Kom kuier lekker saam

Die Lukzet Kuierfees vind op 19 en 20 April 2019 by die Lukzet Stalle plaas.
Otis Finck
Dié lekkerste familiefees in Henties ondersteun ook hierdie jaar die Namibie Boere Droogtehulp-inisiatief.

Die kuierfees begin amptelik op Goeie Vrydag (19 April) met gospelsangers Chix, Santhea, Luther, Hugo en Navad wat feesgangers gaan vermaak met musiek vanaf 16:00.

‘n Steakbraai maak ook deel uit van die dag se verrigtinge. Konsertgangers kan hulle eie steak kom kies en braai. “Rump”-steak van 400 gram sal beskikbaar wees teen N$140 en dié van 200 g teen N$60.

‘n Heerlike sous, slaai, tuisgemaakte brood en poeding is by die prys ingesluit.

Etes moet vooraf bespreek word en betalings kan by die fees gedoen word.

Daar sal ook bykomende vermaak in die vorm van ponieritte en springkastele vir die jongspan wees.

Hekgeld vir Vrydag se gospelmusiekvertoning beloop N$40 vir almal ouer as 6 jaar. Kinders onder 6 jaar het gratis toegang. Kaartjies vir die geleentheid is beskikbaar by Computicket (Usave/Shoprite/Checkers), asook by die hekke.



Die verrigtinge word voortgesit met ‘n fietsrykompetisie oor afstande van 33 km en 65 km wat om 7:30 op Saterdag 20 April sal afskop. Die 10 km-pretfietsry begin om 10:00 en ‘n 10 km-pretdraf om 8:00.

Inskrywingsgeld vir die fietsry en draf kompetisie beloop N$50 wat toegang tot die Kuierfees uitsluit.

Inskrywings moet vooraf gedoen word en aansoekvorms is beskikbaar by [email protected] of 081 585 1453. Aansoeke sluit op 19 April 2019.

‘n Groep Suid-Afrikaanse kunstenaars bestaande uit Demi Lee Moore, wenner van Die Kontrak, Dewald Wasserfall en Fatman gaan besoekers in die biertent by die fees vanaf 14:00 vermaak.

Die Suid-Afrikaners sal deur plaaslike gaskunstenaars soos Claudine Nelson, Jessica & Gert Strydom, Jo Nichol, Denise Du Toit en Jeandri Fourie ondersteun word.

Daar gaan wyn, kaas en olywe geproe word, en vele ander lekkernye sal by ‘n groot verskeidenheid stalletjies beskikbaar wees.

Hekgeld beloop N$180 vir volwassenens en N$60 vir kinders vanaf 6 to 15 jaar vir Saterdag se fees. Kinders onder 6 jaar het gratis toegang.

Alle kaartjies is beskikbaar by Computicket (Usave/Shoprite/Checkers) en die hekke.

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer