Kleurvariante bedreig trofeejag

Namibië het ‘n fantastiese reputasie onder die jaggemeenskap wêreldwyd, maar dít word in die gedrang gebring deur die bekendstelling van diere met skaars genetiese eienskappe.
Catherine Sasman
Catherine Sasman

Die Namibiese trofeejagbedryf is diep bekommerd oor die onderduimse bekendstelling van geneties gemanipuleerde wild. Dié tendens het van Suid-Afrika af oorgewaai waar die mark vir sulke spesies in duie gestort het.

In Suid-Afrika is dit wettig om wild met rare genetiese eienskappe, soos kleurvariasies of buitengewoon lang horings te teel.

Gewilde rasse sluit in impalas met swart of wit flanke, goue wildebeeste, goue gemsbokke, die koningwildebees en verskeie ander variante.

Namibiese wetgewing maak nie voorsiening vir hierdie soort boerdery nie. Die ministerie van die omgewing en toerisme (MET) en bewaringsinstansies keur dit ook nie goed nie.

Die Namibië professionele jagtersvereniging (Napha) het reeds twee jaar gelede enige kunsmatige teling vir trofeejagdoeleindes veroordeel.

Napha en ander organisasies soos die Namibië Natuurstigting (NNF) en die Federasie van Namibiese Toeriste verenigings (Fenata) bly ook ferm in hul verwerping van hierdie nuwe tendens wat onberekenbare skade aan Namibië se reputasie in die trofeejagbedryf en die jagindustrie in die algemeen kan aanrig.

“Trofeejag vorm ‘n groot deel van ons natuurlike hulpbronne in Namibië. Die gemiddelde internasionale trofeejagter wat Afrika toe kom en die idee van oop ruimtes en etiese en bewaringsgerigte jag nastreef, wil nie weet ons teel intensief en selektief vir jagdoeleindes nie,” sê me. Danene van der Westhuyzen, professionele jagter en Napha se president.

‘n Paar groot jagplase in Suid-Afrika het in 2009 begin eksperimenteer met kleurvariante en selektiewe teling vir spesifieke eienskappe.

Hierdie segment van die wildbedryf het rondom 2013 ‘n groot hupstoot gekry omdat die diere teen astronomiese pryse verkoop is met die versekering dat die aanvraag onder jagters vir dié diere toeneem.

Vir ‘n ruk het dit so goed gegaan dat die Financial Mail in Suid-Afrika berig het dit vaar selfs beter as die beste finansiële instrumente op die Johannesburgse aandelebeurs.

Soveel opwinding het oor kleurvariante ontstaan dat dié neiging toegeneem het.

Die borrel het egter op skouspelagtige wyse gebars. Al het die pryse by wildveilings in Suid-Afrika in die algemeen met 10% in inkomste gedaal en 16% in diere wat opgeveil is, was die val in pryse vir kleurvariante drasties.

Terwyl die jagbedryf in Suid-Afrika meer as N$10 miljard ‘n jaar voortbring (N$2 miljard hiervan is afkomstig van trofeejag) het die jag van kleurvariante drasties afgeneem.

Daar is oënskynlik geen betekenisvolle aanvraag in die verantwoordelike jagsektor vir hierdie gemanipuleerde diere nie. Die gevolg is ‘n ooraanbod van teelmateriaal met geen gedefinieerde verbruikersmark nie.

Tussen Maart 2015 en April 2017 het pryse vir sommige kleurvariante in Suid-Afrika, veral vir vroulike diere in teel-kuddes wat op veilings verkoop is, van ongeveer N$500 000 tot minder as N$100 000 per dier geval.

Die prys van ‘n swart impala het met 87% geval, koningwildebeeste met 80%, buffels met 45% en goue wildebeeste met 40%.

Tog bly die herhaalde belofte van vinnige geld in moeilike ekonomiese tye ‘n aanloklike uitweg vir sommige wildboere in Namibië, terwyl Suid-Afrikaanse telers sedert 2015 en 2016 hul gemanipuleerde wildspesies aggressief bemark.

Plaaslik lyk dit of belangstelling aan die toeneem is al is dit net ‘n klein, maar invloedryke groep in die jaggemeenskap wat deur die belofte van massiewe wins verlei word.

Wildlife Ranching Namibia is ten gunste van intensiewe teling. Hulle glo die verskynsel is nie net goed vir trofeejag nie, maar hou ook potensiële byvoordele soos die produksie van wildsvleis in.

Intensiewe teling van wild vir vleis het egter ‘n negatiewe invloed op die bemarkbaarheid van vrylopende (free range) wildsvleis sonder antibiotika en aanvullings.

Nog ‘n argument is dat intensiewe teling veroorsaak dat minder grond nodig is en meer grond dus beskikbaar gestel word vir grondhervormingsdoeleindes en werksgeleenthede in die wildbedryf.

DIE OPWINDING

Angus Middleton, die NNF se uitvoerende hoof, sê die opwinding oor kleurvariante en ander skaars diere word veroorsaak omdat dit aantreklike trofeë vir jagters is wat toppryse sal betaal.

“Die werklikheid is dat die groot trofeejagorganisasies nie diere wat intensief gemanipuleer is op hul trofeerekords aanvaar nie,” sê Middleton.

Hierdie trofeejagorganisasies sluit groot internasionale spelers soos Safari Club International, Dallas Safari Club, Boone & Crockett, Roland Ward, en die International Council for Game and Wildlife Conservation in.

“Dit is onbetwisbaar dat daar geen aanvraag vir hierdie diere aan die toppunt van die mark is nie en ten spyte hiervan bestaan die mite steeds dat indien ‘n mens hierdie diere koop, jy groot geld in die trofeejagmark sal maak,” sê Middleton.

GEEN MARK, GEEN BEWARINGSWAARDE

Lizanne Nel, bewaringsbestuurder van die SA Hunters and Game Conservation Association (SAHGCA), sê verantwoordelike jagters wil wild inderwaarheid in ‘n regverdige jagsituasie in die diere se natuurlike omgewing jag.

“Wild wat intensief geteel en soos landboukuddes gemanipuleer is, raak mak en verloor hul natuurlike vermoë om in die natuur te oorleef,” sê Nel.

Die jag van hierdie diere kan skade aan die reputasie van die verantwoordelike jagbedryf aanrig, sê sy.

Verlede jaar het die reputasie van Suid-Afrika se trofeejagbedryf ernstige skade gely toe die dokumentêre program Blood Lions, oor die teel van leeus in aanhouding, uitgereik is.

Amerika, wat die meeste internasionale jagters het wat in Suid-Afrika jag, het ‘n verbod geplaas op die invoer van trofeë van leeus wat in aanhouding geteel is.

Enigiemand wat nou ‘n leeutrofee in Amerika wil inbring, moet kan bewys dat die jag tot die langtermynoorlewing van die betrokke spesie bydra.

Dít het tot ‘n ooraanbod van tussen 7 000 en 8 000 leeus in teelplekke gelei.

Telers kyk nou na alternatiewe markte soos die handel in leeubene in veral China.

“Is dit werklik die rigting waarheen ons met ons wild wil gaan?” vra Nel.

“As die maatskaplike, ekonomiese en ekologiese impak van die openbare verset en die internasionale reaksie op die jag van leeus wat in aanhouding geteel is, ‘n aanduiding is van die risiko wat die jag van wild inhou wat in aanhouding geteel is, moet die wildbedryf die korttermyn- finansiële voordele opweeg teenoor die langtermynnadele vir die natuur en vir die land as leier op die gebied van bewaring en as voorkeur- wildbestemming.

SKADE AAN DIE OMGEWING

Nog ’n groot bron van kommer is die impak op die natuurlike omgewing en ander dierelewe.

In ‘n kwessie van minder as 10 jaar van intensiewe wildteling in Suid-Afrika is uitgebreide jagplase in klein kampe opgedeel en met hoë elektriese heinings omhein - sommige met soveel as 15 elektriese drade by teelgeriewe.

Dit beteken groter druk word geplaas op vrylopende wild soos jagluiperds, wildehonde en kleiner diere soos skilpaaie en selfs miskruiers, wat in massas vrek weens ondeurdringbare elektriese heinings wat tot teenaan die grond strek.

Navorsing toon een van die grootste oorsake van die uitwissing van ietermagô’s, afgesien van onwettige handel, is elektriese heinings.

Ystervarke, wat gate onder die drade grawe, word deur boere uitgewis wat geen kompetisie vir die nuwe, duur kleurvariante duld nie.

Geen versagtingsmaatreëls word getref om hierdie diere te beskerm nie.

Ander risiko’s sluit lynteling in om rare eienskappe reg te stel, siektes wat met die teling van wildspesies in intensiewe landbouproduksiestelsels geassosieer word, asook die transformasie van die natuurlike habitat.

Hoeveel impak bestaan, hang af van die aard en omvang van die telingspraktyke,” sê Nel.

Van der Westhuyzen is diep besorg oor die impak wat dit op Namibië sal hê.

Sy sê indien Namibië sy reputasie nie beskerm nie, sal jagters elders heen gaan omdat die meerderheid jagters verantwoordelik wil jag.

“Dit is asof die intensiewe telers in ‘n borrel leef. Hulle het geen benul van hoe die wêreld dit sien nie en tree bloot in hul eie belang op.

“Enigiemand word toegelaat om sake te doen en daarna te streef om suksesvol te wees en finansieel voordeel te trek, maar as ‘n belanghebbende in die toerismebedryf moet hulle besef dit kan verskeie ander instansies negatief beïnvloed, om nie eers te praat van die skade aan ons land se reputasie as toeristebestemming nie. Dit is onaanvaarbaar.

“Dit kom die res van die bedryf duur te staan. Die gevolge vir die fantastiese bedryf wat ons nou het, sal enorm wees. Toerisme sal ‘n gevoelige slag toegedien word wanneer mense besef vreemde diere loop in Namibië rond, alles is afgekamp en daar is nie meer vrye beweging nie.

“Ons moet die omgewing beskerm as ons die natuurlike wêreld wil beskerm. Daarsonder sal ons nie enige natuurlewe hê nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!