Koeke mooi genoeg om engel-harte te steel

Mariana Balt
Mariana Balt - Vra jy vir Judie Blaauw van die Koekie Hemel op Keetmanshoop vir ? visitekaartjie, lag sy net en beduie skouerophalend na ? outydse reistassie wat voor haar op die tafel staan.
Wanneer jy ? kaartjie uit die tas wil haal, besef jy dat die growwe leerafwerking van die tas sag onder jou hand induik en dat die koperkleurige gespes wat die deksel toe hou ? effens taaierigheid op jou vingers laat.
Eers wanneer sy oor jou verleentheid lag, besef jy dat dit geen tas is nie en verstaan jy haar vroeëre woorde dat die koeke wat sy bak sommer as haar visitekaartjies dien.
Die tas-koek, volledig met handvatsel, reisstempels en adreskaartjie wat met ? toutjie daaraan vasgemaak is, is maar die jongste in ? reeks kunswerke wat sy oor die jare gebak en versier het. Sommige hiervan was op bestelling vir kliënte se verjaardae of ander feesvieringe, maar baie daarvan was ten bate van liefdadigheidsveilings. Ek is dan ook geensins verbaas nie, as sy vertel hoe bieërs in die verlede baie dollar vir so ? koek betaal het, maar dit dan telkens teruggegee het om wéér opgeveil te word, sodat die uiteindelike ingesamelde bedrag veel hoër is as wat dit oorspronklik sou wees.
Dit was egter die belofte van gratis verjaardagkoek saam met koffie (aangebied omdat die winkel dié dag sy eerste verjaardag vier) wat ons in die eerste instansie by die deur ingelok het en die heerlike veellaag sjokolade-en-roomkoek stel ons ook nie teleur nie.
Judy, wat saam met haar man drie ondernemings op die dorp besit, vertel sy het sowat agt jaar gelede met haar koekbakkery begin toe hulle ? personeeltekort in die bakkery in hul supermark ervaar het.
Haar reputasie as kreatiewe bakker het soos ? veldbrand deur die dorp en verder versprei en vandag is daar min mense in die suide van die land en selfs in die hoofstad, wat nie met die produkte uit die Koekie Hemel bekend is nie.
Die winkeltjie self, wat nogal herinner aan ? outydse plaaswinkel met die antieke kaste vol snuisterye, gehekelde gordyntjies voor die vensters en ou radiostelle en blikke as ornamente, is ? jaar gelede geopen. Hier verkoop Judy allerhande toerusting wat vir koekversiering benodig word, gee sy lesse in koekversiering en ander handewerk en kom “hang hongeriges gereeld aan die deurkosyne” as die geur van boerekos die lug vul.
Sy verduidelik dié gesegde uit haar kinderdae aan die hand van wat langs die winkel, in die kombuis-gedeelte van die onderneming, aan die kook is: “Ek het met die stelling grootgeword dat mense met onrustige, opvlieënde geaardhede nie lekker kos kook nie, maar dat rustige, 'pruttende' mense die kuns ken om kospotte vir ure te laat staan en prut om hemelse bredies voort te bring."
Vir baie werkers op die dorp is Koekie Hemel se koffiewinkel dus nie net ? plek waar ? mens gou ? koppie koffie kom drink nie, maar ook die beste plek om ? heerlike middagete te kom geniet.
Dan koop hulle maklik van die geskenke wat sy aanhou en wat sy van sover as die Noord-Vrystaat by ander tuisnyweraars aankoop of dit namens hulle verkoop. Dit sluit unieke handsakke, sokkies, kussings, mandjies, konfyt en ander snuisterye in.
Sy gee graag raad aan ander voornemende baasbakkers en vertel dat baie van die besoekers aan die winkel graag die tyd daar kom verwyl wanneer hulle vir sake dorp toe kom.

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer