Kokaïensaak: 'Staat het geen bewyse'

Volgens die staatsaanklaer wys alle vingers na die beskuldigdes en sal hulle weldra skuldig bevind word.
Otis Finck
Otis Finck op Walvisbaai - Landdros Ilge Rheent sal Vrydagmiddag beslis of mnre. Grant Noble (36) en Dinath Azhar (62), die twee beskuldigdes in die grootste kokaïenklopjag ooit in Namibië wat in Junie op Walvisbaai uitgevoer is, op borgtog vrygelaat sal word.

Staatsaanklaer Salomon ­Kanyemba en die beskuldigdes se regsverteenwoordigers, mnre. Jan Wessels en Sisa Namandje, saam met mnr. Sacky Khadhila-Amoomo, het hul betoë tydens die borgtogverhoor Maandag in die Walvisbaaise landdroshof ­afgesluit.

Wessels het voorheen die hof ingelig dat Noble borgtog van N$50 000 kan betaal en aan die ­borgtogvoorwaardes sal voldoen. Azhar het gesê hy kan borgtog van tussen N$30 000 en N$50 000 bekostig.

Wessels het gesê 50% van moordbeskuldigdes word op borgtog vrygelaat.

“Ons kan nie ontken dat die klagte teen ons kliënte ernstig is nie. Borgtog hang egter af van hoe sterk die staat se saak is en in hierdie geval het die staat nie eens 'n prima facie-saak nie,” het Wessels gesê.

“Daar is geen bewyse nie. My kliënt was nie in Brasilië teenwoordig toe die vraghouer gelaai is nie en dit kan nie bewys word dat hy in beheer daarvan was nie.”

Namandje het beklemtoon dat die staat nie 'n sterk saak het om borgtog teen te staan nie en geen bewyse daarvan ingedien het dat die beskuldigdes sal vlug as hulle borgtog kry nie.

“Ons kan nie mense in aanhouding hou om hulle te straf nie, net om hulle ná twee jaar vry te laat nie. Dit is nie in belang van die publiek, waarvan die beskuldigdes lede is nie.”

Hy het gesê die staat se saak is ­hopeloos en dit verdien nie die openbare en mediasirkus nie.

“Almal het aangeneem daar is 'n saak. Die bewyse wat die ondersoekbeampte voorgelê het, is 'n ramp en 'n skande. Die staat moet voldoende bewyse hê en het nie daarin geslaag nie.”



GELDIGHEID VAN LASBRIEF

Namandje het ook die geldigheid van die visenteringslasbrief bevraagteken en het gesê dit is eers ná 12:00 uit­gereik toe die seël van die vraghouer gebreek was en die verdagte poeier reeds ontdek is.

“Geen visenteringslasbrief het bestaan toe die vraghouer oop­gemaak is nie.”

Hy het gesê enigiets wat in so 'n soektog ontdek is, moet geag word asof dit geensins ontdek is nie.

“Die voordele van visenterings­lasbriewe moet van waarde wees. Die staat het vuil hande en die ­Namibiese polisie het eintlik bedrog gepleeg om die visenteringslasbrief te bekom. As die persoon wat die visenterings­lasbrief uitgereik het, voor die hof moet getuig, sal hy of sy moontlik in die tronk beland.”



LABORATORIUMVERSLAG

Namandje beskryf die Nasionale Forensiese Wetenskaplike Instituut (NFSI) se laboratoriumverslag wat die staat ingedien het, as 'n waardelose stuk papier.

“Slegs 2 kg van die beraamde 412 kg is getoets. Die verslag verskaf ook nie die persentasie van die ­sogenaamde verbode middel wat in die houer ontdek is nie.”

Kanyemba het gesê die staat staan borgtog teen weens die erns en sterkte van die saak, die oortreders se vlug­risiko en dat dit nie in openbare belang sal wees nie.

Die staat vrees ook dat die beskuldigdes met getuies en die ondersoek sal inmeng, wat nog nie afgehandel is nie.

“Daar is ook 'n sterk moontlikheid dat hulle dieselfde oortredings kan begaan as hulle op borgtog vrygelaat is,” het die staatsaanklaer gesê.

“Dit is verregaande van die verdediging om van die staat te verwag om sy saak tydens 'n borgtogverhoor te bewys. Ons is nie hier om die skuld van die beskuldigdes te bewys nie. Die beskuldigdes het toestemming gegee dat die vraghouer in hul teenwoordigheid ondersoek word.”

Kanyemba het uitgewys doeanebeamptes die gesag het om goedere sonder 'n visenteringslasbrief te deursoek.

“Die verdediging se voorstel dat hierdie nie 'n sterk saak is, is nie geldig nie. Die betrokke polisiebeamptes het uit hul pad gegaan om 'n visenteringslasbrief te kry.

“Die beskuldigdes het gegaan en die vrag ontvang. Die tweede beskul­digde het doelbewus gekies om 'n stille vennoot te wees om sodoende die gevolge daarvan om uitgevang te word, te omseil.”

Kanyemba het voorts gesê die dokter, wat die laboratoriumtoetse uitgevoer het op die middel waarop beslag gelê is, sal in 'n hof onder kruisverhoor getuig wanneer die tyd reg is.



'INHOUD WEL KOKAïEN'

“Die NFSI-verslag het egter bevestig dat die inhoud van al die bokse wel kokaïen is. Die bewyse sal tydens die verhoor gelewer word.”

Hy het beklemtoon die aanklaer-generaal het die gesag om klagte aanhangig te maak en was goed bewus van wat gedoen moes word.

“Daar word nie van die staat verwag om sy saak in hierdie stadium bo ­redelike twyfel te bewys nie.

“Ons kon meer klagte rakende afpersing en geldwassery bygevoeg het, en klagte kan tydens die ondersoek­proses verander,” het die staats­aanklaer gesê.

“Die feit is die beskuldigdes het kokaïen ingevoer. Die 400 bokse wat van Brasilië af ingevoer is, is dieselfde as wat in Namibië aangekom het. Die bewyse wat ons sal voorlê, sal vingers na die twee beskuldigdes wys. Daar is geen uitweg vir die beskuldigdes nie en die staat is vol vertroue dat hulle weldra skuldig bevind sal word.”

Volgens Kanyemba is dit ­duidelik dat 'n internasionale sindikaat ­betrokke is.

“Daar is meer mense as die twee be­skuldigdes betrokke. Vier mans het probeer om 'n doeanebeampte om te koop en hulle het dokumente van Family Fresh in hul besit gehad wat die beskuldigdes aan hierdie mense verbind. Hulle is vasbeslote om die ondersoek te belemmer.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer