Koedoes in greep van hondsdolheid

'n Uitbreking van hondsdolheid, wat veral koedoes siek maak, woed opnuut.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die voorkoms van hondsdolheid onder veral koedoes het die afgelope weke in die groter Windhoek-gebied toegeneem, met veral plase oos van die hoofstad wat deurloop.

Volgens dr. Rainer Hassel, projek­leier vir die Namibië Landbou-unie (NLU) en Agra ProVision se spesia­le navorsingsprojek oor dié siekte onder koedoes, word daar byna elke dag gevalle aangemeld.

“Ons word feitlik daagliks met die siekte gekonfronteer.”

Hy sê tot dusver is 15 gevalle van hondsdolheid onder koedoes deur middel van laboratoriumtoetse bevestig, met enkele bevestigde gevalle ook onder beeste en elande.

'n Koedoebul, wat vermoedelik hondsdolheid gehad het, is Maandag deur die ministerie van die omgewing en toerisme in Cimbebasia van kant gemaak nadat die dier sy opwagting by 'n woonhuis in dié buurt gemaak het.

Koedoes wat met die virus besmet is, tree dikwels op asof hulle mak is en kom vreesloos voor.

Die NLU het onlangs 'n beroep op boere en die eienaars van jagplase gedoen om op die uitkyk te wees vir gevalle van hondsdolheid. Indien diere wat vermoedelik hondsdolheid het, van kant gemaak word, moet verkieslik die hele kop van die dier in 'n sterk plastieksak geplaas word en in 'n koelhouer na die Sentrale Veterinêre Laboratorium in Windhoek gebring word vir ontleding.

“Dit is nodig om soveel monsters as moontlik te bekom, en nie net van koedoes nie, maar ook van elande, jakkalse, ander wilde diere en lewende hawe,” sê dié unie.

“Die maklikste manier is om die hele kop van 'n dier by die laboratorium in te gee. Vars monsters is ideale monsters.”

Mense wat met dié diere se karkasse werk, moet handskoene en maskers dra, waarsku die NLU.

Die laboratorium moet ook ingelig word van op watter plaas die dier gevind is, wie die eienaar van die plaas is, sowel as wat die simptome was wat by die dier waargeneem is.

Dié inligting is nodig vir die epistomologiese en genetiese studies wat deel van die navorsingsprojek vorm.



GOEIE RESULTATE

Intussen het dr. Hassel gistermiddag met die NLU vergader om terugvoering te gee oor die goeie resultate wat tydens die navorsingsprojek behaal is en om op die pad vorentoe te besluit.

Die navorsing bestaan uit drie komponente. Dit is die insameling van epidemiologiese data deur middel van vraelyste en onderhoude met plaaseienaars.

Tweedens sluit dit 'n ontleding van bloedmonsters in wat by oënskynlik gesonde koedoes in die natuur getrek is om te bepaal of van hulle moontlik oor 'n natuurlike immuniteit teen die virus beskik.

En laastens behels dit proewe waartydens koedoes deur middel van direkte kontak met die hondsdolheidvirus besmet word, kliniese toetse op koedoes wat oraal en binnespiers teen hondsdolheid ingeënt is, en die toediening van die entstof aan koedoes deur dit in 'n koekie te plaas wat in die natuur as lokaas vir dié diere uitgesit kan word.

Die entstof, wat in 'n verteerbare sakkie is, word in die koekie gesit en wanneer die koedoes dit kou, breek die sakkie en die entstof word in die dier se bek vrygestel. Die koekie word van gemaalde peule gemaak.

Die proewe met die lokaas was baie suksesvol, sê Hassel, en die volgende stap is om oor die praktiese implementering daarvan te besluit.

Vir meer inligting kan mense vir dr. Hassel by 061 290 9331, 081 332 4514 of [email protected] kontak.

Die kontakpersoon by die laboratorium is dr. Jolandie van der Westhuizen, afdelingshoof vir patologie, parasitologie en virologie. Haar nommer is 061 237684.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!