Kinders red ietermago
Elvira Hattingh - Twee kinders het onlangs tot die redding gekom van ’n ietermago wat op die Hosea Kutako-lughawepad raakgery en ernstig beseer is.
Danksy hul hulp herstel hy nou in die veilige sorg van die Namibië Diererehabilitasie en Onderrigsentrum (Narrec).
Die sewejarige Nandi Kavita en haar broer, Hitira, wat tans een jaar en tien maande oud is, het ’n Sondag omstreeks 21:00 saam met hul ouers, dr. Erling Kavita en sy vrou, Clemenciah, van hul naweekboerdery na Windhoek teruggekeer toe hulle die beseerde dier langs die besige pad raakgesien het.
Die ietermago is deur ’n motor raakgery en ’n man wou hom vang en in ’n sak plaas. Dr. Kavita het by die dier stilgehou. Hy sê sy dapper kinders het daarop aangedring dat die man die dier moet laat gaan en die polisie geskakel moet word.
“Die man het later toegegee aan die kinders se versoek om menslikheid en ons het die geval by die nabygeleë padblokkade aangemeld. Die polisie het vinnig opgetree en saam met my terug na die ietermago gegaan en die beseerde dier opgelaai.
“Binne minute is die ministerie van die omgewing en toerisme en Narrec van die voorval in kennis gestel. Die dier is vir die nag na die Windhoekse Dierebeskermingsvereniging (DBV) geneem.”
Die DBV se bestuurder, me. Sylvia Breitenstein, het aanRepublikein gesê hulle het die ietermago oornag warm gehou en versorg, waarna Narrec hom later na die Rhino Park Veeartseny-kliniek geneem het.
“Ná ’n ondersoek is bevind dat die ietermago se poot gebreek is en dat hy aan interne bloeding en skok ly. Die dier het egter goed op behandeling gereageer en word tans by Narrec aangehou.”
Me. Liz Komen, eienaar van die sentrum, sê die ietermago sterk tans goed aan en dat hy selfs begin eet het.
“Hy sal weer vrygelaat word sodra hy gesond is. Daar is geen rede om ’n wilde ietermago aan te hou nie.”
Sy sê die sentrum het oor die afgelope weke drie ietermago’s ingeneem en blykbaar word veral mannetjies tans raakgery.
“Ons vermoed dit is omdat hulle meer as wyfies rondloop vanweë die feit dat hul territoriale gebiede groter is en omdat hulle na wyfies soek.
Gevolglik word hulle meer raakgery,” sê Komen.
“Nandi en Hitira vier nou hul eerste suksesvolle reddingspoging van een van die wêreld se mees bedreigde diere,” sê hul pa.
Terwyl die fokus meestal op die stroping van olifante en renosters val, word sowat 100 000 ietermago’s jaarliks uitgewis, hetsy weens smokkelary, beserings of omdat mense hulle vang en probeer aanhou. Ietermago’s oorleef bykans nooit in aanhouding nie.
Dit is ook die wêreld se mees gesmokkelde soogdier en loop die risiko om heeltemal uit te sterf. Een rede hiervoor is dat hul vleis en skubbe in Asiatiese lande as ’n lekkerny beskou word, terwyl van dié mense glo die skubbe het wonderbaarlike genesingseienskappe.
Alle ietermago-spesies is nou ook op die rooilys van die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUCN) weens die feit dat dit ernstig bedreig is.
Ietermago’s is die enigste soogdiere wat heeltemal met skubbe bedek is en krul op in ’n bal wanneer ’n roofdier dit bedreig. Die skubbe bestaan uit keratien – dieselfde stof waaruit die mens se naels en hare bestaan.
Dit is bykans so groot soos ’n huiskat en het ’n baie lang tong – omtrent net so lank soos sy lyf – waarmee dit miere en termiete eet.
Ietermago’s sal soms aan hul stert uit boomtakke hang en selfs hul liggame horisontaal draai – enige iets om ’n miernes by te kom.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie