Kinders, ou mense dood in moskee-skietery

'n Driejarige kleuter is die jongste slagoffer in die aanval op twee moskees.
Kinders en ou mense tot die ouderdom van 71 jaar tel onder die 50 slagoffers wat dood is tydens Vrydag se aanval op twee moskees in Christchurch, Nieu-Seeland.

Verskeie nuusagentskappe in Nieu-Seeland het Saterdag die name en foto’s van slagoffers begin publiseer. The New Zeeland Herald berig daar word geglo Muchad Ibrahim is die jongste slagoffer.

Dié driejarige kleuter was tydens die voorval saam met sy pa, Abdi, en ouer broer by die Al Noor-moskee. Mucad se pa is raakgeskiet en hy het gemaak asof hy dood is. In die harwar het Mucad vermis geraak. Sy familie het na hom gaan soek en later ’n foto op sosiale media geplaas met die onderskrif: “Ons behoort aan God en na Hom sal ons terugkeer. Ons gaan jou mis broer.”

’n Vierjarige meisie wat verskeie kere raak geskiet is, is in ’n kritieke toestand in ’n kinderhospitaal in Auckland. Alin Alsati se pa, Wasseim Alsati, ’n Jordaniese barbier, is langs haar doodgeskiet terwyl hulle besig was om te bid.

BBC het berig van Naeem Rashid (50) wat saam met sy seun, Talha (21), doodgeskiet is. Rashid word geag as ’n held nadat ’n video van hom versprei is waarin gesien kan word hoe hy die skieter probeer platduik en sy geweer probeer afvat.

’n 42-jarige vrou van Bangladesj is doodgeskiet terwyl sy haar man, Farid Uddin, wat aan ’n rolstoel gekluister is, probeer red het, berig BDNews24. Husne Ara Parvin (42) was in die vroueafdeling van die moskee toe sy die skote hoor en het haar na die mans se afdeling gehaas. Sy is doodgeskiet voordat sy by hom kon uitkom. Uddin het oorleef nadat ander mense hom na veiligheid kon bring.

Volgens owerhede in Nieu-Seeland was die dodetal Sondag (Nieu-Seelandse tyd) 50. Nog 12 kritiek beseerde mense is in verskillende hospitale.

Intussen is die Australiër Brenton Harris Tarrant (28) Saterdag in die streekhof in Christchurch van moord aangekla. Tarrant, geboei en geklee in ’n wit tronk-uniform, het in stilte in die hof gestaan.

Hy verskyn op 5 April weer in die hof en volgens die polisie sal daar na verwagting meer klagte op die klagstaat bygevoeg word.

Jacinda Ardern, premier, het die voorval as terrorisme beskryf en dit die “ergste vredestyd-massamoord ooit in dié land se geskiedenis” genoem. Tarrant is weens sy aktiwiteite op sosiale media as ’n wit heerssugtige beskryf. Beeldmateriaal van die aanval op een van die moskees is regstreeks op Facebook uitgesaai en ’n manifes wat immigrante as “indringers/invallers” uitkryt, is aanlyn geplaas. In die beeldmateriaal kan gesien word hoe ’n man na die Al Noor-moskee ry voordat hy die gebou instap en lukraak met ’n semi-outomatiese geweer op mense begin skiet.

Aanbidders in ’n Vrydag-gebedsdiens word gesien waar hulle gewond en dood lê.

In ’n stadium het die skieter na sy kar teruggekeer en met ’n ander wapen weer die moskee ingestap om nóg mense te skiet.

’n Kamera, aan sy kop vasgemaak, het die slagting vasgelê. Altesaam 41 mense is in die Al Noor-skietery dood.

Die Christchurch-polisie sê dit het die beweerde skieter sewe minute geneem om na die tweede moskee, in die Linwood-buurt, te ry waar hy nog sewe mense doodgeskiet het.

Tarrant is 36 minute nadat die polisie die eerste keer gebel is, in hegtenis geneem. Selfgemaakte ploftoestelle is in sy motor gevind.

“Die oortreder was aan die beweeg, daar was nog twee ander vuurwapens in die voertuig en hy was beslis van plan om die aanval voort te sit,” het Ardern gister in Christchurch gesê.

Die besoekende krieketspan van Bangladesj het net by die Al Noor-moskee stilgehou toe die skietery begin het, maar ’n afrigter het aan Reuters gesê dat alle lede van die span veilig is. Nog twee mense was in aanhouding en die polisie sê hulle probeer verstaan of hulle op een of ander manier by die voorval betrokke was.

Nie een van die mense wat in verband met die skietery in hegtenis geneem is, het ’n misdaadgeskiedenis of verskyn op enige terreurwaaklys in Nieu-Seeland of Australië nie.

* Geweldmisdaad is skaars in Nieu-Seeland en die polisie is gewoonlik nie gewapen nie, al het massamoorde al voorheen in dié land plaasgevind. In 1997 het ’n man ses mense, onder wie sy pa, doodgeskiet en vier ander mense gewond by ’n ski-oord in Raurimu. Die hof het hom ontoerekeningsvatbaar bevind.

In 1994 is sewe lede van ’n familie in Dunedin op die Suid-Eiland doodgeskiet. ’n Oorlewende seun is aan dié moorde skuldig bevind, maar is in 2009 weer verhoor en onskuldig bevind.

In 1992 het Brian Schlaepfer ses lede van sy familie op ’n plaas buite Auckland met ’n mes doodgesteek voordat hy homself om die lewe gebring het.

In 1990 het ’n man in ’n tydperk van 24 uur 13 mense in die kusdorpie Aramoana doodgeskiet. – Netwerk24/ Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!