Klippe fassineer Gisela

Haar versameling van meer as 1 000 klippe en minerale vanoor die hele land wys haar passie vir geologie en paleontologie.
Tanja Bause
Tanja Bause

“Mense moet weer meer met die natuur verbind word en die belangrikheid van ’n gesonde omgewing vir ons eie toekoms erken en waardeer,” sê Gisela Hinder, die stigter van die Geo Center op Rosh Pinah.

Gisela is in Duitsland in die klein dorp Bellnhausen gebore en sy het geologie en paleontologie in Marburg gestudeer.

“Dié onderwerp het my as kind gefassineer en ek het van kleins af al klippe en bene versamel. Werksgeleenthede was skaars en ek het selfs klubsokker gespeel, waar ek ’n doelwagter was.”

In 1990 het sy by Iscor in Thabazimbi in Suid-Afrika as eksplorasiegeoloog begin werk.

“Ek wou egter nog altyd in Namibië werk en het in 1999 vir ’n verplasing na Rosh Pinah aansoek gedoen. Ek het daar as senior ondergrondse eksplorasiegeoloog begin werk. In 2014 het ek ’n vrywillige skeidingspakket aanvaar.”

In 2012 het sy reeds met die Geo Center op die dorp begin.

“Ek wou besig bly en iets doen wat met my beroep verband hou. Ek dink ook dis belangrik mense word oor geologie ingelig. Die sentrum help ook met die bewaring van die minerale en navorsing. Dis ook ’n toeriste-aantreklikheid wat tot die dorp se inkomste bydra.”

Besoekers aan die Geo Center kan nie net minerale van die twee myne by Rosh Pinah (Rosh Pinah Zinc en die Skorpion-myn) sien nie, maar vanoor die hele Namibië.

Op groot plakkate word die geologie, mynboumetodes en die verwerking van die erts verduidelik.

“Ek bied ook geologiese toere na die historiese myne langs die Oranjerivier en ander interessante geologiese plekke in die suide van Namibië aan. Plekke soos die Visriviercanyon, Brukkaros, die Mesosaurus- en ander fossiele, San-rotsgravures op die plaas Aar, die Rooskwartsmyn by die White House en die Blue Lace Agate-myn.”

Die sentrum verduidelik ook geologiese en geomorfologiese prosesse wat miljoene jare gelede plaasgevind het, wat verantwoordelik was vir die vorming van sekere gesteentes en minerale. ’n Klein hoekie in die sentrum is gereserveer vir insig in die geskiedenis van die San van die omgewing.

Daguitstappies en toere van tot vyf dae kan bespreek word. Die toere sluit besoeke aan die ou Lorelei-kopermyn in, ysafsettings naby Sendelingsdrift, San-grotte en grafte op die Namuskluft-plaas met wonderlike San-rotsgravures en die eerste meersellige fossiele op aarde. Die vulkaniese gesteentes in die Spitskop- vulkaniese sentrum word ook aan besoekers gewys.

’n Besoek aan die Alte Kalköfen Lodge met sy historiese kalkoonde en Lithoparium is ’n moet. Die toer word gewoonlik met ’n besoek aan die historiese diamantmyn langs die oewer van die Oranjerivier afgesluit, waar besoekers die geleentheid kry om ’n paar agate te versamel en alles oor die afsetting van alluviale diamante te leer.

Gisela het meer as 1 000 verskillende minerale en klippe in haar versameling.

“By die Geo Center kan mense van ’n stukkie Gibeon-meteoriet tot galstene sien. Daar is ook gypsum-naalde wat uit die Rosh Pinah Zinc-myn kom en koperminerale van die Skorpion-myn wat baie mooi is. Hulle is blou en groen.

“Daar is ook ’n hialiet wat van die Erongoberg kom en heldergroen skyn wanneer ek ’n UV-lig daarop rig.”

Agter die sentrum is ’n klein koppie van waar ’n mens die hele dorp kan sien. Hier het Gisela ’n klein monument vir dr. Michael McMillan opgerig. McMillan het in 1963 die eerste mineraalontdekkings gemaak en ’n groot indruk op Gisela gemaak.

“Hy het ’n passie vir geologie gehad; iets wat jy deesdae selde in mense sien. Hy het nie net in sy verkoelde kantoor agter die lessenaar gesit nie; hy was in die veld, in die son en hitte en het daar gewerk.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer