Koebaai
Koebaai

Koebaai

Minette Brink
Lank, lank gelede het 'n angsbevange enkelma met twee kleuters oor Republikein se drumpel getrap.

CV in die hand en hoop in die hart.

Met apologie aan die Korinthiërs: Van geloof, hoop en liefde is hoop die grootste. Daarsonder loop die kop en lyf se battery dood.

En die hoop het nie beskaam nie. Enkelma het 'n werk gekry en haar asem terug.

Met aandskofte het die kinders saans op slaapsakke onder lessenaars lê en slaap. Nadat saam met ander redaksiekinders by die manne van NewsPrint gekuier is. Oopmond gekyk as die reusemasjien die koerante uitspoeg. Terwyl die gebou bewe en dreun. 'n Vertroostende geluid en gevoel, van hier hoort ons.

Vrydagmiddae ná werk is by die Grasdak op die hoek gekuier. Waar die kinders verder baljaar het en teen donker in 'n moeë, tevrede hoop onder die tafels op slaapsakke gesnork het.

Mettertyd het die kinders te groot geword en op ander plekke gaan gespeel. Later die ma-huis én koerant-huis verlaat en eie koerse ingeslaan.

Mettertyd het NewsPrint se manne en hul masjien ook getrek. In 'n ander gebou ver van hier verder gedreun en gebewe.

Enkelma het oud geword. Gewonder wat gaan van haar word so in die aanloop tot 60, aftreedag.

Hoop het weggekruip en plek gemaak vir vrees. Die vieslike, galgeel monster wat 'n mens van binne af vreet en later lam laat.

Tot op 'n dag.

Dom, raas Enkelma met haarself. Kyk wyd en gryp. Die lewe roep, die wêreld wag.

Sy het die nodige papiere met punte en prestasies afgestof, opgetof en na 'n verre land gestuur. Vrees by die huis uitgeskop en hoop teruggenooi.

Ná weke het die aanbod gekom, gevolg deur Skype-onderhoude en tonne ander papierwerk.

En toe sy weer sien, is sy op pad na 'n plek 12 335 kilometer van Eros, waar sy grootgeword het.

Vir oulaas stap sy tot in Khanstraat, huil 'n bietjie oor die kleintydhuis wat jare al aan vreemdelinge behoort. Die straat waarin sy gereeld haar nerwe afgeval het danksy 'n skaatsplank en bewerige rolskaatse. Die straat na haar laerskool toe wat links draai by die parkie. Die straat wat loop tot by die drumpel van die koerant-huis.

Alles gebeur soos dit moet. Die herinneringe is veilig gebêre in haar kopkluis. Vir eendag se uithaal en nie huil nie.

Die jaar 2020 is propvol beloftes. Dit sê ook lekker. Twênnie-twênnie. Soos perfekte sig vir die nie-brildraers.

Mag oë oopgaan waar nodig en selfs die oënskynlik kleinste geleentheid met alle ledemate oorrompel word. Mag hoop altyd wen.

Koebaai.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!