Koebaai winter, hallo somer
Koebaai winter, hallo somer

Koebaai winter, hallo somer

Francoise Steynberg
Dit was volgens kundiges die koudste winter wat ons in 20 jaar beleef het.

Vir my het die grendeltyd soos een lang, koue winter gevoel.

Hierdie pandemietyd is vir almal aaklig en dit is ’n donker, depressiewe tyd. Van my kollegas het positief vir die virus getoets en so ook inwoners in my buurt. Corona het lewens geëis en vir talle hul lewensbestaan verwoes.

My haarkapper Suné Gous is in ’n motorongeluk dood en die virus eis die lewe van oom Dirk Mudge. Knap staatsdienskommissaris Wilma Deetlefs se dood was vir my ’n groot skok, so ook dié van ons ruimtepionier, dr. Japie van Zyl. Mag operasangeres Ina Di Michele, ’n getroue leser en groot kritikus van Republikein, sag rus.

Die lente moes vir ons nuwe lewe en hoop bring, maar op lentedag woed nog ’n kouefront en die wind waai ons weg. Ek kerm oor die nare wind en my ma sê ek moet nooit oor die wind kla nie.

“Die wind waai om vir ons reën te bring,” betugtig sy my. Ek nies vir die hoeveelste keer van die stofdwarrels. Die wêreld is vaal, grys en trietsig.

Donderdag reik die weerkantoor ’n weerwaak van reën uit en ek wonder of die weervoorspellers nou die kluts kwyt is. Ek trek weer die aand my wintersnagklere en dik slaapsokkies aan.

Vrydag verskyn vlieswolkies in die lug. My verevriendin skrop langs my op die bed en lê ’n eier. Die doringbosse in Kameeldoringspruit se bloeisels bot wit wolbolletjies.

Middagtyd val ’n paar vet druppels vir enkele minute op Kameeldoringspruit. Ek verneem van goeie buie by Grootfontein en Gobabis.

Ek kry nêrens my reënmeter om buite op te hang nie, maar twyfel sterk of die reën sal kom.

Vrydagaand lê ek in die bed en die honde raak onrustig. Ewe skielik begin die blitse slaan en die donderweer basuin.

Toe die druppels hard op my sinkdak begin val, hardloop ek uit stoep toe.

Die wilde kat kom soek skuiling onder die stoepbank.

Dan sak die reën uit. Die mooiste geluid op aarde vir Namibiërs.

Vir die eerste keer in ’n lang tyd slaap ek rustig sonder bekommernisse oor corona. As ek deur die nag wakker word, hoor ek steeds die reën sag val.

Dit voel of die reën sommer die virus weggespoel het. Reën bring altyd hoop.

Saterdagoggend ruik die nat grond vars en die voëls kwetter vrolik. Tien grasgroen Suidwes-parkiete wei onder my kameeldoringboom.

My buurvrou se reënmeter staan op 6 mm. Saterdagaand word ons met nog ’n 3,5 mm geseën.

Daar was geen lente na die winter nie, maar dankie vir die reën, die seën en die somer.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer