Kingsley Holgate praat oor ‘Mama Afrika’

Augetto Graig
Augetto Graig - Kingsley Holgate is bekend as die man wat die meeste in Afrika gereis het. Hy is 'n genoot van die Royal Geographical Society, 'n skrywer en filantroop met 'n voorliefde vir Afrika se mense, omgewing en diere.
Hy was onlangs by Nedbank se Motorskou tydens die Toerisme Ekspo die gas van Cymot, Jaguar en Land Rover, die voertuig wat so na aan sy hart lê. “Die hart van Land Rover lê in Afrika,” is een van sy gesegdes. Op sy ekspedisies deur die vasteland, neem Land Rovers hom om watersuiwerende LifeStraws, brille vir behoeftiges, en muskietnette teen malaria namens die Kingsley Holgate-stigting te versprei. Rhino Art is 'n kinderkuns-inisiatief waarmee hy ’n pleidooi vir die bewaring van Afrika se renosters en ander wild lewer. Republikein het die geleenteheid gehad gekry om met hierdie lewende legende te gesels. Die onderhoud het soos volg verloop.

R: Kingsley, wat beteken dit en hoe verdien 'n mens die titel van die man wat meeste in Afrika gereis het?
KH: Wel, ek voel regtig geëerd om onder die Afrika-son gebore te wees en dat ek in my leeftyd die geleentheid gehad het om deur elke land op die vasteland, insluitend al haar eilandnasies, te kon reis. Dit gaan alles oor passie, 'n liefde vir Mama Afrika en 'n onblusbare gevoel van nuuskierigheid en avontuurlus. Nie wetend wat om die volgende draai in die rivier lê nie, nie wetend waar jy jou bed sal maak nie. Dit gaan oor die wild en die kleurvolle kaleidoskoop van mense en verskeie kulture. As Afrika jou eers beet het, dan is dit dit! Om dit eenvoudig te stel; dis die lewe van my keuse.

R: Jy was nog nooit skaam en altyd avontuurlustig. Ons weet na aanleiding van jou boeke dat jou eerste ekspedisies die voetspore van bekende ontdekkingsreisigers soos Livingstone, Stanley en Selous gevolg het. Al is jy nog steeds avontuurlustig, gaan dit nou om humanitêre doeleindes soos die uitwissing van malaria en om oogsorg na plattelandse gemeenskappe te bring? Wanneer en waarom het die klemverskuiwing na die meer filantropiese benadering vir jou plaasgevind?
KH: Dit het lang gelede begin. Ons het die drang gevoel om iets aan die mense van Mama Afrika terug te gee. Die slagspreuk vir ons Land Rover-ekspedisies bly steeds “om avontuur te gebruik om lewens te verbeter”. Net soos malaria baie ontdekkers geteister het, het ons ook gedurig met die stil moordenaar geworstel. Ek het al meer as vyftig keer malaria gehad. Een slag het 'n inwoner in die Land Rover gesterf toe ons met hom hospitaal toe te gejaag het. Dis 'n skoot deur die hart as ons op 'n dorpie afkom waar 'n ma nie weet wat om te doen as haar kind aan malaria ly, terwyl die naaste kliniek of hospitaal twee of drie dae ver is nie. Dit is onaanvaarbaar dat 'n kind elke minuut van die dag sterf van die byt van die Anopheles muskiet. Dus, as ’n familie en as span, het ons aanvanklik met ons eie geld lewensreddende muskietnette begin versprei en met malaria-opvoeding van moeders met kinders onder die ouderdom van vyf jaar begin. Ander organisasies het met ons kragte gesnoer en die program gaan van krag tot krag. Die ander humanitêre projekte wat aan ons ontdekkingsreise gekoppel is, sluit in die verspreiding van Life Straws vir skoon drinkwater en Mashozi se Rite to Sight-veldtog wat brille aan swaksiendes, meestal bejaardes in verafgeleë plekke, verskaf. Dit is so 'n bevredigende ervaring om 'n ouma te sien wat weer die garing deur die oog van die naald kan steek, of om die ou man weer sy gesangeboek te sien lees en ander wat met hul weef- en mandjievlegwerk kan voortgaan.

R: David Livingstone is jou held. Hou het dit gevoel toe jy vir die eerste keer die Victoria-waterval gesien het?
KH: Ons het meer as 'n dekade die voetspore van die vroeë sendelingondekker, dr. David Livingstone, gevolg en ten spyte van sy foute bewonder ek sy Skotse vasberadenheid. Elke keer as ek by Mosi-oa-Tunya of “Die rook wat Donder” is, dink ek aan sy woorde: “Die engele moes hier in hul vlug vertoef het om sulke prag te aanskou.”
R: Ek verstaan terwyl jy in Windhoek was, het jy die Namibiese wetenskaplike gemeenskap toegespreek?
KH: Ja, dit was 'n wonderlike vergadering van gelykdenkende mense en ek kon die verhoog met Adolf Weidlich en Linus Mukwata van die Livingstone Kamp deel om die onbekende verhaal van Livingstone se tyd met die Nakololo-stam in die Linyantistreek van Caprivi te vertel. Livingstone het daardie gebied die tuin van Eden genoem. Ek het baie groot waardering vir die gemeenskapswerk wat die twee mans daar doen om die lewens van die Sangwali-gemeenskap te verbeter, asook die feit dat Linus selfs 'n museum ter ere van Livingstone en die vroeë sendelinge gebou het. Die streek is beslis die moeite werd om te besoek.

R: Is daar 'n verband tussen die verbetering van die toekoms en gesondheid van landelike mense en die bewaring van wild en ongerepte plekke?
KH: Absoluut. Waar moontlik werk ons altyd met personeel van wildreservate en bewaringsorganisasies. Ons koppel opvoedkundige programme vir die bewaringsgemeenskap aan ons humanitêre pogings. As wild en Afrika se manjifieke, ongerepte plekke moet oorleef, moet ons gemeenskappe wat langs die beskermde gebied bly daarvan oortuig. Deur ons renoster- en olifantkuns-programme gee ons die jeug die geleentheid om hul stemme teen wildmisdaad te laat hoor. Ons “Renoster Landie” is bedek met duisende bootskappe teen renosterstroping en op die agterklap is die woorde gekrabbel: “Laat ons nie die geslag wees wat ons kleinkinders moet sê ons het niks daaraan gedoen nie.” Die goeie nuus is dat ons die besoek aan Namibië gebruik het om ons renoster- en olifantkuns-bewaringsopvoedingprogramme bekend te stel met groot ondersteuning van Land Rover Windhoek, Cymot, ISAP, die Livingstone Kamp en ander.

R: Watter persoonlike ontmoetings met renosters of olifante het jy op jou avonture gehad?
KH: Mense kan nie in Afrika reis sonder ontmoetings met een of ander tipe wild nie. Op die Turkanameer was een van ons opblaasbote deur 'n verwoede krokodil uitmekaar geskeur. Olifante het my al stormgeloop en seekoeie het my al gejaag. Ek onthou nog toe ek as kind op een van die eerste wildspaadjies in Zoeloeland, KwaZulu Natal, gelei is deur ikoniese bewaarder, dr. Ian Player. Daar was ek teen 'n boom opgejaag deur 'n swartrenoster en my hemp was vol bloed van 'n doring wat my ooglid oopgesny het. In daardie dae was wit- en swartrenosters nog deel van die natuurskoon in baie dele van Afrika. Wie sou gedink het ons sou so 'n verskriklike krisis in die gesig staar en dat die Zambezivallei byvoorbeeld, nou nie 'n enkele renoster oor het nie. Is dit nie ongelooflik nie dat prentjies van renosters en olifante nog op geldnote verskyn in lande waar hul renosters en olifante deur die gierigheid en korrupsie van geld uitgedun is?

R: Wat is die grootste wanopvattings wat selfs mense van Afrika het, om nie te praat van buitelandse besoekers nie, oor die vasteland wat ons tuiste is?
KH: Een algemene opvatting is dat Afrika net 'n plek van oorlog, armoede, siekte en desperasie is. Tog is daar soveel hoop en moontlikheid in Afrika en ons moet almal bo die verdoemenis en somberheid uitstyg. Geen ander vasteland het so 'n verskeidenheid van tale, stamme en kulture, soveel kleur en tekstuur, wild en wilde vistas nie. Ons moet trots wees en ons moet deel wees van Afrika se vuur en nie in die ou opvattings van 'n “donker vasteland” verval nie. Ek hou van die woorde van Beryl Markham, die Brits- Keniaanse vlieënier wat in die pioniersdae van vlug die eerste mens was om alleen van oos na wes oor die Atlantiese Oseaan te gevlieg het: “Afrika is 'n mistieke plek; dit is wild; dit is 'n snikhete inferno; ‘n fotograaf se paradys, 'n jagter se Valhalla, 'n ontsnapper se Utopia. Dit is wat jy wil en dit weerstaan alle vertolking. Dit is die laaste oorblyfsel van 'n dooie wêreld of die wieg van 'n blinknuwe een. Vir baie mense, net soos vir my, is dit net ons tuiste. Dit is al die dinge, maar één ding, dit is nooit vervelig nie.”

R: Wat is jou boodskap aan bewaarders in Namibië?
KH: Eenvoudig: Moet nooit opgee nie. Julle het een van die grootste wildparadyse ter wêreld en die uitdaging is om dit so te hou.

R: Wat was jou indrukke van Namibiërs wat jy oor die jare teengekom het?
KH: Ons genootskap met die vriendelike, groot, halfwoestynland van Namibië was nog altyd 'n interessante een. Dit gaan terug na wel voor die wêreld-eerste ‘23’27* Capricorn-ekspedisie om die wêreld deur Land Rover, waar die oorsteek van oos na wes van die oudste woestyn in die wêreld, die Namib, een van die mees uitdagende hoogtepunte was. Nog 'n wonderlike Namibiese reis van robbe, skeepswrakke, windstorms en woestynduine was die trek langs die hele Atlantiese kuslyn, insluitend die Sperrgebiet en die Skedelkus al die pad noord na die Kunenerivier op die Angola-grens as deel van die Outside Edge-ekspedisie deur 33 Afrikalande oor 448 dae. Onlangs, gedurende die Boundless Southern African-ekspedisie om bewaring oor suidelike Afrika aanmekaar te skakel, het ons met 'n presidensiële geleentheid na Oranjemund geëindig. Die oorheersende indruk van ons besoek aan Namibië laasweek was een van optimisme, van mense was saamwerk om 'n positiewe toekoms te bou. Ons sal beslis weer kom om meer ekspedisies gekoppel aan humanitarisme en bewaringswerk in die wonderlike land, een van die laaste groot grense van Afrika se wilde plekke, te onderneem.

R: Vertel ons meer van jou laaste ekspedisie?
KH: Na ek die voorreg gehad het om deur elke land in Afrika te reis; van die mond van die Zambezi tot by die mond van die Kongo in die voetspore van Livingstone en Stanley te volg; na ek die reis om die buitelyn van Mama Afrika deur 33 lande en oor 448 dae voltooi het; was ons laaste uitdaging om die geografiese middelpunt van Afrika te vind, iets wat nooit tevore gedoen is nie.
Gewapen met meer as 200 000 GPS-koördinate van die Internasionale Geografiese Unie het ons 'n definitiewe plek gehad om voor te mik, diep in die reënwoude van die noorde van die Republiek van Kongo, nie ver van die grens met die Sentraal-Afrikaanse Republiek nie. Ons het met die Land Rovers tot binne 17,6 km van die middelpunt van Afrika gekom en die res van die rit was pure hel: Ons moes vir sewe dae kruis en dwars en deur diep moerasse trek waar ons gesny is deur doringbosse en aangeval is deur swerms bye. Dit was net te danke aan die veertien Baka-pigmeë wat ons gelei het dat ons daarin geslaag het. Hulle het ons help oorleef deur die bye uit te rook en eetbare wortels uit te grawe om met bessies in die kassavepot (broodwortel) te gooi. Dit is danksy dié wonderlike mense dat 'n baken van hoop nou in die middel, in die hart van Afrika, staan. Ons baken is 'n buitelyn van 'n Afrika-olifant as huldeblyk aan die groot, wilde ikone in die hoop dat hulle vir komende geslagte sal oorleef.

R: En jou volgende ekspedisie?
KH: Ons sal binnekort 'n konvooi van Land Rovers neem op die moeilike, maar ook opwindende oefening om rondom die afgeleë Chew Bahir, die grootste soutoseaan in suidelike Ethiopië, voorheen bekend as die Stephaniemeer, met windaangedrewe vaartuie op wiele te ry. Die ekspedisie sal ook navorsing doen oor en van Afrika se mees fassinerende nomadiese stamme dokumenteer, asook om humanitêre ondersteuning aan die mense van die oorlog-geteisterde Suid-Soedan te bring.

R: Wat se raad kan jy aan medereisigers gee?
KH: Afrika is die wieg van die mensdom. Trap liggies, met waardigheid en respek. Leer om met die tempo en ritme van Mama Afrika te reis. Gun jouself tyd om die raaisel en mistiek van een van die laaste groot grense van die reis en die avontuur in te neem. Mees belangrik, geniet dit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!