Kleinveebemarking: Gee vrye mark ’n kans

Die ombudsman en die Vleisraad doen tans ‘n roep op die regering om die jare lange kleinveebemarkingskema af te skaf, wat die skaapbedryf tans op sy knieë het.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - “Ons doen ‘n beroep op die minister van landbou, water en bosbou om die ombudsman se verslag oor die kleinveebemarkingskema onmiddellik te implementeer en om die omstandighede ná drie of vyf jaar te herevalueer.

“Ek wil my verstout deur te sê: Wag en kyk wat vermag ‘n vrye mark en hoe positief die landbou-ekonomie van die Suide kan groei.”

Dít was mnr. Piet Gouws, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), se woorde tydens dié liggaam se 55ste kongres in Windhoek.

Hy het tydens sy voorsittersrede gesê die Namibiese ombudsman, adv. John Walters, het die afgelope Maandag met minister Alpheus !Naruseb vergader.

Die ombudsman het die kongres later die middag bygewoon om terugvoering oor sy besoek aan die minister te gee.

Hoewel hy toe nog op ‘n antwoord van die minister gewag het, het hy kongresgangers meegedeel die minister het glo reeds ‘n verslag oor die bemarkingskema saamgestel wat na die kabinet gestuur is.

OP SY KNIEË

Dít volg nadat die Vleisraad van Namibië se handelsbestuurder, mnr. Goliath Tujendapi, statistieke gewys het waarvolgens die nasionale skaapkudde van 1,3 miljoen sowat 20 jaar gelede na sowat 700 000 in 2017 gekrimp het.

“Die skaapsektor staan nou op sy knieë,” het Tujendapi gesê. Hy het bygevoeg dit lyk of die Vleisraad se versoek vir die afskaffing hiervan eindelik tot die regering deurdring, maar die minister het nog nie sy finale antwoord gegee nie.

“Produsente kan nie langer verantwoordelik gehou word vir die ondoeltreffendheid en koste van abattoirs nie en die Namibiese ekonomie kan nie die reuseverliese bekostig wat deur die kleinveebemarkingskema veroorsaak word nie,” het Gouws gesê.

“Solank as wat gesonde mededinging afwesig is, sal abattoirs nie hul verantwoordelikheid nakom ten opsigte van waardetoevoeging, mededingende pryse en markontwikkeling nie. Dis ironies dat B- en C-graad abattoirs nooit op regeringsbeskerming aandring nie.

“Die vraag moet gevra word: Wanneer word waardetoevoeging in die naam van die Namibiese Huis eintlik die wegkalwing van waarde en van die grondslag van die Namibiese Huis?”

Gouws het verder gesê daar bestaan ‘n groeiende vraag na bio- en natuurlike produkte, soos Namibië se natuurlik geproduseerde hormoonvrye skaap- en beesvleis.

Die voorsitter het verder gesê die LPO glo slagbees in die land het nie verminder nie, maar speenkalwers is ‘n meer lewensvatbare opsie.

“Namibië het nie die weidingsvermoë om méér speenkalwers in die binneland tot slagbeeste te laat uitgroei nie. Daar is slegs groter ruimte en daarmee saam meer keuses en bermarkingsgeleenthede geskep. Boonop word 80% van slagbees nie meer soos voorheen aan Meatco voorsien nie,” het Gouws gesê.

TERUGVOERING OOR GRONDBERAAD

Die president van die Namibië Landbou-unie (NLU), mnr. Ryno van der Merwe, het gister terugvoering oor die afgelope grondkonferensie aan kommersiële boere gegee en gesê hy het reeds oproepe van boere ontvang wat met planne vorendag gekom het oor hoe meer vir grondhervorming gedoen kan word.

Van der Merwe het gesê die beraad, wat tot 169 resolusies gelei het, gaan tot sekere drastiese veranderinge lei, maar die goeie nuus is eiendomsreg gaan steeds beskerm word.

“President Hage Geingob het ons egter uitgesonder en gevra wat ons gaan doen om die lewensgehalte van ons plaaswerkers te verbeter wat behuising, sanitasie, aftrede en armoede-uitwissing betref.

“Ek het simpatie met sy omstandighede. Sy grootste uitdagings is ongelykheid en armoede wat steeds heers. Ons kan hom ondersteun waar ons ‘n regstreekse invloed het – op ons plaaswerkers.

“Die president wag egter op ‘n antwoord van ons: Wat gaan ons doen? Ek wil julle gevoelig maak. Ons sal ‘n besluit moet neem,” het Van der Merwe gesê.

“Ons word as ongetrou teenoor die land ervaar – die minister van landbou het dit op die beraad gesê. Ons word as ‘n eksklusiewe groep beskou wat alles vir onsself wil hou.”

EMOSIONEEL

Van der Merwe het gesê tydens die beraad het politieke emosies oor grond die botoon gevoer en wou hulle nie hoor van die ekonomiese werklikhede wat kommersiële boere onder hul aandag wou bring nie. Hy het gesê klem is hoofsaaklik gelê op die ongelykhede van die verlede.

Hy het vertel van die prokureur-generaal wat na hul groep gekyk het en toe ‘n rekkie gevat en uitgerek het tot dit gebreek het.

“Hy het gesê ons moenie die regering onder spanning plaas wat breekpunt sal bereik nie.”

Van der Merwe het gesê tydens die grondberaad is oor kommersiële boere veralgemeen.

“Daar is gesê ons behandel plaaswerkers swak en los dié wat geslagte lank vir ons werk in die korridors; dat ons plase saboteer wat vir hervestiging verkoop word.”

Van der Merwe sê al kon dit net een of twee keer gebeur het, is die nadeel dit lei tot veralgemening.

“As een voorheen bevoordeelde iets verkeerd doen, word dit veralgemeen asof dit die norm is. Duisende van ons behandel ons plaaswerkers uitstekend, maar al noem jy dit – dit tel nie nie.

“Dit is goed dat ons daar was – dink net aan die nagevolge as ons nie daar was nie. Ons het bande gesmee en probeer om ons standpunte te stel, maar ons vier verteenwoordigers kon nie die konferensie omswaai op kwessies soos dat elke Namibiër slegs een plaas kan besit nie.”

LEIERSKAP GEKONFRONTEER

Hy het bygevoeg kommersiële boere moenie hul eie vrese skep nie.

“Ons skiet onsself in die voet met aggressiewe en roekelose WhatsApp-boodskappe wat ons die wêreld instuur. Ons leierskap word gekonfronteer; dit is ongemaklik.

“Ons gaan verantwoordelik vir ons eie toekoms wees. Elke lid sal ’n besluit oor sy eie toekoms moet neem. U moet die erns van die saak besef. Ons kán ’n ongelooflike verskil maak. Die NLU gaan nie verantwoordelikheid vir roekelose enkelinge neem nie.”

Van der Merwe het gesê hy is steeds nie moedeloos oor boerdery nie. “Ek gaan voortgaan om in landbou te belê. Ons hét ‘n reg en ek staan op daardie reg.”

Van der Merwe het gesê boere moenie moedeloos wees nie, maar wel die erns van die saak besef.

“Ek begin nou weer opgewonde raak. Ons het nog die geleentheid en die beheer om te help besluit hoe die planne (vir ‘n meer gelyke Namibië) moet lyk,” het hy onder staande applous van die gehoor gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!