op 'n sementblad, is 'n vrou besig om twee groot swart potte aan die kook te hou.

Sodra die skoolklok lui, is dit tyd vir meer as 'n honderd kinders om hul magies hier te kom te vul.

Dié geboutjie is die Khaibasen-gemeenskapsentrum.

Khaibasen beteken “staan op vir jouself”.

Aan die stuur van die sentrum staan Paulina Kujandeka, wat ook Heal the Land, 'n liefdadigheidsorganisasie, se voorsitter is.

Op die plek waar die sentrum nou staan, het Ouma Erika Khoeses 'n kindertuin onder 'n boom begin. Ná haar dood in 2011 het Paulina die bestuur van die kindertuin oorgeneem.

Paulina is op Okahandja gebore en het haar skoolloopbaan op Uis voltooi.

“Ek kon nie verder gaan studeer nie; my ouers het nie die geld gehad nie.”

Sy was een van die stigterslede van die Namibiese Vakbond vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) saam met John Pandeni en Anton Lubowski.

“Ek het by Meatco gewerk en het baie met die werkers te doen gekry.”

Paulina was ook 'n raadslid van Okahandja se munisipaliteit in 2010 en die dorp se adjunkburgemeester van 2010 tot 2013.

“By Meatco het ons mense in die blikkiesdorp met vleis ondersteun. Dit is hoe ek met Ouma in kontak gekom het. Ná haar dood het ek besluit om oor te neem en met die kindertuin voort te gaan,” sê sy.



LEER DEUR SPEEL

Die sentrum het twee klaskamers wat kinders van drie tot sewe jaar huisves.

Babas word ook hier opgepas terwyl hul ouers werk. Tans is daar 64 kinders in die kindertuin.

“Soms is die skole vol en is daar nie plek vir die kinders nie. Dan kan hulle ons klasse 'n jaar lank bywoon,” sê Paulina.

Agnes Gaoses, 'n onderwyser by die kindertuin, werk al die afgelope 12 jaar met kinders.

“Ons leer die kinders deur hulle te laat speel. Ons leer hulle ook ons is almal Namibiërs. Hoewel ons almal van verskillende stamme is, is ons een nasie,” sê sy.

Toe Paulina die leisels oorgeneem het, is 'n voedingsprogram van stapel gestuur.

“Ons kook twee keer 'n week vir sowat 120 kinders. Dit sluit 53 kinders van Oka­handja se asgate in. Die ander kinders is kwesbares van die omgewing,” sê Paulina.

Volgens haar is die stortingsterrein baie kinders se enigste hoop op kos.

“Honger en armoede dwing kinders om kos op die asgate te soek.

“Party maak ook skrootmetaal bymekaar wat hulle verkoop.”

Danksy die sentrum kan die kinders nou moeitevry van 'n vol maag verseker wees.

“Ons wil die kinders nie op die asgate gaan voer nie, omdat hulle dan dink dit moet so wees; dat die asgate hul plek is. Hulle moet hiernatoe kom. Hopelik kan ons hulle daar wegkry.”

Gertrud Geingos, wat van Karibib af Okahandja­ toe getrek het vir werk, kook vir die sentrum.

“Ek het huiswerk gedoen, waar ek ook leer kook het. Ek kook vir die kinders vleis met groente. Hulle kry óf rys óf pap saam met hul kos. Soms maak ek ook vir hulle vetkoek,” sê sy.

Eddy Iipumba, Khaibasen se voorsitter, sê vandag se kinders is môre se leiers, pastore, doktors, ma's en pa's.

“Ons doel is om 'n nasie vir môre te bou. Ons fokus tans op kwesbare kinders in die omgewing en dié op die asgate, maar die nood is baie groter,” sê hy.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!