'Klubrugby nooit dieselfde sonder Attie'

'n Talentvolle agterspeler is gister op 'n jong ouderdom oorlede.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die skielike afsterwe van Attie du Plessis het as 'n groot skok vir die Namibiese rugbygemeenskap gekom.

Adriaan Johannes (Attie) du Plessis is gisteroggend op 37-jarige leeftyd leweloos in sy ouers Boetie en Estelle se huis in Windhoek gevind, met 'n hartaanval wat aanvanklik as die moont­like oorsaak vermoed word. Hy het op 31 Desember verjaar.

Du Plessis was vir bykans twee dekades 'n bekende gesig in Namibiese klubrugby en het as 'n losskakel of senter positief bygedra ongeag of hy die truie van FNB Western Suburbs, Reho Falcon of Rehoboth-rugbyklub gedra het. Verlede jaar het hy sy ervaring in die eersteligaklub Vipers van Windhoek teruggeploeg.

Hy het ook in sewesrugby uitgestyg om die nasionale span in ver­skeie toernooie te verteenwoordig.

'n Onbetwisbare hoogtepunt was die Trustco internasionale sewestoernooi in Windhoek in September 2009, waar wêreldklas spanne soos Fidji, Samoa, Argentinië, die Blitsbokke en ander Afrika-lande meegeding het.

Ná nederlae in groepwedstryde teen Suid-Afrika (7-26) en Fidji (12-49), benewens 'n oorwinning teen Tunisië met 22-19, het Namibië tot die eindstryd van die plaatafdeling deurgedring, waar die gasheerspan vir Samoa met 24-14 geskok het.

Du Plessis was die ster van die finaal met drie drieë, insluitend twee deurslaggewende individuele laat pogings.

Nadat Samoa rustyd met 14-12 voorgeloop het, was dit die Namibiërs wat die plaattrofee omhoog kon hou.

In die vyftienmanspel was Du Plessis as losskakel dikwels in nasionale oefengroepe. Onder Johan Venter se tweede termyn as afrigter het hy as 'n ongebruikte reserwe op die bank bly sit in die kwalifiserende Wêreldbekertoets teen Marokko in Windhoek in 2006, wat Kees Lensing se span met 25-7 gewen het.

Ná Johan Diergaardt se oorname as afrigter by John Williams vroeg in 2010, is Du Plessis 'n paar keer in die provinsiale Vodacombeker-reeks blootgestel, voordat hy later daardie jaar ook vir die November-toer na Europa gekies is.

Verskynings vanaf die reserwebank in die verloortoetse teen Portugal in Coimbra (12-24) en 'n week later Spanje in Madrid (20-33) was die somtotaal van Du Plessis se toetsloopbaan.

Voor die 2011 Wêreldbeker-toernooi was hy in die finale proefwedstryd betrokke, maar het nie die uiteindelike toerspan gehaal nie.

Sy vlugvoetigheid en vaartversnelling, oordeelkundige balverspreiding en goeie skopvoet was sy vernaamste sterk punte op die rugbyveld. Om dié rede het hy die beste ingepas by spanne wat met 'n kreatiewe flair in die agterlyn aangeval het.

“Jy kon hom in enige posisie van losskakel tot buitesenter gebruik en hy kon wedstryde teen van die beste klubs feitlik eiehandig vir jou beklink. Hy was so aanvallend ingestel dat hy sy span eerder uit die moeilikheid sou wou hardloop as om te skop,” vertel die oudafrigter Rudolf Witbooi, wat vir Du Plessis in 2017 terug na Western Suburbs gelok het vir nog twee seisoene as speler/afrigter.

“Attie was ook buitesenter (met Russell van Rooi as vennoot in die middelveld) toe Western Suburbs in 2008 die eerste keer in sy bestaan die NRU premierliga-titel gewen het. Hy het daardie dag inderdaad uitstekend gespeel (in die oorwinning met 20-15) teen Wanderers.”

Witbooi sê Du Plessis was inderdaad nog 'n skoolseun toe hy sy eerste klub­rugby vir Suburbs begin speel het.

In sy matriekjaar by Hoërskool Dawid Bezuidenhout in 2000 was hy lid van 'n uitsonderlike span met spelers soos Larrigan Bezuidenhout (senter), Shaun van Rooi (agtsteman) en Ismael du Plessis (skrumskakel) wat al drie Cravenweek gespeel het en laasgenoemde twee wat later op toetsvlak gekies was.

Die voorsitter van Western Suburbs, mnr. Keith Allies, het gister aan die koerant gesê dat Du Plessis in die komende seisoen as hulpafrigter van die tweede span se agterlyn aangestel sou word.



HULDE GEBRING

Afgesien van sy soms briljante individuele vermoëns was dit in huldeblyke op sosiale media eerder sy persoonlikheid wat deurgeskyn het.

Roderique Victor (bynaam Giggs), Namibiese agtsteman van Suburbs, het geskryf: “My hart bloei vanoggend. Ek het altyd soveel respek vir jou gehad, vir wat jy gedoen het om die sport onder ons jeug in Khomasdal te bevorder. Jy was nie net 'n vriend nie; ek het jou as 'n broer aanvaar. Altyd oop vir 'n gesels of om 'n grap te deel. Rus in vrede my liewe vriend, jy sal sekerlik gemis word.”

Sadè Eimann, wat Namibië se vrouerugbyspan as senter verteenwoordig het: “My coach, vriend as dit ni vir jou was sou ek nooit dai nr. 13 gedra heti ... mar tog het jy my laat besef dat 7s ook deel is van wie jy is. Jyt my a star gemaak.

“En vir jou Attie du Plessis sal ek sorg dat k oefen en speel di menier wat jy my laste gesê het ... Ek is breek binnekant, mar ek is nog daar. Ek gan jou legacy uitleef.”

Hauta Veii, stut van FNB Unam, Western Suburbs en Namibië: “Hoe onverwags. Ek en Attie het dikwels grappe gemaak oor die lang jare wat ons al klubrugby speel – dat die NRU ons 'n pensioen skuld. Rugby sal nie dieselfde wees sonder hom nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!