Koebaai koerantwese
Francoise Steynberg – Ek het in 'n huis grootgeword waar ons verslaaf aan nuus is, vandaar my nuuskierigheid om altyd te weet wat in die wêreld aangaan.
Die radio het 24 uur per dag gespeel, TV-nuus is gekyk en koerante – Republikein inkluis – is daagliks verslind. My pa was baie polities-bewus en het my as kind saam na politieke vergaderinge gesleep.
As plaasmeisie wou ek weens my liefde vir diere 'n veearts word, maar my wiskunde was te swak. Daarna was my drome om 'n lugwaardin, diplomaat of nuusleser te word. Vir 'n lugwaardin was ek te kort.
My geskiedenisjuffrou Elsada Kruger stel voor met my goeie punte in geskiedenis en Afrikaans, ek studeer kommunikasiekunde en politieke wetenskap en werk eendag vir Republikein waar haar man Nic toe redakteur was.
Ná 'n vakansie op pad terug Pukke toe om my honneursskripsie in te gee, hoor ek daar is 'n pos by die destydse Suid-Afrikaanse ambassade in Mmabatho in die ou Bophutatswana, maar dié is toe reeds gevul. Daar gaan my drome in die diplomatieke diens, maar ek jaag deur Rustenburg toe waar 'n verslaggewerpos by Rustenburg Herout oop is.
Die redakteur stel my dadelik aan toe ek die eerste een is wat 100% vir die Afrikaanse taaltoets kry. (Baie dankie aan my liewe Afrikaanse juffrou Joey Dreyer.) Ek is skaars 'n maand by die koerant, toe ek op die ouderdom van 22 redakteur van hul ander streekskoerant, Brits Pos, word.
Daar begin my ounagte en jare van swoeg en sweet in koerantwese, ook by Republikein in die 90's. In die nuwe millennium maak my lewe wye draaie as kommunikasiebeampte by Capitec Bank op Stellenbosch en ses jaar as Engelse juffrou in Taiwan.
Twaalf jaar gelede het ek blinkoog teruggekom Namibië toe en my loopbaan as joernalis by Republikein hervat.
Alles voel anders as my vorige keer by Republikein, maar daar is steeds 'n paar ou bekendes soos my geliefde ooms Des Erasmus, Errol Hurter, Jan Poolman en Gene Travers. Hulle is nou almal wyle.
Andrew Poolman skryf steeds sport en staan toe op trou. Nou is hy al 'n pa.
Ek werk saam met die formidabele Estelle de Bruyn na wie ek en my pa op SAUK-nuus gekyk het, asook saam met die dame van joernalistiek, Ronelle Rademeyer, voorheen van Sarie.
Al wat kort, is my hartsvriendin en oudkollega, Henriette Lamprecht. Toe Estelle die eerste vroulike redakteur word, word Henriette as die beste gesondheidsjoernalis nader gekatrol en ons is weer koerantsusters.
Die eerste jaar neem die beste huiskok Ruhan Bothma, Ronelle en Estelle aan die Meatco-braaikompetisie op Okahandja deel en ek is saam. Daarna het ek 'n Ruhan 'n woeste sosiale lewe as die Beckhams van Windhoek. Ek het vir tien jaar die vrolike boerebraaie bygewoon, waar Elsada en Nic ook braaikonings was.
Jan Poolman hoor ek hou van reis en hy sleep my saam Noorde toe vir Noorderlig. Later reis ek en my “sista in travelling pants” Ellanie Smit elke tweede week al om die beurt Noorde toe vir Noorderlig en Suide toe vir Suiderland.
As omgewingsjoernaliste deurkruis ons die land en bly in luukse lodges en mankolieke tente. Ons sien vrylopende swartrenosters in die Kunene, maar huil by gestroopte renosterkarkasse.
Ek reis na verre vreemde lande soos Indië, Turkye, China, Indonesië en Marokko om internasionale konferensies by te woon.
Ons joernaliste dog nog ons skryf net stories en neem foto's, toe kom sosiale media en nuus is vinniger beskikbaar. Ons laai nuusbrekers op, maak video's en word nuusaanbieders op Kletskompas, NMH@1 en Africa Good Morning. “Adapt or die!”
Mense raak lui om te lees en boonop steek fopnuus sy kop uit.
Covid-19 tref ons almal en ons skryf koerante van die huis af vol, maar ons moet ons ure op Clockify inklok. Wie kyk ooit na ons ure van sesuur soggens in die ateljee tot agtuur saans as jy die koerant opmaak? Clockify fokkefaai!
Toe ek onlangs 'n aanbod as 'n nuusaanbieder by 'n radiostasie kry, word my droom as nuusleser ná meer as 'n halwe eeu waar. Ek kan steeds die nuus (vinniger) versprei en ek hoef nie op 60 af te tree nie.
Al vloei die drukkersink van koerantwese vir 20 jaar dik deur my are, sê ek koebaai koerant, en baie dankie vir die kosbare herinneringe.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie