Koen ná twee dekades klaar

Die tyd is reg om aan te beweeg, het een van die land se voorste en mees ervare blasers van die afgelope jare besluit.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die bekende rugbyskeidsregter Danie Koen (41) van Okahandja het besluit om ná 21 jaar op die rugbyveld sy fluitjie in die onderste laai van sy lessenaar weg te bêre.

Nadat hy die skoolbanke in 2000 vaarwel geroep het, het Koen die volgende jaar sy eerste amptelike wedstryd as die man in die middel hanteer. Hoewel hy as hoërskoolseun reeds by vele wedstryde as vlagman opgetree het, was Academia Hoërskool se veld sy eerste uitstappie as skeidsregter.

Koen het sy uittrede so beskryf: “Wanneer jou hart en voorgevoel saamgesels, dan weet jy dat jy die regte besluit neem.

“Ek het vir 21 jaar geblaas en die wêreld vol gereis, waar ek onvergeetlike herinneringe saam met die mees ongelooflike mense op die planeet opgebou het.

“Ek het wonderlike plekke besoek en gesien en in etlike finale opgetree; dit sal ek nie vergeet nie. Maar dit het tyd vir my geword om my stewels op te hang en my fluitjie in die laai te bêre.

“Ek wil graag almal bedank wat saam met my die pad gestap het, al die pad van Nieu-Seeland, die Amerikas tot Kanada en die res van die wêreld. Baie dankie aan al die rugbyspelers, afrigters, skeidsregter en toeskouers.

“Die tyd het aangebreek om met groter dinge aan te beweeg.”

Koen sê mnr. Thys Reynecke (een van sy hoërskoolonderwysers) het hom op skool reeds aangemoedig om ’n rugbyskeidsregter te word.

“Ek onthou die dag nog goed en ek sal nooit vergeet toe ek my eerste wedstryd hanteer het nie. Dit was tussen HTS se Academia se o.14B-spanne op die Academia-veld, net nadat ek matriek geskryf het. Oom Thys was my mentor en het gesê ek het die potensiaal daarvoor. Dit was vroeg in die jaar, nadat dit baie gereën het, en ek dink die seuns het net 20 minute aan ’n kant gespeel.

“In 2007 het ek my eerste klubwedstryd geblaas en in 2009 my eerste premierligawedstryd. Ek het eers baie eersteligawedstryde geblaas voor ek bevordering gekry het.

Sy debuut in die premierliga was op ’n Woensdagaand tussen Western Suburbs en Wanderers by Wanderers.

“Ek het daai aand omtrent gesukkel met veral die twee opponerende stutte (Deon van der Bergh en Jood Opperman) wat meer as vurig was. Dit was ’n moeilike affêre om hulle te bestuur, want beide was baie dominerend.

“My sewesloopbaan het in 2007 in Lusaka, Zambië, afgeskop. Die Namibiese Skeidregtersvereniging het my gestuur na die toernooi waar provinsiale en klubspanne betrokke was.

“Ek het in Lusaka die Vrydag en Saterdag geblaas en die Saterdagaand het die assessor en skeidsregterafrigter my geroep en ingelig dat ek baie goed gevaar het.

“Hulle sê toe een skeidsregter by die Afrikakompetisie het malaria opgedoen en vra of ek bereid is om sy plek in te neem, want ek was die beste skeidsregter beskikbaar.

“Natuurlik het ek die geleentheid aangegryp en het die volgende dag die kwarteindstryd en semifinaal geblaas. Net ná 16:00 die Sondag het hulle my ingelig ek moet die finaal tussen Kenia en Zimbabwe ook hanteer.

“My liefde vir sewes het daardie dag begin ontwikkel. Die gogga het behoorlik gebyt en van toe af was dit my eerste liefde. Buiten klubs, skole en provinsiale seweswedstryde het ek in 306 internasionale wedstryde opgetree.

“Ek was vier keer in Dubai vir sewestoernooie, asook in Amsterdam, Bangkok, Kuala Lumpur, Mauritius en Spanje. Ek was die eerste Namibiër wat by die wêreldsewestoernooi vir universiteite in ’n finaal (tussen Australië en Suid-Afrika) geblaas het.

“In 2015 was ek in Johannesburg by Afrika se kwalifiserende toernooi vir die Olimpiese Spele. Dit was vir my ’n groot oomblik, want dis die naaste wat ’n ou soos ek aan die Spele kan kom.

“Daar was so baie dat ek nie alles kan onthou nie, maar dié is my hoogtepunte in ’n neutedop.

“Die laaste 15-wedstryde wat ek hanteer het, was verlede jaar se eersteligafinaal tussen Sparta en Unam III, asook die reserweligafinaal tussen Kudus II en Suburbs II.

“Maar alles is nie net maanskyn en rose nie. Daar was baie dae wat ek dit moeilik gevind het om voort te gaan. As dit nie vir Jacky Husselman en William Steenkamp was nie, het ek al lankal opgehou. Sonder dié twee manne sou ek dit nie gemaak het nie. Dankie Jacky en William.

“Ek moet Jacky vir sy ondersteuning bedank en natuurlik my Hemelse Vader wat die geleenthede vir my geskep en my gesond gehou het. Ek moet my vrou bedank wat elke liewe naweek by die huis gesit het terwyl ek gery het om iewers te gaan blaas.

“As ek op ’n vliegtuig geklim het, het sy na die besigheid en die kinders omgesien. Sy het my toegelaat om my uit te leef. Daar was tye wat ek letterlik net twee dae by die huis sou wees voor ek weer iewers heen vir rugby moes vlieg. Sy het nie een dag vir my gesê ek kan nie gaan nie. Sy het my deurgaans ondersteun. As dit nie vir my vrou was nie, sou ek dit nie kon doen nie.

“My boodskap aan skeidsregters en ouens wat nog gaan blaas: Dis nie ’n maklike taak nie, maar aan die einde van die dag gaan dit oor wat jy daarvan maak.

“Moet nooit van jou ondersteuningsbasis vergeet nie. Jou familie is baie belangrik; moet dit nooit los nie. So ook die skeidsregtersvereniging.

“Dit beteken vir my baie wanneer ek ’n speler soos ’n vriend kan groet. Dis wonderlik om te weet jy word as ’n mens gesien en nie net onthou as ’n skeidsregter wat ‘verkeerd’ blaas nie. Ek onthou afrigters soos Jood Opperman en Johan Diergaardt met wie ek saamgewerk het; mense met inbors wat dissipline voorop gestel het.

“Die mense wat agter my gestaan het, het eintlik hierdie mylpaal behaal. Nie ek nie; hulle het my maar net vorentoe gedra.”

[email protected]

FOTO’s
Danie Koen in aksie tydens een van Capricorn se internasionale sewestoernooi in Windhoek. Foto Tielman van Lill
Danie Koen neem ’n ysbad vir sy beenspiere om te herstel vir die volgende wedstryd. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!