Klimmers maak geskiedenis op Brandberg
Ronelle Rademeyer
Danksy koeler weer as wat verwag is, het die drie Duitse herdenkingsklimmers Brandberg se Köningstein-piek op 2 Januarie sonder enige teëspoed bereik.
Dr. Helge Kleifeld (46) van Keulen in Duitsland, wat dié eeufeestog gereël het om die eerste epiese klimtog van Brandberg presies 100 jaar gelede te herdenk, sê dit was 'n groot oomblik toe hy en sy medeklimmers die piek om 12:00 bereik.
Kleifeld, 'n historikus en argivaris, het besluit om ter viering van wat prof. Ernst August Gries, 'n onderwyser en natuurkundige in die destydse kolonie van Duitswes-Afrika, saam met twee ander koloniste vermag het, op hierdie tasbare wyse te gedenk.
Gries se medeklimmers destyds was Reinhard Maack, 'n landmeter in die kolonie en Georg Schulze, 'n luitenant in die Schutztruppe. Hulle was die eerste Westerlinge wat Brandberg aangedurf het met die doel om opnames van die berg te maak en dit te karteer. Hulle het die piek op 2 Januarie 1918 om 18:00 bereik nadat hulle op Nuwejaarsdag begin klim het.
Met die afklimslag het Maack die beroemde rotstekening, Die Wit Vrou, ontdek. Dié pionierklimmers het ook later 'n botaniese gids saamgestel met die inligting wat hulle versamel het.
Kleifeld het benewens 'n boek oor die lewe van Gries, deur die jare verskeie artikels oor hom gepubliseer. Hy is ook, net soos Gries destyds, die Duitse studentebond, Schwarzburgbund, se argivaris.
“Ons het die tradisionele lied van die Schwarzburgbund gesing en dié bond se vlag op Königstein gehys. Nadat ons omtrent so 'n uur gerus het, het ons die tog teen die berg af aangepak,” het hy gister uit Swakopmund vertel.
Martina Trognitz, 'n argeoloog en Lukas Gehrig, 'n rederyvlieënier, het die klimtog saam met hom aangepak. “Hulle het soos springbokke teen die hange uitgeklouter. Vir my was dit baie moeiliker,” vertel Kleifeld, en voeg by hulle is byna 20 jaar jonger as hy. Volgens hom was dit nooit warmer as 35°C terwyl hulle geklim het nie.
Toe hulle op 3 Januarie om 11:00 terug is en by Basil Calitz se Brandberg-ruskamp aankom, was dit maar 30°C.
Kleifeld het al in 2009 begin om hierdie herdenkingstog te beplan. Trognitz en Gehrig is net soos hy ook lede van die Schwarzburgbund. Trognitz het as argeoloog 'n groot belangstelling in rotskuns en het tydens hul klimtog die rotstekeninge van Brandberg bestudeer.
Kleifeld het groot lof vir Calitz, wat hulle met die reëlings en voorbereidings gehelp het. Verder, sê hy, sou hulle dit ook nie reggekry het sonder die hulp van hul drie gidse, John Dungle, Colin Gawanab en Michael Taniseb, nie.
“Met hulle hulp kon ons 'n ekstra 15 liter water saamneem.”
Hy sê daar was wel poele water op berg wat hulle ná suiwering kon gebruik, maar hulle wou veilig speel.
“In een van die poele was 'n dooie arend en ons het maar liefs nie daardie water probeer suiwer nie.”
Die driemanskap keer weer op 19 Januarie na Duitsland terug.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie