Kinders uit armoede verhef
Tanja Bause
Die klanke van tradisionele Nama-musiek weergalm deur Maltahöhe.
Toeriste is in die dorp en hulle het by die Ôahera-kunssentrum kom stilhou om na die musiek van die Amaburuxa-kultuurgroep te luister.
Die groep is in 2001 deur twee onderwysers van die Junior Sekondêre Skool Daweb, me. Elise Pieters en mnr. Simon Anton, gestig.
“Ons het gesien daar is baie behoeftige kinders in die dorp en skool. Wanneer hulle graad 10 slaag, het baie ouers nie die geld om hul kinders na 'n hoërskool elders te stuur nie. Ons het die groep gestig om juis dié kinders te ondersteun met verdere hoërskoolopleiding,” het Anton gesê.
Volgens hom was die begin baie moeilik omdat ouers gevoel het die kultuurgroep het met hul kinders se skoolwerk ingemeng, terwyl ander weer gedink het die groep maak baie geld – iets waaroor daar jaloesie was.
Dit het egter nie vir Pieters en Anton gekeer nie en hulle het kontak met die eienaar van 'n lodge buite Maltahöhe gemaak.
Die kinders is per bus na die lodge geneem om daar op te tree en die geld het begin inkom.
Nadat die kultuursentrum geopen is, is daar ooreengekom dat die groep daar en by die hotel sou optree.
“Ons het na verskillende toeristeondernemings in Windhoek gegaan en die kinders het vir hulle opgetree. Die besighede bespreek nou die groep wanneer hulle busse deur Maltahöhe ry en ons is dus verseker van 'n inkomste,” het Anton gesê.
eerste cd
In 2006 het die Amaburuxa-kultuurgroep hulle eerste CD, Naman !Gâia‡gaob, met die hulp van die Europese Unie vrygestel. Die CD is in 2017 heruitgereik.
Die groep sing tradisionele Nama-liedjies en speel terselfdertyd toneel.
“Terwyl die kinders sing, speel hulle toneel en beeld uit wat gesing word. Hulle dans ook en doen die tradisionele Nama-stap,” het Anton gesê.
In 2006 het die groep ook met 16 lede in Suid-Afrika gaan toer en op die Knysna-kultuurfees in hul afdeling gewen.
“Dit was vir ons iets besonders en vir die kinders, van wie baie nog nooit uit Maltahöhe was nie, baie opwindend,” het hy gesê.
Die geld wat die groep vir hul optredes ontvang, word gebruik om klere te maak, toeronkostes te dek en om vir kinders wat hulle hoërskoolloopbaan wil voltooi, koshuis- en skoolgelde te betaal.
“Daar is ook al kinders wat deur toeriste geborg is om verder te kan gaan leer. Een meisie is tans besig om grafiese kuns by 'n universiteit in Botswana te leer. Dit is deur 'n toeris moontlik gemaak wat haar hoor sing het en baie beïndruk was met haar talent,” het Anton gesê.
Die geld wat die toeriste ekstra betaal, word gebruik om toiletware en kos vir die kinders te koop.
Katrina Berendt (19) het sewe jaar gelede by die Amaburuxa-kultuurgroep aangesluit.
“Die groep is my hele lewe en dit het my lewe verander. My ma het nie die geld gehad dat ek my graad 12 in Rehoboth kon voltooi nie. Die groep het my koshuis- en skoolgelde betaal. Hulle koop ook persoonlike items wat ek benodig en betaal my vervoer sodat ek huis toe kan kom. Ook my skoolklere is deur hulle betaal,” het sy gesê.
Volgens haar het sy ook 'n borg gekry wat vir haar toerisme- en gasvryheidkursusse by die Namibiese Akademie vir Toerisme en Gasvryheid (NATH) betaal. Sy wil 'n toergids word.
“Ek wou nog altyd 'n onderwyseres geword het, maar nadat ek so baie met toeriste in kontak gekom het deur die groep se optredes, het ek besluit om in die toerismebedryf in te gaan. Ek wil in my gemeenskap terugploeg. As toergids kan ek toeriste na ons sentrum en na die Amaburuxa-kultuurgroep bring,” het sy gesê.
regte pad
Laurencious Simon (16) is al vyf jaar deel van die groep.
“Voor ek by die groep aangesluit het, het ek rondgeloop en nie rigting gehad nie. Nou het my lewe verander en ek voel ek is nou op die regte pad,” het hy gesê.
Hy gaan gereeld skool toe en sy punte het verbeter.
“Ek het ook geleer dat jy altyd respek vir ouer mense moet hê. Mnr. Anton sê altyd vir ons ons moet ten alle tye respekvol wees.”
Hy het ook al met die groep na die noorde van Namibië getoer – iets wat hom altyd sal bybly.
“Om deel van Amaburuxa te wees, het my dinge laat sien wat ek nooit op my eie sou kon beleef of sien nie.” Volgens hom het die groep ook sy trots in sy kultuur verstewig en bevestig.
“Ek stel nie in moderne goed belang nie, want ek besef dat my eie kultuur baie mooi is en bewaar moet word. Ek wil eendag ook op 'n tradisionele manier trou soos wat ons opvoer met sang, dans en toneelspeel.”
Tans is daar 39 kinders in die groep waarvan die jongste 11 jaar oud is.
Die liedjies wat gesing word, is almal tradisionele Nama-liedjies wat effe deur Anton gemoderniseer is.
“Een van die kinders verduidelik die storie in Engels vir die toeriste sodat hulle weet waaroor die opvoering en die lied gaan. Sodra hy of sy klaar verduidelik het, begin die kinders die spesifieke lied sing,” het Anton gesê.
Die kleurvolle tradisionele Nama-uitrustings word deur vroue op die dorp gemaak en sodoende verdien hulle ook 'n klein inkomste.
Anton se grootste droom is om 'n kultuursentrum op Maltahöhe te bou waar die kinders kan optree, en diegene wat al ouer is, kan werk.
Van die plaaslike mense se skeppings soos die Nama-lappies, rokke en ander handgemaakte artikels, kan ook daar uitgestal word.
veilige omgewing
“By die sentrum kan van die kinders in 'n veilig omgewing bly en grootword. Baie kinders raak verlore en dit is 'n groot kommer vir ons.
Sommige word sonder toesig groot. As ons 'n pleegsorghuis kan vestig en die kinders daarin kan woon, dan kan ons vir hulle 'n goeie toekoms skep,” het me. Susanna Anton gesê wat ook met die groep uithelp.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie