Klagtes oor gebrek aan akkreditasie

Sommige studente by 'n opvoedkundige instelling in die hoofstad meen hul kwalifikasies is niks werd nie.
Cobie Bok
Cobie Bok - Sommige studente beskuldig die Nomad Institute of ­Holistic Therapy in Windhoek-Wes, waar kursusse in skoonheidsterapie en tuis­verpleging aangebied word, van ongerymdhede.

'n Paar studente het gaan ondersoek instel nadat hulle uitgevind het hul ­kwalifikasies by dié opvoedkundige ­instelling word nie deur die Namibiese Opleidingsowerheid (NTA) erken nie.

“Ons het die NTA geskakel, wat bevestig het Nomad is nie by die NTA geregistreer of geakkrediteer nie. Die eienaar van Nomad, me. Marianne Akwenye, het vir ons gesê sy onderhandel tans met die NTA vir akkreditasie.

“Die NTA het gesê hulle het tot dusver nog geen vergaderings met Akwenye gehad soos sy beweer nie,” het 'n student gesê.

Volgens die student, wat anoniem wil bly, het hul ses maande lange kursus in tuisverpleging, wat N$6 000 plus registrasiefooie beloop, in Augustus begin.

“Ná ons eksamens moes ons ons uitslae in Maart kry waarná ons ons ­sertifikate tydens 'n seremonie sou ontvang. Akwenye het voortdurend verskonings gehad en gesê sy wag vir borge vir die seremonie. Sy het ook gesê ons sal ons uitslae eers ontvang wanneer almal hul studiegelde betaal het,” het die student gesê.

Akwenye het op navraag van Republikein bevestig sy is nog besig om met die NTA vir akkreditasie te onderhandel.

“Die studente moet net vasbyt,” het sy gesê. Akwenye het gesê Nomad Spa Academy is op 1 Julie 2008 gestig om ­geleenthede vir jongmense wat nie graad 12 voltooi het nie, te bied om kursusse in massering en skoonheidsterapie te volg.

Die kursus in tuisverpleging het volgens haar eers verlede jaar afgeskop.

Beide die NTA en die Namibiese ­Kwalifikasieowerheid (NQA) het aan Republikein bevestig Nomad is nie by hulle geakkrediteer nie.

Me. Ruusa Shimooshili, registrasie-­administrateur by die NTA, het ontken dat Nomad daar geregistreer is.

“Die diensverskaffer waaroor u navraag doen, is nie by die NTA geregistreer nie.”

Sy het as stawende dokument die lys verskaf van opleidingsinstansies wat wel geregistreer is.



'NIE PLAASLIK ERKEN'

Volgens me. Anna Hango, bemarkings- en kommunikasie-assistent by die NQA, is Nomad ook nie by dié owerheid as opleidingsdiensverskaffer geregistreer nie.

Akwenye het wel in antwoord op ­Republikein se navraag gesê die Britse beroepsopleidingsinstansie, ­Vocational Training Charitable Trust (VTCT), het by die NQA om registrasie aansoek gedoen.

Dié aansoek is hangende, sê Hango.

Op die vraag aan Akwenye waarom haar instelling nie deur die NTA of NQA erken word nie, het sy gesê “die ­kursusse word nie plaaslik erken nie, maar wel ­internasionaal”.

Een van die skoonheidsterapie­studente het glo al verlede jaar 'n uitval met Akwenye gehad, wat glo daartoe gelei het dat sy geskors is.

Die skoonheidsterapiestudente doen glo hul internskappe sedert Desember by lodges sonder enige betaling.

Akwenye het aan Republikein gesê die student is laat gaan “omdat die student die oorsaak is dat ek 'n kontrak van N$20 000 by 'n lodge verloor het”.

Sy het gesê studente kry nie betaling tydens hul internskappe nie.

“Die studente hang nou net by die lodges rond sonder enige betaling of regmatige kwalifikasie,” het 'n student gesê.

“Ons het finansiële verpligtinge en nou sit ons sonder enige sertifikate met waarde­lose kwalifikasies wat nie erken word nie. Waar gaan ons werk kry?”

Geen klagte is al teen die instelling ­ingedien nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!