Koebaai gim-afslag
Koebaai gim-afslag

Koebaai gim-afslag

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die dae van afslag aan mediesefondslede vir gim-lidmaatskap en ander welstandsprogramme is verby.

Die Namibiese waghond oor finansiële instellings in Namibië, Namfisa, het finaal 'n stokkie hiervoor gesteek. Mediese fondse het opdrag gekry om onmiddellik aan artikel 1 van die wet op mediese fondse (MAF) te voldoen.

In opdrag van Namfisa se appèlraad word mediese fondse nie langer toegelaat om afslag op lidmaat­skap en ander welstandsprogramme te bied wat in stryd met artikel 1 van die wet is nie.

Die registrateur vereis volgens me. Victoria Muranda, Namfisa se bestuurder van korporatiewe kommunikasie, dat alle mediese fondse die appèlraad se bevel uitvoer.

Volgens Muranda het die registrateur van mediese fondse in April mediese fondse in 'n skrywe gewaarsku die bogenoemde praktyk is 'n oortreding van artikel 1 van die wet.



Regulasies gewysig

Fondse is versoek om hul regulasies in die lig van bogenoemde te wysig sodat dit met die bepalings van die wet strook. Fondse moes teen 31 Desember aanstaande jaar aan die vereistes van dié opdrag voldoen.

Op 9 Augustus vanjaar is appèl by Namfisa se appèlraad aangeteken teen die besluit van die registrateur om afslag op gim-lidmaatskap en welstandsprogramme teen 31 Desember 2018 uit te faseer.

Die appèlraad is 'n onafhanklike liggaam en kan met die hulp van die wet enige besluit wat deur die registrateur van mediese fondse geneem is, bevestig, ter syde stel of wysig.

Fondse is volgens Muranda genooi om die appèl teen te staan, maar geen mediese fonds het dit gedoen nie.

Sy het voorts gesê Namfisa ondersteun die dienste wat deur gimnasiums gebied word en beskou dit as 'n nood­saaklikheid vir 'n gesonde leefstyl asook vir die voorkoming van sekere gesondheidstoestande.

“Namfisa is egter deur die registrateur van fondse volgens wet verplig om enige wanpraktyk reg te stel wat 'n oortreding van die gepaste administratiewe wette is,” het Muranda gesê.

Sy het beklemtoon die wet se definisie van 'n mediese diens is slegs “gesondheidsbehandeling verskaf deur 'n persoon geregistreer in terme van enige wet”.



Nie Gesondheidsorg

Die voorsiening van onder meer welstandsprogramme aan lede kan daarom nie noodwendig beskou word as die verskaffing van gesondheidsorg deur 'n geregistreerde persoon soos wat die bedoeling is in die wet op mediese fondse nie.

In terme van artikel 1 van die wet kwalifiseer slegs gesondheidsorg verskaf deur 'n persoon wat in terme van enige wet geregistreer is as 'n “mediese diens”.

Mediese dienste sluit onder meer in die fisieke of geestelike ondersoek van 'n persoon; die diagnose, behandeling of voorkoming van enige fisieke of geestelike afwyking, siekte of tekort; die voorskryf of verskaffing van enige medisyne, toestel of apparaat met betrekking tot 'n afwyking, siekte, tekort of swanger­skap; die voorsiening van verblyf in 'n hospitaal of gesondheidsinstelling, sowel as verpleging en verloskunde.

Welstandsprogramme sluit boot camp-oefenprogramme, programme om op te hou rook, kook­skole en stapklubs in.

Korporatiewe welstandsprogramme wat inligting, onderrig en gesondheidsondersoeke aan werknemers bied wat aan 'n mediese fonds behoort en onder meer cholesteroltoetse insluit, is nou ook vir die lid se rekening.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!