Klassieke konsert eer Covid-slagoffers, noodwerkers

Yandi Du Plessis
Die Namibiese Nasionale Simfonieorkes (NSSO) en die Cantare Audire Ensemble bied eersdaags 'n Beethoven-konsert by die Nasionale Teater (NTN) in die hoofstad aan.

Ludwig von Beethoven sou verlede jaar sy 250ste verjaardag gevier het, en die nalatenskap van dié komponis is in 2020 wêreldwyd vereer. Ongelukkig kon meeste van die konserte vanweë die Covid-19-regulasies nie plaasvind nie. Die NNSO bied dus 'n produksie van Beethoven se Romance for violin and orchestra aan, asook sy Mass in C major saam met die Cantare Audire Ensemble, 'n bekende koor wat deur wyle Ernst van Biljon gestig en gedirigeer is. Dié opvoering is ter nagedagtenis van almal wat Namibië tydens die pandemie verloor het en om almal te eer wat die stryd teen dié krisis veg.

Christian Ludwig sal die orkes en koor dirigeer. Ludwig het ook as dirigent in die NSSO se Concerto Festival in September vanjaar opgetree. Hy woon tans in Bonn in Duitsland en is die dirigent en musikale direkteur van die Orchester der Landesregierung Düsseldorf (orkes van die staatsregering van Düsseldorf), asook verskeie ander orkeste.

Die soliste vir die konsert is Emily Dangwa (sopraan), Alida van der Walt (alt), Jacques du Preez (tenoor) en Bernaby Coetzee (bas). Luidens 'n mediaverklaring van die NSSO wat onlangs uitgereik is, is al die sangers en meeste van die orkes- en koorlede Namibiese burgers.

Saam met die Mass in C major, sal Beethoven se Romance for violin and orchestra ook uitgevoer word met Jürgen Kriess as solis. Twee ander stukke van 'n plaaslike komponis, Eslon Hindundu, sal ook opgevoer word. Dié konsert beloof veelsydigheid en 'n viering van die grootsheid van Beethoven se nalatenskap.

Die konserte word Vrydagaand 26 November om 20:00 by die NTN uitgevoer, en 'n korter matinee-uitvoering op Saterdag 27 November om 11:30 waar slegs uittreksels van die konsert gespeel sal word. Die finale konsert vind Saterdag om 20:00 plaas.

Kaartjies is op Webtickets Namibia, sowel as by Pick n Pay-kiosks in Windhoek beskikbaar.

Diegene wat verkies om die konsert aanlyn te kyk, kan regstreeks inskakel op die NSSO se Facebook-blad. Kaartjies om aanlyn te kyk, is ook by Webtickets beskikbaar.

Net 'n sekere aantal mense kan tans die regstreekse opvoerings bywoon, maar Covid-regulasies kan moontlik voor die konsert verslap word. Indien dit gebeur, sal meer kaartjies onmiddellik beskikbaar gestel word.

Die produksie is moontlik danksy die finansiële steun van die Duitse ambassade in Windhoek. Die NNSO en Cantare Audire het die ambassade vir hul ondersteuning van die ­Namibiese kuns- en kultuurbedryf geloof.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!