Klassieke musiek by die see

Tanja Bause
Tanja Bause - Saterdagoggende kan die klanke van ’n blaasorkes by die Mole op Swakopmund gehoor word.

Sewe jongmense sit in swart geklee op ’n muur en vermaak toeriste en plaaslike besoekers onder die leiding van die dirigent mnr. Ruan Gurirab.

Die Immanuel-blaasorkes is in 2007 onder die leiding van pastoor Sacheus /Khaib van die Immanuel-gemeente op Swakopmund begin.

“Vandag se jeug stel meestal net in drank en kattekwaad belang. Ons het egter besluit om die orkes, wat deur ons ouderlinge begin is, nuwe hoogtes te laat bereik,” het Gurirab gesê.

Hy het op 12-jarige ouderdom op Arandis, sy tuisdorp, met sy musikale reis by die Brotherhood-blaasorkes begin.

Hy speel onder meer die trompet, tromboon, tuba en flügelhorn.

Tans bestaan die orkes uit 15 lede wat Saterdae by die Mole speel.

Aanvanklik het die kerk van die lede van instrumente voorsien, maar deesdae moet elke lid sy eie instrument hê.

“Baie van ons jong lede het die instrumente by hul ouers, wat in die orkes was, leer speel. Sommige speel ook hul ouers se instrumente. Ons lei dié wat graag wil leer speel by die kerk op,” het Gurirab gesê.

Die geld wat die orkes by die Mole insamel, word gebruik om die koste van optredes te dek.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer