Kleinsake en corona: Wenke vir oorlewing
Kleinsake en corona: Wenke vir oorlewing

Kleinsake en corona: Wenke vir oorlewing

Oorweeg ’n afleweringstelsel as jy weet jou klante gaan jou onderneming vermy omdat dit in ’n openbare ruimte is.
Francois Williams – Die drastiese stappe om die corona-pandemie te stuit het ’n vernietigende invloed op veral kleinsakeondernemings.

Mike Anderson, uitvoerende hoof van die Nasionale Kleinsakeraad (NSBC), gee die volgende wenke vir kleinsake-eienaars om te oorleef.

Kommunikeer openlik met klante

Oorweeg ’n afleweringstelsel as jy weet jou klante gaan jou onderneming vermy omdat dit in ’n openbare ruimte is. Lig hulle in oor die stappe wat jy doen om risiko’s te verminder, soos om bedryfsure te verander of jou winkel te sluit vir ’n deeglike skoonmaak.

Verhoog jou teenwoordigheid op sosiale media

Jou klante is reeds op sosiale media en tans nog meer om op die hoogte te bly van nuus oor die pandemie. Sorg dat jy daar is om te wys jy gee om en dat jy nog oop is vir sake.

Bied aanlyn winskope

As jy reeds aanlyn verkope doen, herinner klante daaraan dat hulle steeds jou produk of diens aanlyn kan kry. Gebruik afslag of spesiale koepons om aanlyn inkope aan te moedig siende dat jou klante in elk geval nou tuisbly.

As jy ’n diens lewer soos ’n restaurant of haarsalon, kan jy aanlyn geskenkbewyse verkoop wat mense kan gebruik as die pandemie verby is. Dit hou jou onderneming aan die gang en gee klante iets om na uit te sien.

Hou terug met besteding

Dit is nou die tyd om terug te sny op uitgawes wat nie kritiek vir die bedryf van jou onderneming is nie. Fokus net op die noodsaaklike goed vir die doeltreffende bedryf van jou onderneming. Probeer die geld invorder van mense wat jou nog geld skuld.

Stel ’n gebeurlikheidsplan op

Dis nou die tyd om krities na jou onderneming te kyk. In taai tye wys kleinsakelui en entrepreneurs hoe veerkragtig en vernuftig hulle kan wees. Onderhandel met jou verskaffers en bly in kontak met hulle. Kyk hoe jy jou aanbod kan aanpas en verbeter om die moeilike tye te kan oorleef. Kry jou span betrokke vir ’n dinkskrum of strategie-sessie.

Kommunikeer met jou personeel en word meer buigsaam

Oorweeg buigsamer werkopsies soos om oor ’n afstand te werk of meer buigsame werkure. Hou werknemers ingelig oor die virus. Besluit hoe jy afwesigheid sal hanteer en hoe jy dit gaan hanteer as mense siek word.

Benut tegnologie

Geoff Jacobs, president van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid, sê op sy beurt die pandemie bied klein tot middelslagondernemings die kans om gedragsveranderinge aan te pak wat tot voordeel van die onderneming sal wees lank nadat die pandemie verby is.

Dit sluit die benutting van tegnologie in soos tele- en videokonferensies wat tot dusver selde tot hul volle potensiaal benut is.

Selfs slimfone waarmee ’n videokonferensie-oproep gemaak kan word, is nou veel goedkoper as tradisionele en duur videokonferensiegeriewe.

Om van die huis af te werk is tot dusver nog net halfhartig aanvaar en benut vir spesiale omstandighede en vir beperkte tye, maar met die corona-pandemie kan dit ’n norm word, sê Jacobs.

· Intussen sê FNB hy bied steeds lenings aan kleinsakeondernemings, en het in sy afgelope halfjaar tot einde Desember sy lenings aan kleinsake met R1,4 miljard tot R39,2 miljard laat groei.

Daar is ’n groeiende vraag na ongesekureerde lenings aan beginnerondernemings, en FNB Business het sedert Augustus 2018 al meer as R35,5 miljoen aan 683 sulke klein ondernemings uitgeleen wat nooit andersins vir ’n banklening sou kon kwalifiseer nie, sê Daniel Kaan, uitvoerende hoof van kernbanksake by FNB Business.

· Nog ’n maatskappy wat ondernemings help om die pandemie te oorleef, is Saucecode, wat tot einde Junie sy sagteware Tistro – wat werknemers kan gebruik om oor ’n afstand te werk – gratis aan ondernemings bied. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!