Koerantwese is in sy bloed

Die voorblad van 12 September 1989 sal altyd in Manfred Tjatindi se geheue ingeprent bly.
Tanja Bause
Tanja Bause

“Wanneer die papier by die deur uitgaan en op straat is, dan eers is dit ’n koerant. Hier binne in die drukkery is dit net papier waarop gedruk is, maar op straat wanneer iemand die nuus lees, is dit ’n koerant wat die nuus bring en dit maak my baie trots dat ek vir so veel jare die koerante gemaak het,” het Manfred Tjatindi van Newsprint gesê nadat hy onlangs ná bietjie meer as 39 jaar in die drukkersbedryf afgetree het.

Manfred is in Windhoek in die Ou Lokasie gebore en het toe hy nege jaar oud was met graad 1 begin.

“Ek is Epukiro toe gestuur om daar graad 2 te doen. Ek was daar tot graad 7. Daarna is ek Otjinene toe gestuur om verder skool te gaan. Dit was vir my ’n baie moeilike tyd, omdat Otjinene die nedersetting vir die Hereros was en Epukiro vir die Banderos; en dié twee het mekaar nie verstaan nie.”

Manfred vertel die koshuisvader het een dag in sy kas gekrap en op sy lidmaatskapkaart van Swanu, die politieke party, afgekom.

“Hulle het almal aan die DTA behoort. Hy het my na die skoolhoof se kantoor geroep en daar is ek geslaan en geskop omdat ek aan Swanu behoort het. Dieselfde aand het hy my in ’n hoenderhok toegesluit.”

Baie vroeg die volgende dag het hy vir Manfred na Otjinene, terug na sy familie gevat.

“Ek het daar gebly tot ek 19 jaar oud was en ek het in April 1982 by John Meinert in Windhoek begin werk. Ek het koerante met ’n fiets by winkels en per voet by huise afgelewer. Dit was my eerste werk en my eerste salaris was R35. Om die koerante af te lewer, het ek nog R13,50 bygekry. Dit klink min, maar daardie jare het ’n brood R1,50 gekos en om huis toe na die reservaat te gaan, het R10 vir heen en weer gekos.”

In 1988 het Manfred ’n brief aan die bestuurder van John Meinert geskryf oor griewe wat die werkers gehad het. Sy bestuurder het hom die oggend ingeroep en ontslaan.

“Ons het aan ’n vakbond behoort en hulle het vir Anton Lubowski ingekry om my te verdedig. Die rede hiervoor was dat Anton Duits was en so ook my bestuurder en ons het gedink as die bestuurders onder mekaar gesels, gaan Anton hulle kan verstaan. Anton het in die raadsaal ingestap, gaan sit en sy voete op die tafel neergesit. My bestuurder het hom gevra of hy nie besef dit is baie onmanierlik nie en Anton het net gesê soos jy nou voel so voel die man wat jy vanoggend ontslaan het en die namiddag was ek weer aangestel; dié keer as ’n setter wat die plate van die koerant gemaak het. Daar het altyd ’n plakkaat van Anton in die kamer van die setters gehang, want hy het my gehelp om my werk te behou.”

’n Setter moes die plate maak sodat die koerant gedruk kan word. Hy moes seker maak die vier hoofkleure sit reg opmekaar sodat dit kon registreer. ’n Koerantplaat is ’n aluminiumvel wat die beeld van ’n koerantbladsy bevat. Elke bladsy van die koerant benodig ’n individuele aluminiumplaat. Elke plaat is ’n unieke en blywende deel van die produksieproses.

“Ek het die plate met my hande skoongevee. Ek het hulle gegom sodat die skrif nie afkom nie en dit het sowat 20 minute gevat om een plaat te maak. Ons het moderner begin raak en begin leer om op rekenaars te werk. Dit was baie vinniger. Die rekenaar was reg ingestel en ek het ’n knoppie gedruk en ek kon vier plate in tien minute maak.”

In die bietjie meer as 39 jaar wat hy by die drukkery in diens was, het daar talle koerante en voorblaaie deur Manfred se bekwame hande gegaan. Die een wat hy nooit sal vergeet nie is die voorblad van 12 September 1989 toe Anton Lubowski by sy huis in Windhoek doodgeskiet is.

“Ek het daardie voorblaaie gemaak en ek onthou hulle soos gister. Dit is een wat ek nooit sal vergeet nie.”

Manfred tree nie af omdat hy siek is nie, maar omdat hy vir die jonger geslag ’n kans wil gee.

“Ek voel die jong mense moet ook ’n kans kry en elke een van hulle wat ’n werk kry, is een botsotso minder op straat. Ek gaan nou aan my bees- en skaapboerdery op Epukiro aandag gee. Ek het nog altyd gewerk en moet nou kyk of ek kan lewe sonder werk.”

RAAD

Manfred het is sy hele loopbaan net by een drukkery gewerk. Die drukkery is wel deur verskillende maatskappye oorgekoop en die naam het verander, maar hy het nooit van werk verander nie.

“Wanneer jy ’n probleem het, gaan bespreek dit met die bestuur en los die probleem op. Samewerking maak alles makliker en as jy jou kant bring en die maatskappy hulle kant, is daar nie probleme nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!