Koedoebul doen aankope in winkel op Karibib
Des Erasmus - ’n Jong koedoebul is ’n nuwe klant van Bernard en Engela Pieters se winkel op Karibib.
Die outjie het doodluiters by die voordeur ingestap en reguit op die groenterak afgepeil.
Pieters het aan Republikein vertel dit was Sondagoggend net ná oopmaaktyd. Hy skat dit was so 08:15. Hy was in sy kantoor in die groot sentrum toe hy die gedruis in die winkel gehoor het. Eers het hy aanvaar dit is ’n bus met ’n groep skoolkinders. Toe het hy die bul gewaar waar hy reguit op die groente- en vrugterak afgepeil het. Daar was sy groot belangstelling in die pragtige piesangs op die rak.
Op die oog af het niks met die jong koedoe met sy horings in hul derde draai geskort nie.
By die rak het die koedoe gesukkel om sy staan te kry met sy hoewe wat op die gladde vloer gegly het. Juis dit het die personeel gehelp om die bul vas te pen en uit die winkel te help. Van die eerste klante van die winkel het toe al net van vleis gepraat, maar Pieters het berispe: “Laat iemand net aan hierdie koedoe vat!”
By die voordeur het die koedoe die wêreld ’n bietjie verken en toe eers die hoofstraat en toe die spoorlyn oorgesteek terug veld toe.
Pieters, ’n man wat die natuur en die wildlewe ken, sê dit was duidelik dat die koedoe nie hondsdol was nie. Dis ’n siekte wat koedoes dikwels aantas.
“Net die gevolg van die verskriklike droogte,” sê hy. “Nou sien ons dit is nie net ons mense wat swaarkry nie.”
Hy weet nie of die koedoe ’n piesang of twee ingekry het nie, maar hy hoop wel so.
Ná die voorval het hy die spoor van die storie gevat. Die koedoe het blykbaar vroeg die oggend reeds op die plaveisel voor die sentrum kom lê. Daar het van die straathonde op die outjie afgekom. Dit was blykbaar toe dat hy besluit het om stoeplangs ’n bietjie dieper die sentrum in te stap. Opvallend was dat die bul onbelangstellend by die drankwinkel verby beweeg het, vertel hy.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie