Koebaai, kragonderbrekings
Koebaai, kragonderbrekings

Koebaai, kragonderbrekings

Otavi se elektrisiteitskwessies is iets van die verlede, danksy Ohorongo Cement se steun.
ont face="Verdana" >

Ten einde Otavi te help om sy strategiese, ekonomiese plan uit te voer, het Ohorongo Cement grond beskikbaar gestel vir die oprig van ’n substasie langs sy sementvervaardigingsaanleg – sonder enige koste vir NamPower.

Deur dié substasie het CenoRed ’n 40 km lange, 33 kV- oorhoofse kabel van die Sargberg-substasie af gebou om Otavi van bykomende krag te voorsien.

Ohorongo Cement se besturende direkteur, mnr. Hans-Wilhelm Schütte, het gesê: “Otavi het die potensiaal om ’n logistieke, toerisme- en landbounaaf te wees, maar dit word in die wiele gery weens aanhoudende kragonderbrekings wat deur onvoldoende kragtoevoer veroorsaak word.”

Ter voorbereiding het Ohorongo tydens die konstruksie van die sementaanleg in 2008 die oprigting van ’n 132 kV-hoëspanningskraglyn van die Otjikoto-substasie af met N$220 miljoen gefinansier.

“Kragonderbrekings het negatiewe gevolge vir besighede, maar danksy die beskikbare grond kan die kragverskaffer nou ononderbroke elektrisiteit voorsien. Ons glo dit het ’n verreikende, positiewe impak op die lewenstandaard van Otavi se inwoners,” het Schütte gesê.

Met die nuwe kraglyn wat CenoRed onlangs in gebruik geneem het, is Schütte daarvan oortuig betroubare krag sal meer beleggers na die dorp met sy 5 000 inwoners lok. Hy sê dit sal ’n blywende oplossing bied om die hoë vlakke van armoede in die dorp te bekamp.

Deur middel van die Ohorongo Otavi Community Trust (OOCT) het die maatskappy al verskeie bydraes gelewer tot inisiatiewe gemik op ontwikkeling en armoedeverligting op die dorp.

“Saam met ons vennote het ons die Otavi-kliniek opgeknap, en dit met addisionele mediese toerusting en ’n ambulans toegerus. Ons rehabiliteer ook tans sportgeriewe op die dorp,” het Schütte gesê.

Voorts is daar die Ohorongo-werknemersbehuisingskema, waarvoor die Otavi-dorpsraad 30 erwe vir die bou van huise vir die maatskappy se personeel toegeken het. Die maatskappy het ook N$9 miljoen beskikbaar gemaak vir die aankoop van grond en sement geskenk vir die bou van werkershuise. Dit het gevolg ná die werkersunie se onderhandelinge in 2016 vir bystand ten opsigte van eiendomsbesit vir werknemers.

Kommentaar

Republikein 2025-04-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer