Kleurvolle prente ontlok glimlagte
Tanja Bause
Tanja Bause
In die kankersaal vir kinders by die Sentrale Hospitaal in Windhoek het die kinders groot glimlagte oor hul gesiggies. Die mure van hul saal spog met 34 splinternuwe en opwindende animasieprente uit die verfkwas van Ida Smith.
“Die Kankervereniging van Namibië het my genader om die mure met kleurvolle prente op te tower. Natuurlik het ek die geleentheid met beide hande gegryp.
“Omdat ek deesdae voltyds werk, kon ek egter net oor die naweek skilder. Ek het Vrydag 16:00 begin en Sondag om 17:00, ná 20 ure se werk, was ek klaar. Ek moes met spoed werk, omdat my tyd so beperk was.”
Ida woon in Gobabis en het haar passie reeds as 'n kind ontdek. Haar skoolboeke was gereeld besaai met potloodsketse.
“Ek het nie opleiding gekry om te skilder nie. Ek glo dit het net natuurlik ontwikkel. Ek het vir meer as twee jaar voltyds geskilder, totdat die Covid-19-pandemie ingetree het en ek voltydse werk moes kry. Nou skilder ek oor naweke en in my vrye tyd.”
Sy kry haar idees uit kinderstories, maar volgens haar word sy deur alles rondom haar geïnspireer, soos die natuurlike mooi in die land se perfekte natuurlewe.
NUUSKIERIG
“Ek skilder ook op canvas, op hout en op klip. Tans is ek besig met 'n skildery op hout vir 'n kliënt van die Kaap en my volgende projek is 'n huisnaam op klip.”
Ida sê die kinders in die hospitaal was deurgaans baie nuuskierig en het haar die heeltyd met groot oë en 'n ge-oe en ge-a dopgehou.
“Twee dinge het my weereens nuut gevorm tydens my verfprojek in die hospitaal. Die kindertjies het my oor opregtheid geleer en dat ons gelukkig moet wees ten spyte van siekte of seer.
“Ek was ook weens baie verfbagasie en beperkte tyd gedwing om in die hospitaal se hysbak te ry. Daardeur is ek nou ná 52 jaar van engtevrees bevry.”
Die muurskilderye was deel van die opgraderings wat by die Agt Wes kinderkankersaal deur die Kankervereniging van Namibië (CAN) en sy vennote gedoen is. Die projek van meer as N$350 000 is in April begin, maar die derde vlaag van Covid-19 het dit vertraag.
Skenkings vir die opgraderings is deur die Namibiese Brouerye (NBL), die Bankiersvereniging van Namibië, die Pupkewitz-stigting, Polka Plumbing en CAN gemaak. Me. Estelle Viljoen het die nuwe gordyne vir al die kamers gemaak en Ida Smith die skilderye.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie