Koalisie met gemengde gevoelens ontvang
Koalisie met gemengde gevoelens ontvang

Koalisie met gemengde gevoelens ontvang

Die enigste manier om Swapo te laat les opsê, is om sáám te staan, sê twee opposisiepartye.
Denver Kisting
Denver Kisting - Die politieke ontleder mnr. Graham Hopwood sê hy weet nie of gister se koalisie tussen die Popular Democratic Movement (PDM) en die United People's Movement (UPM) 'n beduidende impak op mnr. McHenry Venaani se presidensiële vooruitsigte sal hê nie.

Die meeste wat hieruit kan spruit, is dat die koalisie die PDM-leier se stem­aandeel 'n effense hupstoot kan gee, meen Hopwood.

Die kenner is van mening “dié tipe alliansie mag meer sin maak vir die streekraadsverkiesing volgende jaar wanneer die PDM kan besluit om nie kandidate vir die Rehoboth-kiesafdelings beskikbaar te stel nie”.

Trouens, het Hopwood gesê, die UPM het tydens die vorige nasionale verkiesing 0,71% van alle stemme op hom verenig.

Altesaam 66% van dié stemme het uit die Rehoboth-kiesafdelings gespruit, het hy benadruk.

Die leier van die UPM, mnr. Piet Junius, sê die koalisie het ten doel om die “tweederdemeerderheid in die hande van magshonger Nami­biërs (ons eie mense)” in die bek te ruk.

“Dit is een van die pilare van ons samekoms om 'n koalisie te vorm en ons hoop en bid die kiesers daar buite sal dit in daardie lig en met die wysheid daaragter sien.”

Hy hoop die koalisie beteken die einde vir “die mense wat besig is om Namibië te vernietig”.

Venaani het gister verduidelik die koalisie gaan in wese drie gevolge hê – die partye sal een presidensiële kandidaat hê en een saamgestelde lys vir die Nasionale Vergadering (NV) terwyl die PDM die leidende party gaan wees.

“Dit gaan nie oor leiers nie. As dit oor leiers gaan, is daar geen punt om 'n koalisie te hê nie,” het Venaani op 'n nuuskonferensie in Windhoek gesê.

Hy is ook van mening die koalisie is nie egogedrewe nie, “want alle Namibiërs vra hiervoor (vir 'n verenigde front)”.

Volgens hom is die doel van die koalisie om “die belang van landsburgers” te dien.

Hy sê die PDM en die UPM stem saam oor kernkwessies, wat die verdwene miljoene van die staatspen­sioenfonds (GIPF) en die uitdagings in die gesondheid- en onderwyssektor insluit.

“Ons is op die regte punt in die geskiedenis,” het Venaani gesê.

Hy het 'n beroep gedoen op ander politieke partye wat by die koalisie wil aansluit om met hulle in verbinding te tree.

'Beweeg onder een banier'

Die twee politieke partye sal steeds in naam en in die praktyk afsonderlik bestaan ofskoon hulle voortaan “onder een banier sal beweeg”, sê Venaani.

Hy sê die UPM-leier sal die PDM se tweede visepresident word.

Hulle het glo 'n “wen-wen formule vir die toekenning van parlementêre setels” bereken.

Dit is volgens Venaani die eerste keer dat twee opposisiepartye net voor 'n verkiesing kragte saamsnoer.

“Dit is die eerste omvattende ooreenkoms.”

Mnr. Theo Mujoro, hoofverkiesingsbeampte van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), het gistermiddag gesê die partye is nie wetlik verplig om die liggaam van die jongste wending in te lig nie.

Hulle moet net seker maak hul kiesers is oor die nuus ingelig, sê hy.

Me. Sophia Shaningwa, Swapo se sekretaris-generaal, het nie gistermiddag op navrae gereageer nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer