Kolmanskuppe stuk vir stuk vernietig
Ek het onlangs deur die suide van ons pragtige land getoer en met familie soos 'n regte toeris die aantreklikhede gaan besoek. So het ons ook onder andere 'n besoek aan die spookdorp Kolmannskuppe buitekant Lüderitz gaan aflê.
Ek was ietwat langer as 'n jaar gelede ook daar en groot was my skok om te sien hoe die plek in 'n jaar se tyd agteruitgegaan het. Dit is nie die wind, weer en sand wat hom so verskriklik verniel het nie, maar die mens, die toeris wat juis na die besondere plek in ons land gaan kyk het.
In die hospitaal is daar byvoorbeeld een kamer waar elke Jan Rap en sy mater met 'n kokipen hul name teen die muur geskryf het. Daar staan byvoorbeeld "Alexei Anatoly from Russia". My vraag is wie besoek 'n spookdorp met 'n dik swart koki in sy sak? Het Anatoly sy koki van Rusland af saamgebring om op ons muur te kan kom mors?
Waar is die bewondering dat die hospitaal die eerste hospitaal in die suidelike halfrond was wat 'n X-straalmasjien gehad het? Of dat die dorp die eerste een in Afrika was wat oor 'n trem, wat deur donkies getrek is, beskik het. Elke oggend is daar 'n blok ys, 'n kas water en 'n kas koeldrank by elke huis afgelaai. Die vroue kon dan op die trem klim en hul inkopies in die dorp gaan doen.
Ander sny sommer hul name in die hout. Weer eens: jy gaan met 'n mes Kolmannskuppe toe?
In die een huis het iemand 'n vensterraam van sy skarniere af geruk en in 'n deur geplaas. Om 'n foto van 'n vensterraam in 'n deur te neem? Ek verstaan dat dit seker vir jou nou baie oorspronklik en mooi is, maar jy breek 'n reeds vervalle plek nog meer af sodat jy 'n foto kan neem.
Terwyl ons in die parkeerarea sit en vir die res van die mense wag, kom daar 'n man en vrou aangestap met 'n stuk houtplank wat hulle in een van die huise hopelik opgetel het en nie uitgeruk het nie. Hulle stap reguit na 'n voertuig met 'n Suid-Afrikaanse nommerplaat toe. Die toergids het hulle ook gesien en na hulle toe gegaan en verduidelik dat niemand enigiets uit Kolmannskuppe mag verwyder nie en dat dit diefstal is. Hulle het die houtplankie op die vloer neergesit en lank by hul voertuig gestaan en gesels. Toe hulle uiteindelik met 'n spoed wegry is die stuk hout ook weg.
Ek is doodseker dit hang nou êrens in Suid-Afrika in 'n kroeg en die storie van hoe die hout in Namibië in die spookdorp gesteel is en hoe hulle amper gevang is en op die ou einde tog daarmee weggekom het, word al te lekker om die braaivleisvuur vertel, terwyl ons spookdorp en ons land se erfenis en geskiedenis stuk vir stuk weggedra word.
Sowat 63 jaar gelede het die laaste mense Kolmannskuppe verlaat en die geboue aan die elemente uitgelewer. Met my besoek 'n jaar gelede aan die dorp was die duikplank nog by die swembad soos dit agtergelaat is. Maar nou is dít ook weg. Dit het nie gebreek en in die swembad ingeval omdat die hout verouder het nie - dit is weg.
Uit die muur geruk en weggedra.
Een van die huise het nog 'n bad in die badkamer gehad. Dit was mooi in die hoek van die kamer en nog gekoppel aan die waterpype. Vandag is die bad ontkoppel en staan dit skuins in die vertrek. Hoekom moet jy 'n bad wat vir die laaste 80 jaar of langer op sy plek gestaan het, skuif en die lootgieterstelsel vernietig? Wat presies het jy, mnr. Moroon, gedink of bereik?
Ek dink daar sal vinnig iets gedoen moet word om die vandale en diewe te stop voor hulle die dorpie heeltemal verwoes en wegdra.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie