Kleuterskool maak 'n verskil
Kleuterskool maak 'n verskil

Kleuterskool maak 'n verskil

Digitale gaping van tuisonderrig oorbrug
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith



Die skoolsluitings het talle ouers voor digitale struikelblokke te staan gebring.

'n Kleuterskool in die Goreangab- ­informele nedersetting het met die hulp van 'n niewinsgewende ­organisasie 'n helpende hand aan ouers en hul jong kinders uitgereik.

“Die skokgolwe van die pandemie het baie ouers hard getref. Een ding waarvoor hulle dankbaar is, is dat ons net vir 'n week gesluit was toe die ­pandemie in Namibië ­aangekom het,” het mnr. Mateus Johannes, die stigter van die Kid-Care Kollege (KCK)-­kleuterskool in Goreangab, gesê.

Sedertdien ontvang die ouers van die 85 kinders wat die KCK-kleuter­skool bywoon ­weeklikse onderrigpakkette en bewyse vir kospakkies.

Van die begin af is die KCK se program vir afstandsonderrig deur die Development Workshop of Namibia (DWN) gesteun.

“Die ouers is dankbaar dat hul kinders hul onderrig kan voortsit en ook elke week voedsame kos kan ontvang,” sê Johannes.

Terwyl party skole in staat is om e-onderrig te implementeer, het gesinne wat in informele nedersettings woon dikwels nie toegang tot digitale platforms of die fondse om toegang tot aanlyn onderrig te verkry nie.

“Een ding wat ek van kinders weet – hulle is met min tevrede. Hulle waardeer enige hulp. Dieselfde geld vir die ouers,” het Johannes gesê.



WEEKLIKSE ONDERRIGPROGRAM

Die skoolhoof van KCK, me. Germana Shaningwa, sê die weeklikse onderrigprogram vereis van die onderwysers om leermateriaal te ontwerp en uit te deel, asook te verseker dat ouers die inhoud verstaan.

Dit is ook die ­onderwysers se verantwoordelikheid om seker te maak die gemeenskap bly ingelig oor die mees ­onlangse ­gesondheids- en ­veiligheidsnuus.

Die materiaal word weekliks nagesien en die onderwysers gee terugvoering aan die ouers wanneer hulle die volgende week se leermateriaal gaan haal.

Met die aanvang van Covid-19 het die DWK hul fokus verskuif van die biblioteekprojek wat hulle verlede jaar by die KCK en ander kleuter­skole van stapel gestuur het.

“Daar was sprake van e-onder­rig, dat kinders tuis sal skoolgaan. Die vraag was egter hoe dié reëling vir ouers en kinders in informele neder­settings sal werk,” sê me. Hilma Weber van die DWN.

Die DWN het sedertdien begin om hul uitreikprogramme uit te brei na ander kleuterskole in die Samora Machel- en Moses Garoeb-kies­afdeling deur die riglyne te volg van die program wat suksesvol by KCK geïmplementeer is.

Teen verlede week het 20 kleuter­skole in dié twee kiesafdelings soortgelyke inisiatiewe geloods.

Die DWN ontvang tegniese hulp van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) en die ­Europese Kommissie, asook finansiële steun van die Botnar-stigting en Interteam.

Oefen- en leermateriaal, asook skryfbehoeftes en bewyse vir kos­pakkies word aan kleuterskole voorsien.

Weber het beklemtoon die ouers waardeer “dat hul kinders hul onderrig tuis kan voortsit” en het bygevoeg die voedselbewyse bring groot verligting vir baie gesinne.

Die DWN se langtermyn doelwit is om 135 kleuterskole in Samora Machel en Moses Garoeb, sowel as in Khomasdal, te bereik.

Ongeveer 5 000 kinders sal hierdeur geraak word.



TYD VAN NOOD

Mnr. Moses Kahitji, wie se jongste seun Isak vroeër vanjaar by KCK ­ingeskryf is, sê hulle is in die ­informele nedersettings hard deur die ­­pandemie getref.

Baie was afhanklik van die ­informele mark wat skielik tot stilstand moes kom.

“Ek het my werk verloor as gevolg van die coronavirus. Ons was nie hierop voorbereid nie. KCK help ons regtig. Hulle help met Isak se onderrig en maak ook seker ons het kos op die tafel.”

Kahitji sê 'n honger kind is 'n groot rede tot kommer.

“Natuurlik bekommer jy jou. KCK se pogings help beslis en die leermateriaal het 'n positiewe invloed op Isak se gesindheid.”

Johannes het KCK gestig omdat hy die behoefte vir 'n goeie kleuterskool in Goreangab vir kinders tussen die ouderdomme van een en ses raakgesien het.

“Ek het as 'n onderwyser besef hoe belangrik vroeë onderrig is. Die kinders wat nooit 'n kleuterskool ­bygewoon het nie sukkel om te leer. Die kinders wat hierheen kom se intellek word dus al op 'n jong ­ouderdom gestimuleer. Dít het 'n baie belangrike invloed op latere leerervarings.”

KCK het verlede jaar sy deure oopgemaak vir 'n voltydse oppasser wat op die perseel woon. Die oppasser het omgesien na die kinders wie se ouers vroeg moes gaan werk en lank ná die skool uitkom eers huis toe gekom het. Die oppasser het dus tot die skool in die middae uitkom gerus en dan oorgeneem.

Johannes sê dit is vir hom 'n groot bron van vreugde om te sien hoe kinders leer.

Die kleuterskool bestaan uit drie klaskamers, 'n gemeenskaplike kamer, twee badkamers, 'n groentetuin en die oppasser se woonkwartier, en is Johannes se trots.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!