Klimaatsverandering: 'Kwik klim kwaai'
Klimaatsverandering: 'Kwik klim kwaai'

Klimaatsverandering: 'Kwik klim kwaai'

Luidens die Wêreld- Metereo­logiese Organisasie se jongste verslag is die fisieke tekens en maatskaplik-ekonomiese impak van klimaatsverandering besig om toe te neem.
Elise Tempelhoff



Buitengewone weersomstandig­hede het 62 miljoen mense verlede jaar geraak en meer as 2 miljoen ontwortel. Verder is 35 miljoen mense deur vloede geraak en meer as 1 600 is in brande en ­hittegolwe dood.

Dit is enkele van die bevindings wat opgeteken is in die Wêreld- ­Metereologiese Organisasie (WMO) se jongste verslag, “WMO Statement on the State of the Global Climate 2018”, wat einde verlede week uitgereik is.

Luidens die verslag is die fisieke tekens en maatskaplik-ekonomiese impak van klimaatsverandering besig om toe te neem namate kweekhuisgasse in die atmosfeer vermeerder. Die gevolg daarvan is dat temperature gaandeweg tot gevaarlike hoogtes klim.

Verskeie rekords word in die verslag uitgelig: die seevlak toon 'n rekordstyging, terwyl die temperatuur in hoogliggende gebiede (veral waar gletsers voorkom) en die temperatuur van die oseaan die afgelope vier jaar bly styg het.

“Hierdie tendens van stygende temperature word sedert die begin van die huidige eeu (die afgelope 19 jaar) waargeneem en sal na verwagting voortduur,” lui die verslag.

Petteri Taalas, die WMO se sekretaris-generaal, sê in 'n verklaring sedert die eerste verslag oor die stand van die globale klimaat 25 jaar gelede verskyn het, het die klimaatwetenskap 'n ongekende ontwikkeling ondergaan en kan nou met gesag oor die stygende globale temperature, die stygende seevlak, krimpende see-ys, smeltende gletsers en uiterse weersomstandighede, soos hittegolwe, gepraat word.

Merkers wat klimaatsverandering aandui, word al hoe betroubaarder, sê Taalas. In 1994, toe die WMO se eerste klimaatverslag gepubliseer is, was die hoeveelheid koolstof­dioksied in die atmosfeer 357 deeltjies per miljoen. In 2017 was dit 405,5 deeltjies per miljoen.



KONSENTRASIE KWEEKHUISGASSE

Die samestellers van die verslag het nog nie die data vir 2018 ontvang nie, maar meen dat die konsentrasie kweekhuisgasse verlede jaar ook 'n styging getoon het en dat dit vanjaar verder sal styg.

Klimatoloë is veral bekommerd oor die styging in metaanvlakke.

Die WMO se verslag vir 2018 bevat ook inligting oor die ontwrigting van die hidrologiese siklus en die impak van klimaatsverandering op menslike gesondheid en welsyn, migrasie, voedselsekerheid en die ekostelsels op land en in die oseane.

Daar is ook 'n inventaris van die uiterse weersomstandighede wat verlede jaar in verskillende wêrelddele ervaar is.

Met verwysing na die sikloon Idai, wat verlede maand omvattende skade in Mosambiek, Malawi en Zimbabwe aangerig het, sê Taalas uiterse weersomstandighede het reeds begin.

“Idai is een van die dodelikste ­klimaatverwante rampe wat die Suidelike Halfrond tot nog toe getref het.”

Idai het hom twee weke gelede oor Beira, 'n laagliggende, groeiende ­hawestad in 'n kwesbare kusgebied, uitgewoed.

“Idai se slagoffers is die personifikasie van waarom die wêreld 'n internasionale agenda vir volhoubare ontwikkeling, aanpassing by klimaatsverandering en 'n vermindering van ramprisiko's dringend nodig het,” sê Taalas.

António Guterres, die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, skryf in die voorwoord van die verslag die data “bevestig die noodsaak van­ ­dringende optrede teen klimaatsverandering. Ons kan nie langer uitstel nie.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer