Klimaatskrisis is op hande
Verlede week was die vyfde herdenking van die Parys-verdrag vir Klimaatsverandering.
Sarel van der Walt en Elise Tempelhoff – Ondanks die Covid-19-pandemie wat die wêreldekonomie in 2020 byna tot stilstand gebring het, het klimaatsverandering se pas nie afgeneem nie en dit is te laat om dit nou te keer, meen navorsers.
Die Wêreld- meteorologiese organisasie (WMO) en die weerkundiges en klimatoloë wat aan die WMO se jongste verslag, “State of the Global Climate 2020”, gewerk het, is dit vir die eerste keer eens dat klimaatsverandering nie meer gestuit kan word nie.
PAS AAN
Die mensdom sal nou by dié veranderinge moet aanpas, sê hulle.
Luidens die verslag het die aarde se temperatuur op land en see verlede jaar toegeneem, seevlakke het gestyg, yskoepels en gletsers het vinniger gesmelt en verwoestende storms en droogtes het groot dele van die wêreld geteister.
In die verslag val die kollig ook op die stremmende invloed wat Covid-19 en klimaatsverandering op sosioëkonomiese ontwikkeling gehad het.
Die klimatoloë sê 2020 was een van die drie warmste jare wat nog aangeteken is, ondanks die afkoeling wat gewoonlik met La Niña-toestande gepaardgaan.
Die globale temperatuur was 1,5 °C hoër as wat die aarde se temperatuur voor die nywerheidsomwenteling (1850-1900) was.
Prof. Petteri Taalas, sekretaris-generaal van die WMO, sê dit is die 28ste uitgawe van die “State of the Global Climate” en in dié tyd is 'n institusionele geheue opgebou oor klimaatsverandering.
TE LAAT VIR KLIMAAT
Hy sê die eerste verslag het in 1993 die lig gesien toe klimatoloë en weerkundiges werklik bekommerd begin raak het oor “toekomstige klimaatsverandering”.
Volgens die verslag is die wêreld nou in die situasie waaroor die kundiges destyds bekommerd was.
“Al die klimaataanwysers in die verslag wys op die versnelde veranderinge in die klimaat en die toename in die intensiteit van weersomstandighede.
“Dit wys ook die verliese en skade wat mense, gemeenskappe en ekonomieë ly.
“Die negatiewe gang in die klimaat sal in die toekoms voortduur, ongeag pogings om dit te probeer stuit,” het Taalas in 'n verklaring gesê.
“Dit is dus noodsaaklik dat ons nóú aanpassings maak.”
Volgens hom moet owerhede nou belê in vroeë waarskuwingstelsels by hul weerkantore.
“Baie onderontwikkelde lande ervaar reusegapings in hul waarnemingstelsels en het nie moderne weer-, klimaat- en waterdienste nie,” het Taalas gesê.
LEIERSBERAAD OOR KLIMAAT 2021
Die verslag is uitgereik op die vooraand van die Amerikaanse president Joe Biden se tweedaagse virtuele Leiersberaad oor Klimaat, wat verlede week plaasgevind het. Dit het saam met die vyfde herdenking van die Parys-verdrag oor klimaatsverandering geval.
Biden wou leiers van 40 groot ekonomieë daarvan oortuig dat hulle die leiding moet neem om kweekhuisgasse tot die minimum te beperk, in ooreenstemming met hul verbintenis tot die Parys-klimaatsverdrag.
Ingevolge die Parys-verdrag moet regerings die kweekhuisgassse wat hul ekonomieë in die atmosfeer pomp, in so 'n mate beperk dat die aarde se temperatuur in die volgende paar dekades nie met meer as 2 grade Celsius bo die pre-industriële vlakke styg nie.
Geen land kan klimaat alleen aanpak, sê Biden
Hy het onderneem Amerika sal die vlak van sy kweekhuisgas-voetspoor teen 2030 met minstens 50% verlaag.
“Ons is in 'n deurslaggewende dekade,” het Biden gesê.
Die band van vertroue tussen die ontwikkelde en ontwikkelende ekonomieë moet herstel word.
António Guterres, die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, het gesê politieke leiers moet vanjaar onderneem om in die volgende drie dekades na 'n koolstofneutrale ekonomie oor te skakel. Teen 2050 mag geen kweekhuisgasse meer in die atmosfeer vrygelaat word nie, het Guterres gesê.
Die planeet kan mettertyd onbewoonbaar word.
Guterres het 'n beroep op wêreldleiers gedoen dat 'n prys geplaas moet word op koolstof, terwyl subsidies vir fossielbrandstowwe en die finansiering van steenkool gestaak moet word. Meer en groter beleggings in hernubare energie en groeninfrastruktuur is nodig en daar moet verseker word dat die oorgang vir mense en gemeenskappe wat geraak word, geregverdig is.
Onder die ander leiers wat die beraad toegespreek het, is dr. Angela Merkel, bondskanselier van Duitsland, pres. Wladimir Poetin van Rusland, Boris Johnson, die Britse premier, en China se pres. Xi Jinping.
Baie van die leiers het gepraat oor stortingsmeganismes om koolsuurgas ondergronds te stoor.
NOBELPRYSWENNERS PLEIT
Die Dalai Lama en 100 voormalige Nobelpryswenners het ook op die vooraand van Aardedag en die leiersberaad oor klimaatsverandering wêreldleiers in 'n ope brief gevra om 'n onderneming te onderteken dat hulle nie nuwe steenkoolmyne sal oopmaak of eksplorasieprojekte vir olie en gas sal toelaat nie.
Luidens die ope brief, wat deur Nobelpryswenners vir vrede, letterkunde, medisyne, fisika, chemie en ekonomiese wetenskappe onderteken is, het die wêreld te staan gekom voor een van die grootste morele kwessies tot nog toe: die klimaatkrisis, tesame met die vernietiging van die natuur.
“Klimaatsverandering bedreig die lewe en lewensmiddele van honderdmiljoene mense, terwyl duisende spesies op die rand van uitwissing huiwer.
“Die verbranding van steenkool, olie en gas is die vernaamste oorsaak van die klimaatkrisis waarin die wêreld hom bevind.
“Ons skryf om by julle (die wêreldleiers) te pleit om nou op te tree om 'n klimaatkatastrofe te voorkom deur op te hou om steenkoolmyne oop te maak en die eksplorasie en ontginning van olie en gas goed te keur.”
Die briefskrywers beklemtoon die feit dat regerings vir te lank “skokkend laks” was en politieke leiers hulle nie gesteur het aan die waarskuwings wat klimaatwetenskaplikes en die “magtige en kundige burgerlike organisasies” reeds jare lank oor die klimaatkrisis rig nie.
“Die verbranding van fossielbrandstowwe is verantwoordelik vir byna 80% van die koolstofdioksied (CO2) wat sedert die nywerheidsomwenteling in die atmosfeer vrygestel word.
“Benewens die verbranding van olie, steenkool en gas, is daar ook plaaslike besoedeling en omgewing- en gesondheidskoste verbonde aan die ontginning, vervoer en verbranding van fossielbrandstowwe.
“Skokkende nywerheidspraktyke lei gereeld tot menseregteskendings.
“Boonop het die stelsel wat deur fossielbrandstowwe aangedryf word, miljarde mense elektrisiteit ontsê en hulle dus daarvan weerhou om 'n waardige lewe te lei.”
2°C-STYGING = 4%-INKRIMPING
As maatskappye, beleidmakers en die burgerlike gemeenskap met hul daaglikse lewe voortgaan asof die klimaatkrisis nie bestaan nie, sal die aarde se temperatuur oor 30 jaar met meer as 3,2°C styg en die wêreldekonomie in 'n krisis dompel.
Vooruitskattings dui daarop dat die wêreldekonomie met 18% sal inkrimp, sê die gesaghebbende Swiss Re-instituut in sy jongste verslag, “The Economics of Climate Change”.
Die instituut het 48 ekonomieë ontleed om te probeer vasstel hoe elkeen sal vaar met temperatuurstygings van verskillende omvang. Selfs as die doelwitte bereik word van die Parys-verdrag – om die temperatuurstyging op minder as 2°C te hou – sal die wêreldekonomie met 4% inkrimp.
Die impak van die temperatuurstygings sal oor minder as 15 jaar gevoel word.
Aardverhitting het 'n direkte invloed op weerpatrone.
Soos wat die aarde verhit, word natuurrampe meer intens en lei dit tot groter skade aan die land en infrastruktuur, lui die verslag.
So, byvoorbeeld, sal stygende seevlakke lei tot 'n verlies aan grond wat andersins produktief gebruik kon word. Hoër temperature en hittegolwe lei weer tot misoeste.
In die verslag word beklemtoon klimaatsverandering hou op lang termyn die grootste gevaar vir die wêreldekonomie in.
Die opstellers van die verslag sê die beloftes wat wêreldleiers onlangs gemaak het oor die beperking van kweekhuisgasse is nie voldoende om die spreekwoordelike klimaatskip om te draai nie.
“Die openbare en die private sektor speel 'n deurslaggewende rol in die versnelling na 'n koolstofneutrale ekonomie.”
Finland is die land wat die beste sal aanpas en Indonesië die swakste.
Die 48 lande verteenwoordig 90% van die wêreldekonomie.
Thierry Léger, voorsitter van die Swiss Re-instituut, het by die uitreiking van die verslag einde verlede week gesê: “Klimaatsverandering raak elke gemeenskap, elke maatskappy en elke mens.
“Teen 2050 sal die wêreldbevolking na verwagting sowat 10 miljard mense wees. Ons moet dus nóú daaraan werk om ekonomieë koolstofneutraal te maak.”
Léger beklemtoon dat die natuur nou meer as ooit tevore bewaar moet word.
“Die natuur en funksionerende ekostelsels verskaf ontsaglike ekonomiese voordele, maar is onder geweldige druk.
“Dit is waarom klimaatsverandering en biodiversiteitsverlies gesamentlik gestuit moet word. So nie, sal die internasionale gemeenskap nie 'n volhoubare toekoms binnegaan nie.”
Jérôme Haegeli, hoofekonoom van Swiss Re, sê klimaatsverandering hou 'n stelselmatiese bedreiging in en moet internasionaal getakel word. Tot dusver is min gedoen. Hy sê deursigtigheid en eerlikheid oor kweekhuisgasse wat elke land in die lug vrystel, is van uiterste belang.
– Netwerk24
KITSFEITE UIT DIE VERSLAG
• Covid-19 het 50 miljoen mense besonder hard getref, sê die Internasionale Federasie van die Rooikruis. Hierdie mense het nie net met die virus besmet geraak nie, hulle het ook droogtes, vloede en hongersnood ervaar.
• Die hoogste temperatuur noord van die Noord-Poolsirkel, naamlik 38 grade Celsius is in die somer van 2020 in die Russiese dorpie Verkhoyansk gemeet. Dié hitte het gepaard gegaan met wegholbrande. Die grootste brande ooit het in Kalifornië uitgebreek. Die hoogste dagtemperatuur in menseheugenis, 54,4 grade, is verlede jaar op 16 Augustus in Death Valley gemeet.
• Die hitte noord van die Arktiese Sirkel het see-ys in die Noordpool vinniger laat smelt. Die omvang van die see-ys in Julie verlede jaar was die laagste ooit.
• Seevlakke oraloor die wêreld het die afgelope 28 jaar oneweredig gestyg. Stygings is waargeneem aan die ooskus van Madagaskar in die Indiese Oseaan, aan die ooskus van Nieu-Seeland in die Stille Oseaan en oos van Rio de la Plata in die Suid-Atlantiese Oseaan.
• Die oseaan neem 23% van die koolstofdioksied in wat mense op land vrylaat en dít dien as 'n buffer teen klimaatsverandering. Die oseaan is egter besig om toenemend te versuur.
• 98 benoemde tropiese siklone het in 2020 oor die wêreld heen gewoed.
• Tussen 2010 en 2019 het 23,1 miljoen mense jaarliks rondgeswerf op soek na water en kos. In die eerste helfte van 2020 het 9,8 miljoen mense in Asië en die Horing van Afrika weens droogtes en oorstroming gemigreer.
• Ekostelsels in 'n vyfde van alle lande is op die rand van ineenstorting;
• 39 lande het kwesbare ekostelsels: Malta, Israel, Bahrein en Kazakstan het die minste biodiversiteit, terwyl nog 42% van Brasilië se ekostelsels funksioneer; en
• 55% van die wêreldekonomie is afhanklik van biodiversiteit en die behoorlike funksionering van ekostelsels.
FOTO’S
Boedhistiese monnike het 330 000 kerse by die Wat Dhammakaya-tempel buite Bangkok in Thailand aangesteek om 'n Guinness-wêreldrekord te breek vir die grootste vlammebeeld op Aardedag. Foto Nampa/AFP
Bloeisels bot op Aardedag by die Unisphere wat die Aarde verteenwoordig by Flushing Meadows, Corona Park in New York. FOTO Nampa/AFP

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie