Kokaïensaak: Twee bly in aanhouding

Die staat sê dit het 'n sterk saak teen twee vermeende dwelm­smokkelaars.
Otis Finck
Otis Finck



Uitspraak in die borgtogverhoor van twee vermeende dwelm­smokkelaars sal na verwagting op 7 September gelewer word.

Mnre. Grant Noble (36) en Dinath Azhar (62) se formele borgtogaansoeke het Dinsdag voor landdros Ilge Rheent in die Walvisbaaise landdroshof begin.

Die twee is in Junie in hegtenis geneem nadat op die Walvisbaaise­ hawe beslag gelê is op 412 kg se kokaïen met 'n geraamde waarde van N$206 miljoen.

Hulle word verbind met die grootste dwelmklopjag in die Namibiese geskiedenis.

Noble en Azhar word onderskeidelik deur mnre. Jan Wessels en Sisa Namandje­ verteenwoordig.

Staatsadvokaat Salomon Kanyemba­ het betoog die staat staan borgtog teen weens die erns van die ­oortreding, die feit dat die staat se saak sterk is, dat die verdagtes 'n vlugrisiko inhou, vrees dat met getuies ingemeng kan word, die moontlikheid dat hulle dieselfde oortredings weer sal begaan, en dit in openbare belang is dat hulle nie borgtog kry nie.

Noble en Azhar is op die eerste dag van die verhoor deur hul regsverteenwoordigers­ ondervra. Hulle het ook redes ingedien waarom borgtog aan hulle toegestaan behoort te word.

Wessels het die hof ingelig dat Noble kan bekostig om N$50 000 borgtoggeld te betaal en ook ingestem het om aan streng borgtogvoorwaardes te voldoen soos deur die staat vereis word.

Azhar het aangedui dat hy tussen N$30 000 en N$50 000 borgtog sal kan betaal.



'ONSKULDig'

Beide mans hou vol hulle is onskuldig.

Hulle het beklemtoon dat hulle nooit besoek aan Brasilië afgelê het nie, nie teenwoordig was toe die vrag­houer gelaai is nie en ook nie weet wie dit geseël het nie.

Tydens die hofverrigtinge het dit geblyk Noble en Azhar het ontmoet toe hulle dienste by 'n moskee in Narra­ville bygewoon het en gesels het oor hoe 'n mens geld kan maak.

'n Maatskappy genaamd Zeeki Trading CC het hieruit voortgespruit, met Noble as die enigste lid daarvan en Azhar as 'n stille vennoot en finansierder.

Volgens die twee het hulle navorsing op die internet gedoen en besluit om A4-fotostaatpapier van Brasilië in te voer. Azhar het toe N$250 000 van sy familie in Suid-Afrika gekry om die papier te bestel. Hulle verwagting was wins van N$80 000 deur dit aan onder meer plaaslike skole en maat­skappye te verkoop.

Verder het dit aan die lig gekom dat hulle 'n stoorplek teen N$15 000 per maand in Walvisbaai gehuur het, maar dit is vir meer as 'n jaar nie gebruik nie.



'n Vraghouer het op 9 Junie by die Walvisbaaise lughawe aangekom, maar doeanebeamptes het beslag daarop gelê met die veronderstelling dat dit dwelms bevat. Derhalwe kon die vrag slegs deur die doeane self vrygestel word.

Volgens 'n vragbrief van Safety Commercial Import and Export, 'n Brasiliaanse maatskappy, het die vrag­houer 480 bokse A4-fotostaatpapier bevat wat vir Zeeki Trading geoormerk is.

Volgens Noble het hy die dokumente van DHL ontvang twee weke voordat die vraghouer by die hawe aangekom het.

Hy het die vragbrief, faktuur en paklys na Family Fresh Produce geneem om klaring vir die invoer van die vraghouer te kry. Dié maatskappy het iemand anders gekry om met die klaringsproses te help.



ONTDEKKING

Noble het verder gesê toe hy op 'n Vrydag by die vraghouer langsaan die polisiestasie aankom, het hy lede van die polisie se dwelmeenheid en snuffelhonde gesien.

Toe het hy agtergekom hulle is op soek na dwelms.

Die seël is in die teenwoordigheid van die beskuldigdes gebreek en twee bokse is uitgehaal. Dit het A4-foto­staatpapier bevat wat klaring gehad het om verwyder te word, maar dit kon nie gebeur nie weens die plek waar die vraghouer oopgemaak is. Hy het toe na die noordelike hek beweeg om die vereiste papierwerk af te handel sodat die bokse weggevat kan word.

Daarna het hy 'n telefoonoproep van die doeanebeamptes ontvang dat hy onmiddellik na die vraghouer moes terugkeer. Hy het dit gedoen.

“Toe die hond aan die tweede ry bokse ruik, het hy daaraan begin byt. Met die oopmaak van die bokse het hulle 'n blok uitgehaal wat soos kokaïen gelyk het. Ek weet dit, want ek het gesien in die TV-reeks getiteld Narcos gesien hoe dit lyk.

“Hulle het voortgegaan om sommige van die blokke met 'n mes oop te maak en ek het besef hierdie is moeilikheid. Ek het duiselig en naar begin voel, en flou geraak. Ek het skaars iets op my naam, hoe sal ek kokaïen ter waarde van N$203 miljoen kan invoer?”

Die staat het op dag twee die ondersoekbeampte, inspekteur Charles Goa­goseb, asook 'n lid van die publiek gevra om die borgtogaansoek teen te staan.

Volgens Goagoseb het die snuffelhond met die verwydering van die derde boks in die vraghouer aangedui dat hy dwelms ruik. Dit het tot die ontdekking van 20 bokse gelei wat dwelms bevat het. Laboratoriumtoetse het, volgens hom, intussen bewys dit is kokaïen. Rheent het gisternamiddag die verhoor tot 3 September uitgestel vir die staat om vertoë te rig. Die beskuldigdes bly in aanhouding.



.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!