Knysna-brande knou Santam se wins
Francois Williams - Santam beskryf die verwoestende brande in Junie in die Knysna-omgewing, asook die storm in Kaapstad in dieselfde maand, as die ergste rampe nóg in Suid-Afrikaanse versekeringsgeskiedenis.
Santam-kliënte het sowat R800 miljoen se eise ingedien wat verband hou met dié rampe, waarvan R72 miljoen verband hou met eiendomskade in Kaapstad weens die storm.
Dit het deels bygedra tot die krimp in Santam se onderskrywingswins vir die halfjaar tot einde Junie tot 4,2%. Dit beteken Santam sit gemiddeld net 4,2c in sy sak vir elke R1 wat ’n polishouer aan sy versekeringspremie bestee. Die res word gebruik vir uitbetalings en administrasiekoste. Santam se wins vir die halfjaar is steeds 6% hoër op R808 miljoen.
Die impak van die rampe op Santam se netto onderskrywingsresultate was R234 miljoen. Die totale versekeringskade van die brande is op sowat R3 miljard geraam.
As die Knysna-brande en Kaapse storm uitgelaat was, sou Santam se onderskrywingswins dieselfde as verlede jaar op 6,4% gewees het.
Santam sê dit was die ergste brand sedert die Groot Vuur van 1869 toe ’n brand van die Suid- tot Oos-Kaap gewoed het.
Santam sê “die werklike waarde van versekering kom na vore in sulke tye van uiterste verlies en swaarkry”. Die groep se eise-afdeling het bykans onmiddellik opgetree en ’n tydelike kantoor in Knysna opgerig van waar assessors uitgestuur is.
Die oorspronklike oorsaak van die brande is volgens Santam nog die onderwerp van verskeie ondersoeke, en die onsekerheid hou implikasies in oor hoe sy herversekeringsmarkte die verliese hanteer - as een of twee voorvalle. Santam meen die ramp moet as een verliesvoorval gehanteer word, maar het dit weens die hangende onsekerheid vir eers as twee voorvalle in sy finansiële resultate weerspieël.
Lize Lambrechts, uitvoerende hoof van Santam, sê die groep se sterk diversifiseringstrategie het gehelp as buffer teen die effek van die Knysna-ramp op sy finansiële resultate.
Santam se beleggingsinkomste was R918 miljoen in die halfjaar, heelwat hoër as die R555 miljoen van ’n jaar gelede.
Lambrechts verwag ’n moeilike tweede helfte van die boekjaar weens die trae ekonomiese groei wat mense ontmoedig om nuwe versekerbare bates aan te koop.
Santam vorder met sy internasionale diversifisering, en die bruto premies wat van buite Suid-Afrika ontvang is, het met 21% tot R1,554 miljard gestyg.
Santam se oorname van RMB Structured Insurance het tot stewige bedryfsresultate bygedra. Die onderneming is herdoop tot Santam Structured Insurance.
Santam se aandeelprys was Donderdagoggend net effe hoër op R255,41. – Netwerk24
BLOKKIE:
In syfers
Verdienste per aandeel styg met 8% tot R6,83.
Tussentydse dividend van R3,36 per aandeel.
Netto versekeringseise styg met 15% tot R7,252 miljard.
Netto premie-inkomste styg met 9% tot R10 miljard.
Onderskrywingswins van 4,2% teenoor die vorige jaar se 6,4%.
Santam het ’n teiken om sy onderskrywingswins tussen 4% en 8% te hou.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie