Klagte teen betogers laat vaar

Die aanklaer-generaal het besluit dat geen vervolging nodig is van die gearresteerde betogers teen geslagsgeweld nie.
Augetto Graig
Augetto Graig

Die aanklaer-generaal (AG), me. Martha Imalwa, het besluit om alle klagte teen betogers teen geslagsgeweld te laat vaar en al 23 betrokke jong Namibiese vroue en mans is vrygelaat.

Ná ure van wag kon die jong betogers en hul ondersteuners wat buite die Windhoek-landdroshof die bloedige son deurgebring het, huis toe. Daar was vreugde in die hoofstad, met veral die moeder van ’n 16-jarige dogter wat verheug was dat sy sonder ’n misdaadrekord deur die ervaring kon kom.

Die prokureur mnr. Henry Shimutwikeni het net voor 14:00 die beskuldigdes van die AG se besluit ingelig. Volgens hom is dit nie ’n geval dat daar geen oortreding was nie, maar ná oorweging het Imalwa besluit om die klagte terug te trek.

Die betogers was aanvanklik beskuldig van oortreding van Covid-19-regulasies waarin die grootte van byeenkomste beperk word, asook ander ongespesifiseerde gesondheidsmaatreëls.

“Julle is vry om te gaan,” het hy aan die jongmense gesê.

Die Unam-studenteverteenwoordiger me. Naledi Kunene was tussen die 23 wie hul lot by die landdroshof gaan hoor het.

“Ons is pas gesê die klagtes word laat vaar en ons is baie, baie gelukkig daaroor,” het sy minute ná Shimutwikeni se aankondiging gesê.

“Ons is opgewonde. Ons sal aanhou veg vir geregtigheid in die land omdat ons die toekomstige generasie is. Ons is die generasie wat binnekort sal oorneem,” het sy gesê.

Kunene het hul regsverteenwoordigers en die jong mans en vroue wat hulle ondersteun het bedank. Sowat 150 ondersteuners het hul blydskap uitbundig gedeel soos die groep van daar Zoo Park toe gestap en hul goeie nuus gevier het.

Die nasionale polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, het gisteroggend in ’n verklaring gesê uitdrukking van ontevredenheid moet op ’n wettige en toepaslike manier geskied. Volgens hom was die protesoptog teen geslagsgeweld wat Donderdag in die hoofstad begin en Saterdag in die polisie se gebruik van traangas ontaard het, onwettig en nie volgens die juiste prosedure nie.

Ndeitunga het ook spesifiek die inhegtenisneming van vier joernaliste saam met die betogers geopper.

“Wanneer joernaliste te midde van oproermakers staan, moet hulle hul teenwoordigheid onderskei van dié wat onwettig optree om verkeerde identifisering te vermy. Joernaliste moet ten alle tye hul mediakaart vertoon vir onmiddellike identifikasie,” sê Ndeitunga. Die betrokke joernaliste was Saterdag teen skemertyd ná ure se ondervraging vrygelaat.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer