Klimaat gaan SA hu00e1rd tref
Klimaat gaan SA hu00e1rd tref

Klimaat gaan SA hárd tref

Die buurland se departement van omgewingsake se nasionale verslag oor hoe om by klimaatsverandering aan te pas, is vroeër vandeesweek gepubliseer.
Elise Tempelhoff

Suid-Afrika ervaar reeds ’n beduidende impak van klimaatsverandering, veral wat die land se verhoogde temperature en waterskaarste betref.

So lui die inleiding tot die departement van omgewingsake se nasionale verslag oor hoe om by klimaatsverandering aan te pas (NCCAS), wat vroeër vandeesweek gepubliseer is.

Die strategie wat in die verslag uitgestippel word, vorm nou deel van Suid-Afrika se plan om by klimaatsverandering aan te pas en die impak daarvan te mitigeer.

Luidens die verslag is die vooruitgeskatte gemiddelde temperatuurstyging in Suid-Afrika 2 °C per eeu.

Dit is meer as twee keer die styging in die globale temperatuur. Dit is veral die westelike en noordoostelike dele van die land wat in die toekoms die ergste onder hittegolwe gaan deurloop.

Die verslag lui voorts daar is getuienis dat uiterste weersomstandighede in Suid-Afrika toeneem. Die waargeneemde klimaatsomstandighede dui op ’n vermeerdering in die aantal hittegolwe wat die land jaarliks in die volgende dekades gaan tref. Dit gaan waarskynlik toeneem.

Droogtes gaan ietwat langer duur en reënval gaan in intensiteit toeneem.

Klimaatsones oor die land heen skuif reeds en ekostelsels en landskappe is besig om agteruit te gaan.

Mariene gebiede en die natuurlike grondgebied is onder geweldige druk, lui die verslag.

KLIMAATSVERANDERING

As deel van die verslag het die departement van omgewingsake ’n opsomming gegee van die verwagte veranderinge in reënvalpatrone en temperatuurskommelinge.

Dié veranderinge is gegrond op hoë-mitigering- en lae-mitigering-scenario’s wat afhang van hoe gou en drasties die owerheid klimaatsverandering kan stuit.

Die departement sê hy voorsien dat die gemiddelde temperatuur oor die hele Suid-Afrika heen teen die einde van die eeu met gemiddeld 4 °C gaan styg. In die westelike, sentrale en noordelike binneland sal die temperatuurstyging na verwagting 6 °C wees.

Die departement sê ook vooruitskattings dui daarop dat dié temperature selfs verder oorskry kan word op baie warm dae of dae waarop hittegolwe voorkom.

In mitigerende omstandighede sal die temperatuur konstant wissel tussen 2,5 °C en 4 °C.

Volgens die departement bestaan daar groter onsekerheid oor projeksies oor reënval.

As geen mitigering plaasvind nie, sal Suid-Afrika in die algemeen meer droogtes ervaar, terwyl daar soms vloede in die binneland sal voorkom. ’n Groot aantal projeksies dui op natter toestande oor die sentrale en oostelike dele van die land.

Buiten die algemene veranderinge, sê die verslag klimaatsverandering kan ook tot sosioëkonomiese veranderinge lei.

DIE VERSLAG Sê OOK:

* Landbou en bosbou staar moontlik ernstige watertekorte in die gesig.

Landbou in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Wes-Kaap kan weens waterstres swakker oeste oplewer. Indringerspesies kan waterstres laat vererger.

* Kusgebiede: Soutwater kan binnelandse waterbronne binnedring weens groter moontlikhede van oorstromings.

Kusgebiede raak al hoe meer kwesbaar vir storms en vloede. Dit gee aanleiding tot erosie van kusgebiede.

Die departement erken dat Suid-Afrika ’n gebrek aan kennis het oor die verband tussen klimaatsverandering en gesondheid. Daar is gapings in kennis oor die verband tussen die aantal sterftes wees verhoogde temperature.

* Landgebaseerde ekostelsels kan ’n toename in indringers ervaar wat op sy beurt tot waterstres lei.

* Water: ’n Verhoging in die vraag na water. Dit is baie problematies omdat die huidige vraag na water reeds die huidige beskikbaarheid van dié hulpbron oorskry.

Die afname in waterkwaliteit weens die ernstige besoedeling van riviere en waterstrome en damme, asook grondwater. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

#N/A #REF! #N/A