Klag teen eerste minister faal
Klag teen eerste minister faal

Klag teen eerste minister faal

Die hoërhof het na bewering geen jurisdiksie oor die saak nie.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) se ondersoekbeampte, mnr. Phelem Masule, se regsgeding teen die Namibiese eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, is van die hofrol geskrap, het regter Eileen Rakow Maandag in die hoërhof gelas.

Masule het die saak aanhangig gemaak nadat Kuugongelwa-Amadhila sy bevordering gekanselleer het, met sy hoop dat die besluit hersien sal word.

Rakow het gesê die hof het geen jurisdiksie oor die saak nie. Die saak is klaarblyklik meer gepas om in die arbeidshof hanteer te word.

Masule was bestem om op 1 Augustus vanjaar mnr. Nelius Becker se posisie as die ACC se hoof van ondersoeke en vervolging oor te neem. Twee weke ná die aankondiging van sy bevordering en kort nadat hy reeds ingetree het, is sy aanstelling in die amp egter geskrap.

Volgens Kuugongelwa-Amadhila het sy hom verwyder op grond van beweerde onreëlmatigheid in die aanstellingsproses.

Masule was glo nie die topkandidaat vir die posisie nie en hy was volgens Kuugongelwa-Amadhila onregmatig in die posisie aangestel. Die eerste minister het gelas dat die aanstellingsproses van voor af moet hervat.

Rakow het in die hof gesê 'n volledige uiteensetting van die redes waarom die saak van die rol geskrap is, sal binnekort op die regbank se e-justice platform vir die publiek beskikbaar wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer