Kleremaker smag na elektriese naaimasjien

Tanja Bause
Tanja Bause – “Op skool, in graad 4, het ek vir die eerste keer met naaldwerk te doen gekry.

“Ek het destyds gedink dit is maar net nog ’n skoolvak, en vandag doen ek naaldwerk om my inkomste aan te vul,” het Lena Booysen van Keetmanshoop gesê.

Lena is op Keetmanshoop gebore waar sy grootgeword en skoolgegaan het.

“Ander anties het vir my klere gemaak en die een rok was toe heel skeef gewerk. Ek het besluit om hom uitmekaar te haal en reg aanmekaar te sit,” het sy gesê.

In 1997 het sy die eerste rok vir haar grootmaakma gemaak en dit is toe dat die naaldwerkgogga behoorlike gebyt het.

Sy het klereherstelwerk en aanpassings vir ander mense begin doen. Al hoe meer inwoners van die buurt het haar diens gesoek, en mettertyd het sy klere begin maak. “Ek maak nou alles - van tradisionele Namarokke tot rokke vir die koor en vir strooimeisies.”

Haar man, Thomas Andries, is haar regterhand wat raad en idees gee.

“Ek werk glad nie van patrone af. As iemand vra dat ek ’n rok maak, dan neem ek die mates en hulle gee die materiaal. Die materiaal besluit watter patroon of rok ek moet maak en dan begin ek werk ek uit my kop uit.

“Ek werk elke dag tot 14:00. Dan haas ek huis toe sodat ek met my naaldwerk kan begin. Die ekstra geld wat ek daarmee verdien, voed die kinders en betaal die krag vir die huis,” het sy gesê.

Lena het tans net ’n handaangedrewe naaimasjien.

“Ek het krag by my huis, maar kan nie ’n elektriese masjien bekostig nie. Met so ‘n masjien kan ek baie meer werk gedoen kry en ook vroue opleiding gee sodat hulle by hul huis kan gaan werk en geld vir hulself en hul families kan verdien. Só kan ek ook werkloosheid bekamp.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer