Klimaat: ‘Ons kan almal sterf'
Die hoeveelheid koolstofdioksied in die atmosfeer is die hoogste in 3 miljoen jaar en die konsentrasie kweekhuisgasse neem toe.
Elise Tempelhoff
“Ons is in die moeilikheid. Ons is diep in die moeilikheid met klimaatsverandering.”
Almal weet wat moet gebeur: Die uitlaat van kweekhuisgasse moet in die volgende 30 jaar in so ’n mate afneem dat daar teen 2050 niks in die atmosfeer gepomp word nie.
So het António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Maandag gesê by die opening van die 24ste klimaatberaad (COP24), wat vanjaar in Katowice, Pole, gehou word.
Guterres het sy diepe kommer daaroor uitgespreek dat klimaatsverandering tans so vinnig plaasvind dat mense nie kan byhou nie.
“Dit is noodsaaklik dat ons moet inhaal. Ons moet vinniger beweeg voordat dit te laat is,” sê hy.
Hy wys daarop dat klimaatsverandering vir baie mense en streke en selfs lande reeds ’n kwessie van lewe en dood is.
Volgens hom is COP24 die belangrikste byeenkoms sedert die ondertekening van die Parys-ooreenkoms in 2015.
“Die dringendheid van die situasie kan nie oorbeklemtoon word nie,” sê hy. “Selfs terwyl ons die vernietigende gevolge van aardverhitting oor die aardbol heen waarneem, doen ons steeds nie genoeg nie. Ons beweeg nie vinnig genoeg om onomkeerbare, katastrofiese en ontwrigtende klimaatsverandering te voorkom nie.”
“Terselfdertyd sien ons ook nie die enorme maatskaplike, ekonomiese en omgewingsgeleenthede raak wat gepaardgaan met klimaatoptrede nie.”
VIER BOODSKAPPE
Guterres sê hy wil net vier boodskappe oordra:
· Die wetenskap wys daarop dat daar daadwerklik en met groot ambisie opgetree moet word;
· Die Parys-ooreenkoms bied die raamwerk vir klimaatoptrede en móét gebruik word;
· Die mens het ’n kollektiewe verantwoordelikheid om te voorkom dat die aarde in algehele klimaatchaos gedompel word; en
· Klimaatoptrede skep die geleentheid om die situasie te verander sodat ’n beter wêreld vir toekomstige geslagte geskep kan word.
Hy het na die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) se onlangse verklaring verwys wat lui dat die 20 warmste jare wat nog aangeteken is in die afgelope 22 jaar was. Die afgelope vier jaar was die warmste sedert 1996.
Die hoeveelheid koolstofdioksied in die atmosfeer is die hoogste in 3 miljoen jaar en die konsentrasie kweekhuisgasse neem toe.
VERSKRIKLIKE GEVOLGE
“Die verslag wat die interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) in Oktober gepubliseer het, wys daarop dat die kans baie goed is dat die temperatuur teen 2030 met 1,5 ºC sal styg. Dit hou verskriklike gevolge in,” sê Guterres.
Met verwysing na die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (Unep) sê hy met die huidige tempo waarteen lande olie, steenkool en gas verbrand en gifgasse die lug instuur, sal die temperatuur teen 2100 met 3 ºC styg.
“Voorts wyk die meeste van die lande wat die Parys-ooreenkoms onderteken het, baie ver af van die beloftes wat hulle gemaak het. Dit is dus duidelik dat ons van koers af is. Ons móét daardie kloof toemaak.
“As ons misluk, sal die ysbanke op die Noordpool en Antarktika aanhou smelt, sal koraal verbleik en afsterf, die oseaan se vlak sal styg en meer mense sal weens lugbesoedeling doodgaan. Boonop sal groot streke in die wêreld ’n ernstige waternood ervaar en die koste verbonde aan die herstel van infrastruktuur ná natuurrampe sal feitlik onbekostigbaar wees.
ALGEHELE TRANSFORMASIE
“Hernieubare energie sal teen 2050 in sowat 66% van die wêreld se energiebehoeftes moet voorsien. Kortom, ons het ’n algehele transformasie van ons globale energie-ekonomie nodig. Die manier waarop ons grond en woude bestuur, sal ook drasties moet verander.
“Die mensdom sal die ontwikkeling van ’n laekoolstofekonomie wat klimaatweerstandig en volhoubaar is, moet omhels.”
Nuwe denkpatrone is nodig.
“Koolstofbelasting, die uitfasering van subsidies vir steenkool, olie en gas is nodig en groot beleggings moet in skoon tegnologie gedoen word.
“Die tyd vir eindelose gesprekke en onderhandelinge is verby. Lande moet mekaar begin vertrou,” sê hy.
Volgens hom is die burgerlike samelewing gereed vir die oorgang, maar die politieke wil ontbreek by lande.
“Klimaatsverandering is die grootste kwessie waardeur die mens en die planeet in die gesig gestaar word. Dit beïnvloed al ons planne vir ’n volhoubare, veilige en voorspoedige toekoms.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie